Kletodim is in baie gevalle die laaste onkruiddoder in Groep A (die ACCase-groep van onkruiddoders, FOP’s en DIM’s) wat effektiewe beheer gee teen eenjarige raaigrassaailinge. Gevolglik is dit ’n besonder belangrike onkruiddoder vir die bestuur van eenjarige raaigras sowel as ander grasonkruide.
Die onkruiddoder word primêr gebruik om die probleem van weerstandbiedende grasonkruide te help bestuur, maar die middel het veral in 2019 ’n probleem veroorsaak deurdat dit skade aan kanola aangerig het.
Dosis toegedien
Kletodim is oorspronklik in Australië geregistreer vir die 240 g/l EK-formulasie teen 250 ml/ha. Omdat raaigras op groot skaal weerstand teen Groep A-onkruiddoders, oftewel FOP’s en DIM’s ontwikkel het, is die dosis van die middel aangepas. Die registrasiehouers het die 240 g/l EK-formulasie verhoog na 500 ml/ha.
Daar is ’n neiging by talle plaaslike produsente om kletodim teen veel hoër as die geregistreerde dosis te spuit. Redes sluit in dat die onkruid reeds verder ontwikkel is as wat op die etiket aangedui word; klimaatstoestande wat tydens toediening ongunstig vir die optimale werking van onkruiddoder is asook produsente wat wag dat later ontkiemende onkruide ook ontkiem. ’n Bespuiting op daardie stadium gee dikwels swakker beheer van onkruid wat vroeg ontkiem het. In 2019 is waargeneem dat, waar ’n kletodim-bespuiting vinnig opgevolg is met ’n ander onkruiddoder, skade meer algemeen voorgekom het. Daar moet minstens twee weke vóór of ná die toediening van ’n ander onkruiddoder gespuit word om die plant se metabolisme kans te gee om te herstel.
Let daarop dat daar handelsname met kletodim-formulasies van 120 en 240 g/l EK in Suid-Afrika geregistreer is.
Om kletodim-skade te voorkom, moet daar nooit meer kletodim-produk toegedien word as wat die etiket aandui nie. Indien die dosis oorskry word, kan die kanolapaspoortstelsel tot gevolg hê dat die besending kanola afgekeur word.
Die spuit van hoër as geregistreerde dosisse sal ook die ontwikkeling van weerstand vinniger laat toeneem – wat die doodskoot vir die produk sal beteken.
Stadium van die gewas tydens toediening
Volgens Australiese inligting is die regte tyd vir kletodim-toediening tussen die twee- en vierblaarstadium van die kanola. Wanneer na die plaaslike kletodim-etiket gekyk word, moet daar verkieslik op die vroegste aanbevole blaarstadium gespuit word. Die gevaar van uitskerming van onkruide deur die kanolablare is ook dan die minste.
Daar is plaaslike etikette wat aandui dat tot op sesblaarstadium gespuit kan word. Wanneer so laat gespuit word, verhoog die risiko vir skade. Daar moet ook ondersoek ingestel word na die voorkoms, al dan nie, van blomknoppe. Indien blomknoppe wel reeds gevorm het, is die risiko vir skade baie groot.
Die aantal dae na plant is nie ’n goeie aanduiding van die stadium van ontwikkeling nie, omdat kanolakultivars verskillend reageer op verskillende klimaatsomstandighede. Data van die Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland het bewys dat sommige kanolakultivars so vroeg as die sesblaarstadium reeds blomknoppe gevorm het. Dit is belangrik om plante op die land te evalueer om die blaarstadium te bepaal en vir blomknoppe te soek.
Vog- en temperatuurstremming tydens toediening
Plante wat aan ongunstige toestande blootgestel word se metabolisme neem af. Wanneer onkruiddoders onder hierdie toestande toegedien word, kan die plant nie die chemiese produk vinnig genoeg metaboliseer nie en verhoog die risiko vir skade.
In die 2019-seisoen het sulke toestande (min vog, skielike koue en/of hitte) rondom die tyd van bespuiting algemeen voorgekom. Produsente is genoop om bespuitings met onkruiddoders uit te voer voor die onkruide en kanola te groot was en ’n kombinasie van al drie bogenoemde faktore het tot die hoër voorkoms van skade gelei.
Baie koue toestande vóór of ná bespuiting het ’n effek op die metabolisme van die kanolaplant. Op 6 Junie en 14 Junie 2019 was die minimum temperatuur baie laag in die meeste gebiede, maar dit is voorafgegaan deur ’n relatief warm periode. Erge koue plaas stremming op die plant wat nie met die oog waarneembaar is nie. ’n Skielike verandering in klimaatstoestande (daar word na spikes of pieke verwys), waar uiters warm dae op ’n koel periode volg of andersom, kom die afgelope paar jaar meer gereeld voor en het ’n erg versteurende effek op die plante se metabolisme.
Die literatuur verwys ook na moontlike verskille in toleransie vir skade tussen kultivars. In die Wes-Kaap is waargeneem dat kultivars verskille toon ten opsigte van kletodim-skade. Die probleem is dat ’n kultivar wat uitstekende weerstand getoon het by Riviersonderend, ook die meeste kletodim-skade gehad het by Hopefield. Daar is dus nie ’n algemene riglyn rakende kletodim-skade of -weerstand by plaaslik verboude kultivars nie.
Gevolgtrekking
’n Enkele faktor kan kletodim-skade by kanola veroorsaak, maar die voorkoms van ’n kombinasie van faktore verhoog die risiko aansienlik. Produsente moet, soos in Australië aanbeveel word, eerder op ’n vroeër as later blaarstadium spuit en nie meer as 500 ml/ha kletodim-produk (240 g/l EK-formulasie) gebruik nie.
Die aanplant van kultivars met vroeë vegetatiewe ontwikkeling of ’n effens hoër saaidigtheid het die vermoë om onkruide wat later ontkiem doeltreffend te beheer deur uitskerming. Dit is belangrik om ’n eweredige kanolastand te hê (goeie oorskaduwing van die grond is noodsaaklik). Plante van egalige grootte en/of ouderdom maak die keuse van die regte tyd van toediening soveel makliker. Onthou ook dat ouer plante makliker kletodim-skade kry.
Bron
- Cumming, C. Kletodim: redes vir skade by canola. Canolafokus 90, November 2019. Beskikbaar by https://www.opot.co.za.