Laer dieselprys kan stroop en plant ‘n hupstoot gee

Gepubliseer: 5 Mei 2020

1545
Corné Louwsenior ekonoom, Graan SA corne@grainsa.co.za

Die ruolieprys het die afgelope paar maande skerp gedaal as gevolg van ’n skeuring in die Opul-kartel (Organisasie van Petroleumuitvoerlande) onder leiding van Saoedi-Arabië en Rusland asook ’n swakker wêreldvraag as gevolg van die koronavirus. Dat pryse nog kan daal of selfs vir lank op hierdie vlakke bly, is bykans ondenkbaar.

Die ruolieprys het vanaf Januarie 2020 tot Maart 2020 met 45% gedaal. Die rand het oor dieselfde tydperk met 16% verswak teenoor die dollar. Alhoewel dié verswakking in die wisselkoers die daling in die ruolieprys tot ’n mate teengewerk het, het die plaaslike groothandelsprys van diesel in April met 134 sent per liter gedaal. Grafiek 1 dui aan wat sedert 2010 op ’n maandelikse basis met die Brent-ru­olieprys en die wisselkoers gebeur het.

Grafiek 1: Brent-ruolieprys en rand/dollar-wisselkoers.

Diesel maak ongeveer 12% van ’n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste uit. Hierdie daling in die dieselprys behoort dus ’n groot impak te hê op strooptyd in die somergraanproduksiegebiede asook in die wintergraangebiede waar produsente aan die plant is.

Prys van diesel
Die groothandelsprys van diesel in April 2020 het op R12,70 per liter gestaan – die laagste dieselprys sedert Maart 2018 en 15% laer as dieselfde tyd verlede jaar.

Wanneer na die samestelling van dié prys gekyk word, is dit duidelik dat 41% van die R12,70 uit die werklike brandstofkoste (invoerprys van diesel) bestaan, terwyl heffings en belastings 59% uitmaak. Die grootste gedeelte (76%) van die heffings en belastings bestaan uit die algemene brandstofbelasting en die Padongelukkefondsheffing.

Heffings en belastings wat die groothandelsprys van brandstof in Suid-Afrika opmaak, word gereguleer. Grafiek 2 toon die samestelling van die groothandelsprys van diesel in April 2020.

Grafiek 2: Samestelling van die groothandelsprys van diesel in April 2020.

Dieselrabat vanaf April 2020
Die dieselrabat waarvoor produsente kwalifiseer, bestaan uit 40% van die algemene brandstofbelasting en 100% van die Padongelukkefondsheffing.

In Februarie 2020 het die Minister van Finansies aangekondig dat die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefondsheffing in April met 16 sent per liter en 9 sent per liter onderskeidelik sou toeneem. Dit het meegebring dat die dieselrabat vanaf 333,6 sent per liter na 349,0 sent per liter in April 2020 toegeneem het – vir 80% van regmatige gebruik. Vir April 2020 het die dieselrabat 27,5% van die groothandelsprys van diesel uitgemaak. Grafiek 3 toon hoe die dieselrabat oor tyd toegeneem het.

Grafiek 3: Dieselrabat: toename oor tyd.

Verantwoordelikheid
Dit is duidelik dat ondanks die feit dat heffings en belastings toeneem, die dieselrabat ’n noemenswaardige deel daarvan uitmaak. Die landboubedryf moet die dieselrabat met die nodige omsigtigheid hanteer en ten alle tye beskerm – dit is van die min ondersteuningsmaatreëls wat landbouers wel ontvang.

Vir meer inligting oor die hantering van die dieselrabat en aktiwiteite wat daarvoor kwalifiseer, besoek Skedule 6 (deel 3) deur op die QR-kode te klik.

Wenke:

  • Eis die dieselrabat op grond van verbruik en nie op aankope nie.
  • Hou volledig boek van dieselgebruik op die plaas (vanaf die hoofverspreidingspunte):
        • Die datum waarop diesel ingegooi is.
        • Hoeveelheid diesel wat ingegooi is.
        • Gee ‘n beskrywing van die voertuig.
        • Verskaf ‘n duidelike beskrywing van die rede waarvoor die diesel aangewend is.