Kwantifiseer impak van swakker WM-grade

Gepubliseer: 28 Oktober 2020

2113
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA

28 Oktober 2020 – Witmielies speel ’n belangrike rol in die plaaslike konteks, aangesien dit as stapelvoedsel vir ’n groot deel van die land se bevolking dien.

Die meeste plaaslik verwerkte witmielies word gemaal tot mieliemeel wat hoofsaaklik in die menslike voedselmark versprei word. Witmielieverwerking vir menslike voedselverbruik het veral die afgelope drie jaar skerp toegeneem, wat grootliks toegeskryf kan word aan die swakker ekonomiese toestande wat in die land heers. Die swak ekonomie plaas verbruikers onder druk en hulle beweeg dan terug na styselgebaseerde diëte omdat dit per porsie goedkoper as ander voedselbronne uitwerk.

Gradering oor tyd
Suid-Afrika is nog altyd bekend vir die uitsonderlike kwaliteit van die graan wat hier geproduseer word. Plaaslik geproduseerde witmielies is van uiters goeie kwaliteit en is besonder geskik vir mieliemeelvervaardiging. Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) maak op ’n weeklikse basis die produsentelewerings van mielies per graad bekend. Grafiek 1 toon die persentasie WM1-lewerings (eerstegraadlewerings) per seisoen van witmielies sedert die 2009/2010-seisoen. Dit is duidelik uit dié inligting dat hoog in die 90% van die Suid-Afrikaanse witmielie-oes meestal bestegraad-mielies is.

Grafiek 1: Jaarlikse persentasie eerstegraad-witmielies (WM1) gelewer.
*Jaar tot datum
Bron: SAGIS

Die afgelope twee tot drie seisoene was egter uitskieters, met swakker grade wat gelewer is. Alhoewel daar ’n tendens van swakker grade oor die afgelope drie seisoene is, is dit steeds onseker oor presies wat die swakker grade wat gelewer word, veroorsaak. Aanplantings in die laaste drie seisoene het met moei­te plaasgevind in die grootste witmielieprodu­se­rende gebiede – wat hoofsaaklik die sentraal tot Wes-Vry­staat en Noordwes insluit. Groot gedeeltes van die mielies is ná die optimale plantvenster aangeplant, wat ’n korter groeiseisoen tot gevolg gehad het. Die reënseisoen was boonop later as normaal en produ­sente het nog tot in strooptyd reën ontvang in hierdie gebiede. Die laat reën kon definitief ook bydra tot die toename in probleme van kwaliteit en graad wat ervaar is.

Grafiek 2 toon die huidige seisoen se lewerings per graad per week teenoor die driejaar- gemiddelde lewerings per graad per week. Alhoewel daar sedert die aanvang van die bemarkingsjaar oor die algemeen minder WM1 per week gelewer is, het die pro­bleem vanaf week 15 begin vererger. Die gemiddelde jaar-tot-datum-lewerings van WM1 is ongeveer 94%, terwyl die gemiddelde jaar-tot-datum-lewering vir die huidige seisoen slegs 84% is. Die swakker grade wat gelewer is, het begin deursyfer soos die stroopproses in sekere gedeeltes van die land gevorder het. In dele van die Wes-Vrystaat en Noordwes was die probleem aansienlik groter as in ander gedeeltes van die land. Dit het ’n ooraanbod van swakker grade in hierdie areas geskep, wat die prysdiskonto’s tussen die swakker grade negatief beïnvloed het. Dit het weer ’n impak op die produsente se inkomste gehad, aangesien die pryspremies in sekere gevalle uitsonderlik hoog was.

Grafiek 2: Persentasie WM1 gelewer per week (2020/2021-seisoen versus driejaargemiddeld).
Bron: SAGIS

Ten slotte
Die afgelope twee tot drie seisoene het uitdagende toestande ingehou met weerstoestande wat glad nie as normaal beskou kan word nie. Dit het ’n impak op produksie gehad, wat gestrek het vanaf lae opbrengste tot – in sekere gevalle – rekord­opbrengste.

Seisoene is omvergegooi met aanplan­tings asook die stroopproses wat aansienlik later as normaal plaasgevind het. Dit is duidelik uit die inligting wat vanaf SAGIS verkry word dat daar die afgelope twee tot drie seisoene aansienlik meer laer grade as normaal gelewer is. Die werklike oorsaak van hierdie verskynsel is egter steeds onduidelik en dit is moeilik om met sekerheid vas te stel of dit as gevolg van klimaatstoestande of ’n genetiese probleem is.

Die gradering van mielies en die werklike impak van die swakker grade word op verskillende gespreksforums bespreek. Alhoewel die probleem in die huidige seisoen groter as normaal is en die gesprekke dus hierdie seisoen baie meer intens plaasvind, is dit van kardinale belang dat die werklike impak gekwantifiseer moet word sodat be­sluite op feitlike bevindinge geneem kan word. Die werklike oorsaak van die pro­bleem moet sodanig hanteer word dat seisoenale af­wykings die bedryf nie in die toekoms sal lamlê omdat emosionele besluite tydens swakker jare geneem is nie.

Klik hier vir ’n kort video waarin Luan van der Walt met dr Sierk Ybema, plantfisioloog en onafhanklike graanspesialis, gesels oor die uitdagings in die witmieliemark wat gradering betref.