Kanolapaspoort – van produsent tot verbruiker

Gepubliseer: 25 Februarie 2020
Kellie Becker, besturende direkteur, SOILL

2853

Die wêreld- en plaaslike voedselindustrie ervaar die ontwrigtende en verlammende effek van klimaatsverandering intens. Al hoe meer verwoestende brande breek uit en die wurggreep van droogte het ’n groot impak op voedselvoorrade. Voedselveiligheid is belangriker as ooit en dit is noodsaaklik om ’n land se voedselvoorsiening te beskerm. Daarom is dit nodig dat laasgenoemde deur middel van wetenskaplik gebaseerde beginsels gereguleer en gemonitor word.

Voedselmaatskappye raak al meer bewus van hierdie uitdagings en het dus begin soek na innoverende maniere om hulle voedselveiligheidsprosedures aan te pas en strategieë vir volhoubaarheid in plek te stel.

Die impak op die verbruiker
Voedselhandel het ’n groot impak op die gesondheid van die verskillende bevolkings en ekonomieë regoor die wêreld. Voedselveiligheidstandaarde en -regulasies is dus noodsaaklik om te verseker dat alle voedsel veilig is – dwarsdeur die voorsieningsketting vir nasionale én internasionale handel.

Wat die landbou-industrie betref, is dit belangrik om te verseker dat voedselveiligheidsprosedures en -maatreëls in plek is. Dit begin reeds met die plant van die gewas en moet daarna deurlopend streng gevolg word.

Southern Oil se rol
Southern Oil (Edms.) Bpk. (SOILL) is die grootste verwerker van kanola in Suid-Afrika en het ongeveer 500 plaaslike produsente wat aan hulle kanolasaad voorsien. SOILL beskou die produsente as hulle grootste bate en ag hul onderlinge verhouding en wisselwerking om saam voedselveiligheidsprosedures te implementeer, baie hoog.

SOILL het sewe jaar gelede ’n kanolapaspoortsisteem ontwikkel, wat dien as ’n dokument waarin die produsent alle landbou­chemiese middels wat toegedien word gedurende ’n groei­seisoen, verklaar. Die dokument bevat ook inligting oor wanneer die landbou­chemiese middels toegedien is, lotnommers, kultivars aangeplant, dosisse toegedien asook ander relevante inligting oor die betrokke chemiese middel(s). Aflewering van kanolasaad by aangewese leweringspunte is onderhewig aan die inhandiging van ’n volledig voltooide kanolapaspoort. Geen lewerings word toegelaat sonder die inhandiging en goedkeuring van só ’n paspoort nie.

Goeie samewerking tussen produsente en ander rolspelers in die industrie is van groot belang. SOILL is heeltemal toegewy aan die kanolabedryf en doen alles in sy vermoë om die bedryf volhoubaar te laat groei. Dit is slegs moontlik as die verbruikers van kanolaprodukte volkome gemoedsrus kan hê oor die veiligheid daarvan asook as alle rolspelers in die voorsieningsketting verantwoordelik met die omgewing en beperkte hulpbronne omgaan. Alhoewel die kanolapaspoortsisteem ’n bietjie ekstra administrasie van alle betrokke partye vereis, is dit van onskatbare waarde en behoort dit verpligtend te wees vir alle gewasse om volhoubare produksie van veilige voedsel te verseker.

Uitdagings van die kanolapaspoort
Om verwarring oor watter landbouchemiese middels as geregistreer op kanola in Suid-Afrika beskou word, uit te skakel, word ’n paspoort en ’n lys met geregistreerde landbouchemiese middels (wat maandeliks opdateer word) op ’n gereelde basis aan produsente gekommunikeer. SOILL se landboukundige adviseurs skakel deurentyd met produsente en landbouchemiese maatskappye om die verantwoordelike en regmatige gebruik van landbouchemiese middels aan beide partye aan te beveel.

Kanola word egter in Suid-Afrika as ’n nisgewas beskou en daarom word daar nie baie tyd en koste aan die tydige en geredelike beskikbaarheid van landbouchemiese middels vir aanwending teen peste, plae en/of onkruid op die gewas spandeer nie. Produsente was die afgelope seisoen van mening dat daar nie produkte beskikbaar was nie, wat hulle geforseer het om ongeregistreerde middels toe te dien. Die tydige beskikbaarheid van produkte was ook ’n probleem en het tot die aanwending van ongeregistreerde alternatiewe met dieselfde werking gelei. Ongeregistreerde, generiese produkte wat dieselfde chemiese aktief bevat as geregistreerde produkte en teen ’n goedkoper prys aangekoop kan word, is populêr onder produsente wat onder druk van stygende koste en laer opbrengste vanweë die droogte verkeer. Die feit dat ‘n produk dieselfde aktief gebruik, beteken nie dat formulasie, aanwending en onthoudingsperiodes ooreenstem nie.

Oor die algemeen dien kanola as ’n klein komponent van ’n enorme gewasrotasiestelsel (met koring, gars, ensovoorts) op ’n plaas en daarom kan onduidelikheid onder produsente ontstaan oor watter middels as geregistreer of ongeregistreer op kanola, koring of gars aanvaar word. Landbouchemiese produkte word geregistreer onder handelsname en elke produk spesifiseer teen watter teikenpes, -plaag of -onkruid asook teen watter dosis die produk toegedien mag word. Daar word ook gespesifiseer watter onthoudingsperiodes gevolg moet word. Indien ’n handelsnaam nie spesifiseer dat die produk toegedien kan word op kanola, oliesade of Brassicae nie, is die produk nie geregistreer vir gebruik op kanola nie. Indien ’n produsent ’n produk aanwend teen ’n ongespesifiseerde teikenpes, -plaag of -onkruid (volgens die etiket) of die produk toedien teen ’n ongespesifiseerde dosis, word die toediening as onregmatig beskou. Dit is elke produsent en sy betrokke landbouchemiese verteenwoordiger se persoonlike verantwoordelikheid om op datum te bly van die lys van geregistreerde middels op kanola, asook om die etikette se spesifikasies te volg. In gevalle waar daar ’n behoefte is aan sekere produkte, wat tans nie geregistreer is nie, kan dit aangemeld word sodat dit, in samewerking met Graan SA, deurgegee word aan die Registrateur.

Vir meer inligting rakende die kanolapaspoort en geregistreerde landbouchemiese middels vir gebruik op kanola, kontak gerus SOILL se landboukundige adviseurs.

Graan SA/Sasol fotokompetisie