Graanwaardeketting se waarde

Gepubliseer: 12 Junie 2020

2690

Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

18/05/2020

Die graanbedryf in Suid-Afrika speel nie net ’n belangrike rol in die plaaslike landbou-ekonomie nie, maar het ook ’n noemenswaardige impak op die breër ekonomie in Suid-Afrika. Grane soos mielies en koring is ’n belangrike stapelvoedsel vir ’n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking, wat op ’n daaglikse basis daarvan afhanklik is vir oorlewing.

Alhoewel primêre produksie, as beginpunt van die ketting, ’n baie belangrike rol speel, is die res van die waardeketting ewe belangrik om waarde tot die primêre produk te voeg en dus ’n bemarkbare produk daar te stel vir die verbruiker om te koop. Deur die hele proses – vanaf primêre produksievlak tot en met die eindproduk wat op die winkelrak beland – is daar verskeie skakels in die ketting wat elk in eie reg waarde toevoeg om die finale produk te verseker.

Verbruik van mielies en koring
Dit is belangrik om vas te stel waarvoor die verskillende gewasse aangewend word om te bepaal deur watter prosesse die produk vanaf primêre produksievlak tot en met die finale produk in die graanwaardeketting loop. Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) maak op ’n maandelikse basis die produkinligting van grane en oliesade bekend. Hierdie inligting dui aan hoeveel van die verskillende graan- en oliesaadprodukte vervaardig word. Grafiek 1 toon die persentasie produkte wat verkry word vanaf mielies wat vir menslike voedseldoeleindes verwerk word en sluit beide wit- en geelmielies in. Mieliemeel is die grootste produk wat vervaardig word uit mielies vir menslike verbruik en maak 57% van die totaal uit. Mieliesemels, ’n byproduk wat verkry word wanneer mielies gemaal word vir mieliemeel, maak 33% van die produk wat verkry word uit. Die res van die produkte sluit mielierys, mieliegruis (grits) en stampmielies in, wat ongeveer 9% van die totaal uitmaak.

Grafiek 1: Samestelling van produkte verkry wanneer mielies vir menslike voedseldoeleindes verwerk word.
Bron: SAGIS

Daar is verskillende tipes mieliemeel wat algemeen vervaardig word. Supermieliemeel is die meer algemene tipe en dit maak ongeveer 84% van die totale mieliemeel wat vervaardig word uit. Spesiale mieliemeel maak ongeveer 13% uit, terwyl ander mieliemeel die balans opmaak. Grafiek 2 is ’n uiteensetting van die mieliemeelsamestelling wat in Suid-Afrika vervaardig word.

Grafiek 2: Samestelling van mieliemeel wat in Suid-Afrika vervaardig word.
Bron: SAGIS

In terme van koring maak broodmeel en koekmeel die grootste persentasie van die produkte uit wat verkry word wanneer koring gemaal word vir menslike voedseldoeleindes – onderskeidelik 48% en 27%. Koringsemels is ’n byproduk wat verkry word wanneer koring gemaal word en dit maak ongeveer 20% van die totaal uit. Ander koringprodukte wat verkry word, maak ongeveer 5% van die totaal uit
(Grafiek 3).

Grafiek 3: Samestelling van koringprodukte wat verkry word wanneer koring vir menslike voedseldoeleindes verwerk word.
Bron: SAGIS

Waardebepaling
Die rol wat die graanwaardeketting in die plaaslike ekonomie speel, is enorm, gegewe die feit dat grane en oliesade so ’n belangrike gedeelte van die voedselwaardeketting vorm. Nie net vorm dit deel van die stapelvoedsel vir baie Suid-Afrikaners nie, maar dit maak ook ’n groot gedeelte uit van ander bedrywe in die landbousektor, soos byvoorbeeld die lewendehawebedryf. Dit laat die graanbedryf, as primêre inset van verskillende bedrywe asook ’n groot gedeelte van die stapelvoedsel in Suid-Afrika, met ’n geweldige vermenigvuldigereffek.

Om die werklike waarde van dié effek deur die waardeketting te bepaal, is daar baie meer spesifieke inligting nodig van die verskillende skakels in die ketting. Met die huidige beskikbare SAGIS-produkinligting en die maandelikse pryse wat deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekendgemaak word, kan die bruto waarde van sommige van die mielie- en koringprodukte bereken word. SSA maak op ’n maandelikse basis die winkelrakpryse van beide super- en spesiale mieliemeel, asook brood- en koekmeel en brood bekend.

Hierdie pryse tesame met die maandelikse SAGIS-produkinligting kan gebruik word om ’n winkelrakwaarde van die produkte te bereken.

Grafiek 4 toon die jaarlikse gemiddelde winkelrakwaarde van mieliemeel, koringmeel en brood aan. Die jaarlikse waarde van hierdie produkte beloop ongeveer R28 miljard, R27 miljard en R21 miljard onderskeidelik. Dit is gebaseer op die kwantiteit wat per maand vervaardig word en die winkelrakpryse soos deur SSA bekendgemaak. Grafiek 4 dui ook die gemiddelde bruto produksiewaarde per seisoen aan van mielies en koring wat vir menslike voedseldoeleindes verwerk word. Die gemiddelde bruto produksiewaarde daarvan is R13 miljard en R14 miljard onderskeidelik.

Grafiek 4: Bruto winkelrakwaarde van mielie- en koringprodukte per jaar asook bruto produksiewaarde van mielies en koring wat vir menslike voedseldoeleindes verwerk word.
*Super- en spesiale mieliemeel
**Brood- en koekmeel ***700 g-wit- en bruinbrood
Bron: SAGIS, SSA en eie berekeninge

Ten slotte
Die waarde van die graanwaardeketting is tweeledig. Dit lê hoofsaaklik in die transformasie en waardetoevoeging vanaf die primêre kommoditeit tot en met die produk wat aan die eindverbruiker verskaf word. Die ander belangrike gedeelte is die vermenigvuldigereffek met elke skakel wat bydra tot die land se ekonomiese aktiwiteit en werkskepping. Alhoewel die waardebepaling weens ’n reeks faktore nie 100% akkuraat is nie, gee dit steeds ’n goeie aanduiding van die waarde wat by die primêre produk gevoeg word totdat die finale produk op die winkelrak geplaas word. Dit is noodsaaklik dat die waardeketting so doeltreffend as moontlik is om te verseker dat daar nie onnodige koste in die proses is wat die eindproduk vir die verbruiker te duur maak nie.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.