Kultivarevaluasie doen voetwerk vir produsente

Gepubliseer: 25 Februarie 2020
Dr Annelie Barnard, LNR-Kleingraan, Bethlehem

1954

Die afgelope seisoen was seker een van die moeilikste koringseisoene wat hedendaagse produsente nog beleef het. Grafiek 1 wys waarom koringprodusente in die Oos-Vrystaat sulke lae opbrengste behaal het. Die reënval wat in die kritieke periode van koring se ontwikkeling moes voorkom, was weglaatbaar min (in totaal slegs sowat 3 mm).

Grafiek 1: Junie- tot Oktober-reënvalsyfers in Bethlehem – jaar op jaar van 1951 tot 2019.
Bron: LNR-GKW Databasis

Alhoewel die Oos-Vrystaat tradisioneel gesien is as die broodmandjie van Suid-Afrika en daar tans ’n magdom uitstekende kultivars is om van te kies, word daar deesdae maar baie min koring hier geproduseer. Die Wes-Kaap dra tans amper 45% by tot die totale Suid-Afrikaanse koringproduksie, terwyl die besproeiingsgebiede die ander grootste gedeelte uitmaak. ’n Baie klein persentasie van die totale produksie word deur koring onder droëlandtoestande in die somerreënvalgebied bygedra.

Proewe in die Oos-Vrystaat (Bethlehem-omgewing).

Met koringproduksie wat die laaste tyd so swaar trek in Suid-Afrika, is LNR-Kleingraan se Nasionale Kultivarevaluasieprogram (NCEP) steeds een van die belangrikste programme in die koringindustrie. Met hierdie program, waar alle beskikbare kommersiële koringkultivars van al die saadmaatskappye op ’n objektiewe en wetenskaplike manier vir aanpasbaarheid, opbrengs en kwaliteit geëvalueer word, doen LNR-Kleingraan die voetwerk vir produsente. In hierdie program word die kultivars in dieselfde proef geplant, sodat produsente hulle baie maklik met mekaar kan vergelyk. Daar is drie afsonderlike evaluasieprogramme, wat spesifieke kultivars in elk van die drie produksiestreke evalueer.

Dit is vir enige produsent ’n onbegonne taak om ’n keuse te maak tussen al die kultivars wat in ’n streek aanbeveel word, as hy nie inligting oor hierdie kultivars het nie. Gelukkig word hierdie resultate vroeg in die seisoen reeds bekend gestel deur middel van verskeie publikasies in die media, sodat produsente al die inligting tot hulle beskikking het voordat hulle ’n besluit hoef te neem.

Koring is ’n uiters veelsydige gewas met ’n baie wye aanpassing. Dit kan ewe suksesvol verbou word onder droëlandtoestande as onder besproeiing. In Suid-Afrika word koring aangeplant van bo in Limpopo tot onder in die Suid- en Wes-Kaap. Daarom word die NCEP nasionaal uitgevoer in al die koringproduserende streke – daar is gedurende die 2019-seisoen sowat 82 proewe by 68 verteenwoordigende lokaliteite in die verskillende koringproduserende gebiede van Suid-Afrika geplant.

Bedryfsverteenwoordigers evalueer data
Aan die einde van elke seisoen vergader almal wat betrokke is by koringproduksie in Suid-Afrika om die data van die vorige seisoen te evalueer en te bespreek. Hierdie groep bestaan uit kundiges in die bedryf en verteenwoordigers van al die saadmaatskappye, Graan SA, die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch, SANSOR, SABBI, die onderskeie departemente van landbou asook ander rolspelers. Die doel van hierdie vergadering is om te verseker dat die proewe wetenskaplik uitgevoer is en dat die data objektief en korrek weergegee word.

Hierdie komitee het weer op 5 Februarie 2020 op Bethlehem bymekaargekom om die resultate te bespreek en aanbevelings vir die volgende seisoen op te dateer. Van die bedryfsverteenwoordigers wat die vergadering bygewoon het, is:

Voor: Richard Taylor (LNR-Kleingraan), Hellen Mopeli (LNR-Kleingraan), dr Nthabiseng Motete (LNR-Sentrale kantoor), Cornel Bender (Universi­teit van die Vrystaat) en dr Maryke Craven (LNR-Kleingraan).
Middel: Eddie Goldschagg (SANSOR), Jolanda Nortjé (SAGL), dr Willem Boshoff (Universiteit van die Vry­staat), Pieter Craven (Sensako), André du Toit (Pannar) en dr Toi Tsilo (LNR-Kleingraan).
Agter: Kamohelo Makuoane (LNR-Kleingraan), Willem Kilian (LNR-Kleingraan), dr Robbie Lindeque (LNR-Kleingraan), Stephan de Groot (Sensako), dr Tarekegn Terefe (LNR-Kleingraan), Kobus van Huyssteen (SANSOR) en Fanie Yssel (K2).