Afskeid van ’n papierkoerant

Gepubliseer: 4 Augustus 2020

1212

Beste Grootneef

Die wêreld waarvoor ons grootgemaak is, bestaan in vele opsigte nie meer nie. Die Volk se Blad was vir meer as 100 jaar deel van die Vrystaters se douvoordagroetine. Die reuk van ’n vars gedrukte koerant met kraakvars nuus sal helaas eersdaags net ’n goeie herinnering wees.

Koerante was op ’n manier die venster waardeur plaasmense tot anderkant die plaashek kon kyk. Die nuus op die draadloos het mense laat hoor wat aan die gebeur was. Die koerant het egter met foto’s, sketse en artikels vertel hóé dit gebeur het. Soms met ’n snarsie bespiegeling van wat nog aan die kom was.

Die koerant het gemaklik gepas in ’n sakkie met brood en melk – ook altyd met ’n sakpasprys wat met kleingeld opgemaak kon word.

Dit was egter nie elke dag dat ’n koerant saam met die bakkie plaas toe sou ry nie. Dié geleenthede was beperk tot die een of twee keer per week wanneer dorp toe gegaan is. Juis daarom was die koerant altyd ’n welkome gas in die plaashuis om nuus te deel.

Die lees van die koerant het soort van ’n rangorde in die huishouding bepaal. Gewoonlik is dit gesirkuleer van die oudste tot die jongste. En van daar af kombuis toe vir vensters was of om onder in die kas saam met die kastrolle te bêre. Uit dié kas het ’n voorblad dikwels as ’n zol met Boxer-twak by Koos geëindig.

Daar was nie altyd goeie nuus op die voorblad nie. Soms wou ’n mens dit nie lees nie – want dit het die skrif aan die muur bevestig. Soos die nuus van ’76 se skole-onluste wat woonbuurte laat brand het. Dié uitgawe is versigtig in ’n kas weggesluit sodat Koos dit nie dalk onder oë sou kry nie. So asof ’n koerant in ’n kas die gety van verandering sou stuit.

Effe later, ook in die ’76-seisoen, was die Volk se Blad ook die draer van die nuus dat die Vrystaat vir die eerste keer as Curriebeker-kampioen gekroon is. Ek onthou die telling wat die sportbladsye uitbasuin het – 33 vir die Vrystaat en 16 vir WP. Dit het vir die Vrystaters gevoel of die Kaap weer Hollands was.

Die Volk se Blad het met elke seisoen die slegte en die goeie nuus met reëlmaat gedeel. Van die NP en KP wat baklei het dat die stof so staan, oor die manne op die grens en van koue fronte, droogtes en goeie oeste. Van die groot verkiesing in ’94 en die presidente wat daarna die pas aangegee het…of dit markeer het. En vanjaar, in 2020, oor die Groot Negentien wat die mensdom se verstaan van hoe die wêreld werk, deurmekaar kom krap het. Kwalik ses maande terug sou jy dit nie in ’n bank gewaag het met ’n masker op nie. Nou is toegang tot elke bank taboe as jy nié ’n masker op het nie. En ’n droë kuggie help jou sommer in ’n japtrap tot voor in die tou.

Ou Neef, vandag se jong mense leef anders. Papier en lang artikels is vervelig. Dit moet kort sinne wees – verkieslik met ’n video om die aandag te hou. Op TikTok-styl met musiek in die agtergrond. Anders gly hulle bloot by die berig verby.

Die wonderwêreld van gedrukte nuus tussen ’n voor- en ’n agterblad maak nie meer saak vir die generasie Z nie. Want vanoggend se hoofstorie op die voorblad was gisteraand al op Vleisboek.

Gelukkig het Media24 se mense tydig ’n tree die virtuele ruimte in gegee. Dalk ’n klein treetjie vir wêreldburgers, maar ’n reusesprong vir almal wat van papier en koerante gehou het. Om steeds vars nuus in die soetste taal op ’n slimfoon raak te lees, bly egter ’n voorreg, al moet ons die ding se gesig streel om om te blaai.

Groete op die oosgrens.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.