Gehaltebeheer op chemikalieë van strengste ter wêreld

Gepubliseer: 6 Mei 2020
Elriza Theron, bemarkings- en kommunikasiebestuurder, CropLife SA

1960

Gewasbeskerming speel ’n deurslaggewende rol in landbouproduksie, hetsy chemies of biologies. Produsente spandeer baie tyd, moeite en geld om veilige en gesonde gewasse te verseker.

Natuurlik sal ’n produsent dieselfde toewyding aan gehalteversekering verwag in die vervaardiging van die einste landbouchemikalieë wat gebruik word om hierdie gewasse te beskerm. Gelukkig is daar ’n verskeidenheid kontroles in plek om die beste moontlike produkte vir die produsent te waarborg.

Dit is belangrik om te verstaan hoe aktiewe bestanddele ontwikkel word. Hierdie molekules, of groep molekules, word nie per ongeluk ontdek nie. Hulle is presies ontwerp vir ’n spesifieke doel – met ander woorde, om ’n spesifieke plaag of onkruid te bestuur. Wetenskap word gebruik om te verseker dat hierdie aktiewe bestanddele doeltreffend, maklik om te gebruik en koste-effektief vir die produsent is. Daarbenewens moet dit natuurlik ook veilig vir operateurs, verbruikers en die omgewing wees. Wetenskaplikes gebruik genomika, fisiologie en biochemie om seker te maak dat die molekules presies doen wat nodig is. Oor die jare het wetenskaplikes daarin geslaag om die hoeveelheid plaagdoder wat nodig is om ’n spesifieke probleem op te los, dramaties te verminder – van meer as 10 kg/ha in die 1960’s tot minder as 10 g/ha in sekere gevalle.

Ten einde ’n aktiewe bestanddeel se doeltreffendheid en veiligheid te verbeter, word sekere verbindings bygevoeg wat die formulering van die produk opmaak. Die formulering kan gesien word as die leweringstelsel en verminder die toksisiteit en onbestendigheid van die gewasbeskermingsproduk. Daar is verskeie oorwegings in die keuse van bestanddele, soos bioafbreekbaarheid, of die rou materiaal van hernubare bronne gemaak is, sowel as die gemak waarmee die produk toegedien kan word.

Uit die aard van die saak is dit ’n baie lang en duur proses. Tipies spandeer die gewasbeskermingsbedryf $50 elke minuut vir ’n tydperk van elf jaar (die gemiddelde tyd wat dit neem om ’n nuwe plaagdoder op die mark te bring) om hierdie produkte vir produsente te ontwikkel. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die styging in volume en kompleksiteit van data wat deur regulatoriese liggame vereis word om te verseker dat produkte veilig en doeltreffend is. Die regulatoriese proses stop egter nie daar nie en duur voort selfs nadat magtiging verkry is.

Foto: CropLife SA

CropLife Internasionaal en sy lede het saam met produkintegriteitskundiges ’n dokument oor kontaminasievoorkoming in die vervaardiging van gewasbeskermingsprodukte ontwikkel. Alle CropLife Internasionaal-lede moet hieraan voldoen. Dié dokument, wat die bedryfstandaard vorm, omskryf bestepraktykriglyne in alle vervaardigingstappe ten einde die risiko van kontaminasie van gewasbeskermingsprodukte tydens die vervaardigingsproses te bemiddel. Dit dek elemente van risiko-assessering, onsuiwerhede, skoonmaakvlakbepaling, vervaardigingspraktyke, skoonmaak van produksie-eenhede en ontleding van residue.

Die magtigingsproses vir gewasbeskermingsprodukte is een van die strengste ter wêreld en meer as 150 veiligheidstudies word op elke moontlike produk gedoen voor kommersiële gebruik goedgekeur word.

In Suid-Afrika behoort alle ingevoerde produkte ná invoer geanaliseer te word om die gehalte te bepaal. Produkte wat plaaslik vervaardig word, word ook aan hierdie gehaltebeheertoetse onderwerp. ’n Produk moet geregistreer wees volgens die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947). Die vereistes word gestel in Artikel 7 (1) van die wet en word verder ondersteun deur die feit dat die Registrateur van Wet 36 enige ander voorwaardes mag stel voordat ’n aansoek om registrasie goedgekeur word.

Van hierdie vereistes sluit die volgende in:

  • ’n Analise van die aktiewe bestanddeel se bron moet vir vyf lotte bekom word om seker te maak die standaard is aanvaarbaar.
  • Die aktiewe bestanddeel moet in ’n geskikte samestelling met ander koformulante geformuleer word en die formulasie-aanleg moet ook deur die registrateur goedgekeur word.
  • Middels se raklewe moet bepaal word. Maatskappye stel die geformuleerde landboumiddel aan versnelde raklewetoetse bloot, waarna alle fisiese en chemiese eienskappe getoets word. As die middel al die toetse slaag, word ’n tweejaarraklewe ingevolge die regulasies toegeken.
  • Veldproewe oor minstens twee groeiseisoene en in ten minste twee verskillende klimatologiese streke moet gedoen word om te bewys dat die middel ten minste 80% van die pes, siekte of onkruid beheer.
  • Daar word ook residuproewe gedoen met die korrekte dosis, sowel as twee maal die dosis, om te bepaal wat die aanvaarbare residu sal wees na die oesinterval.
  • ’n Baie belangrike vereiste is om te bewys dat geen gewasskade aangerig word as die landboumiddel met die regte toedienings­apparaat en teen die korrekte dosis aangewend word nie.

Die meeste vervaardigers het ISO 14001- en 9001-sertifisering en doen selfs addisionele gehalte-ontledings na produksie. Vervaardigers moet ook ’n lisensie hê om gevaarhoudende stowwe te lewer, wat deur die Wet op Gevaarhoudende Stowwe, 1973 (Wet Nr. 15 van 1973) uitgereik is. Al hierdie maatreëls ondersteun die oorspronklike rede vir die ontstaan van Wet Nr. 36 van 1947, naamlik om te verseker dat die plaagdoders wat vervaardig en versprei word, die nodige doeltreffendheid het om peste, plantsiektes en onkruid te bestuur, tot voordeel van produsente.