’18 se Groot Griep

Gepubliseer: 17 April 2020

77

Beste Grootneef

Oupa het soms vertel van ’18 se Groot Griep. Dit was ’n snerpende winter. Die suidewind het egter nie net kapok oor die vlaktes gejaag nie, maar ook ’n ongenaakbare griep oor die Suidland gestrooi.

Die engel van die dood se sens het sonder aansien des persoon geswaai. Eers in Spanje en mettertyd het die Groot Griep oor die hele wêreld versprei. Niemand is ontsien nie – met babas, grootmense en oumense wat ontval het.

So ook in die distrik waar oupa gewoon het. Met die koors wat wyd versprei het, wou mense oor tyd nie meer begrafnisse bywoon nie, uit vrees dat hulle aangesteek sou word. Baie familielede is in daardie tyd op die plaas in die familiekerkhof begrawe, met min of geen roubeklaers uit die distrik.

Mense het vereensaam op hul plase en in hul huise. Wanneer iemand wel ’n opstal besoek het, is op ’n veilige afstand geroep om te hoor of iemand nog daar is – maar mense wou nie meer in mekaar se huise ingaan nie. Dit was voor die tyd van telefone of plaaslyne. ’n Vinnige oproep om te hoor hoe dit op die plaas langsaan gaan, was dus nie moontlik nie. Dit was ook voordat motorkarre ’n algemene gesig op paaie was. ’n Man te perd of ’n perdekar was die skakel tussen plaasopstalle en die gemeenskap wat op die dorp gebly het.

Omdat mense kontak met mekaar vermy het, het die gewoonte ontstaan om ’n nota en ’n negosielys onder ’n groot klip by die plaashek te los. Daarmee saam, ’n paar ponde, sjielings of pennies. Wanneer ’n ruiter of ’n perdekar dan dorp toe móés gaan, is by plaashekke aangedoen om uit te kyk vir ’n nota van hoe dit gaan en wat uit die dorp benodig word. Die negosielys is dan saamgeneem na die winkelier, waar vinnig en skugter besigheid gedoen is.

Met die negosie verpak en die kleingeld uitgekeer, was dit tyd vir die terugtog plaas toe. Elke buurman se pakkie negosie is by die hek geplaas, dikwels met huismense wat op ’n afstand staan en wag het op die kosbare kleinood uit die dorp. Nuus is dan op ’n veilige afstand gedeel en dan is die ruiter of perdekar weer vort na die volgende plaas se groot klip om die kosbare pakkie daar te laat.

Soms was die geldjie wat saam met die negosielys gelaat is, te min. Die winkelier het dan met groot geduld die oorlaatskuld in die boek opgeskryf. Met nagedagte moes dit nogal baie moed gekos het om só besigheid te doen – want die winkelier het nie geweet of die skulde ooit betaal sou word nie.

Wat ’n treurige tyd was dit nie! Baie gesinne kon nie hul hartseer deel nie en moes geliefdes in afsondering groet en begrawe. Net die taaistes het oorleef en mettertyd weer met mekaar kontak gemaak en stories gedeel. Baie gesinne is egter deur die Groot Griep van 1918 geraak.

Dit het bykans 100 jaar geneem vir die “groot griep” om weer in ’n Chinese gedaante die lig te sien. Van daar is dit met reisigers uit die Ooste, eers na Italië en toe tot in Egipte en Kanada. Daarna was daar geen keer nie, met gevalle wat daagliks oor die wêreld aangeteken word. Ook by ons in die Suidland.

Mense begin, soos ’n eeu terug, om in afsondering te leef. Met gesigmaskers as troos – asof dit die engel van die dood sal keer. Die wêreld het egter kleiner geword. Mense wéét nou van mekaar se moeilikheid. Dit is nie meer nodig vir ’n eensame ruiter om by plaasopstalle aan te gaan en op ’n afstand nuus te deel nie. Die internet loop dag en nag en wêreldwyd met nuus van wat aan die gebeur is.

Só word nuus gedeel van skeepshouers wat in Chinese hawens ophoop, omdat niemand dit aflaai nie. Van plesierbote wat oornag tronke word, omdat hulle nêrens kan vasmeer nie. Van Chinese stede wat spookdorpe word met ysere beheer om te keer dat niemand die stad verlaat nie. Van wedstryde wat in leë sportstadions gespeel word. Van tronke in Italië wat in opstande ontplof, omdat besoeke afgestel word. Van wêreldmarkte wat tuimel en keuraandele wat oornag hul waarde verloor. Van vlugte wat afgestel word, omdat sekere bestemmings die risiko van die nuwe koors bied. En mense deur die wêreld wat noodvoorraad opgaar, omdat hulle bang is vir ’n Corona.

Ek en Buurman het gister by die gebruiklike hoekpaal staan en kuier. Buurman vertel toe van die goeie nuus dat viroloë oor die wêreld saamwerk vir ’n kuur. En dat dit binne 18 maande aan die mensdom beskikbaar behoort te wees.

Buurman se vraag bly egter in my gedagtes maal. Sal die nuwe koors so wyd in die Suidland begin loop dat hulle hier by ons ook mense binne gaan hou? En sal NAMPO vanjaar moontlik wees?

Groete op die Oosgrens.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.