“I like your humble spirit”

Gepubliseer: 6 Februarie 2020

99

Beste Grootneef

Dit was op ’n Donderdag toe ons by die “Friday Market” gestop het. Iewers op die pad tussen Ras al Khaimah en Fujairah. In die middel van die woestyn, aan die voetheuwels van die Hatta-berge.

Die omgewing was skurf met klip en rots tussen die wit sandduine. Net neffens die pad was ’n mark soos uit die voortyd. Die mark het oorgeloop met groente en vrugte netjies in stapeltjies gepak. Dadels, met of sonder amandels. Potte, panne en ketels van tin of koper. Koffiebone. Sakke vol kruie en speserye van elke uithoek. Met ’n paar kamele wat geduldig in die son staan en wag.

En tapyte. Tapyte van oor die hele Persiese Ryk in die diepste aardse kleure. Elk tot ’n kunswerk geweef.

Ek staan nog oopmond en rondkyk na alles, toe sien ek vroulief kies koers na die oompie met die tapyte. Die oompie in sy lang, wit rok verwelkom ons grasieus in die lingua franca waarmee ons vertroud is – swak Engels. “Welcome, welcome! From where you are?”

Die oompie sien die glinster in vroulief se oë en rol tapyte soos palmtakke voor ons uit. Een so mooi soos die ander.

My eerste hekkie was om die oompie te oortuig dat die volvloermatte wat hy uitrol nie in ’n soetkys sal pas nie. Ek beduie kleiner – soos in een by twee voet. Die oompie weier om te glo dat iemand van ons status en aansien sou belangstel in so min tapyt en rol terstond nog ’n paar oop. Een amper so groot soos Loftus. Nou tree ons maar vir hom af en wys weer: “Kleiner, Oompie, kleiner.”

Die oompie klak en gorrel in Urdu en Arabies, maar neem ons verder die vallei van tapyte in. Duidelik teen sy sin begin hy die kleiner matjies ooprol. Hy en sy twee seuns hou ’n kompetisie om te kyk hoeveel matte hulle om ons kan ooprol.

Ou Neef, ’n eenvoudige vraag soos “How much?” het nie ’n kort antwoord nie. Dit word getroef met ’n “How much you want to pay?” En sommer nog ’n vinnige een: “You like?” En toe begin die marathon. Want niks het ’n prys nie – die prys word net daar gebak en gebrou. As deel van die bestanddele word ingegooi: “This is yóúr shop – you decide what you pay.”

Ek sien ’n gaping en bied terstond vyf dirham aan. Die oompie lyk of hy ’n oorval kry. Hy roep nog sewe seuns nader en beduie na oos en wes, noord en suid terwyl hy sy lot luidkeels bekla. As daar as was, het hy dit op sy kop uitgestrooi.

En dan, met een vloeiende beweging, pluk hy ’n sompomp nader en maak ’n aardige berekening. Die sompomp word selfvoldaan aangebied met ’n klein fortuin wat op die skerm flikker. Die oompie is vol afwagting, want sien, die wedstryd tussen vraag en aanbod is aan die gang!

Ek loop al om die mat en meet en weeg hom. Ek hou hom teen die son en kyk na die knopies. Ek voel daai mat deur soos ’n stoetooi. Vroulief staan eenkant en skaam kry. Die oompie met die rok bied die sompomp gul aan, sodat ek my vyfdirham-aanbod kan verbeter.

Ek vat die oompie se aanbod se vierkantswortel en deel die resultaat deur twee vir ’n nuwe bod. Nou is ék weer vol afwagting.

Die oompie kyk beurtelings na my en die sompomp in totale ongeloof en ratel weer in Urdu. Hy besing die mat se stamboek tot by die koningin van Skeba en begin weer ’n ingewikkelde formule op die sompomp. Met sy nuwe aanbod op die tafel, is dit weer my beurt om hare te trek, my Cheetah-kepsie te frommel en stadig deur toe te skuifel.

Hy ignoreer my en vra vir vroulief: “You don’t like?” Ek keer die aanslag af met: “Nice mat, but price too big.” Die oompie kyk my meewarig aan, maar was nog lank nie klaar met ons nie. Met ’n “I like your humble spirit” is die gesprek weer oop.

Die oompie haal nou alles uit. Hy bepeins sy eie berekening, slaan ’n swierige gedeeldeurteken op sy totaal en wys triomfantlik die nuwe resultaat. “For you, because you are my first customer, very special price. You buy, luck to me and my family.”

Ou Neef, ek kon mos nou nie die man se familie se geluk net so los nie. Dit was ’n laaste poging werd. Ek sit ’n mooi ronde syfer op die sompomp, maal dit met een en bied die sompomp aan die oompie met ’n “Final offer for luck of family”.

Die oompie bepeins die aanbod en blaf skielik ’n bevel uit. Voor jy kan sê “Aladdin”, is die mat opgerol en in vroulief se hande gestop. Die koop is beklink en dit was tyd om uit te haal en te wys.

Met die note afgetel, was dit tyd om ’n goeie stryd te vier. Daar is oor en weer in Urdu en Afrikaans dankie gesê en koppe geknik. Die oompie se familiegeluk was in ere herstel en vroulief was ’n nuwe matjie ryker. Die oompie het ons joviaal tot op die deurpos begelei, aan’t oefen aan sy nuwe Afrikaanse woord “baai moi”.

Ou Neef, die kuns van aanbod en aanvraag is springlewendig – die wêreld deur. En dís die moeilike ding van boerdery. Nie om te plant nie, maar om te weet wanneer dit ’n goeie prys is.

Groete op die oosgrens

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.