Grond: Die produsent se belangrikste bate — Deel 1: Die samestelling van grond

2802

Grond is die mees fundamentele hulpbron vir die produsent waarsonder voedsel en natuurlike vesel nie geproduseer kan word nie. Dit is meestal ook die duurste enkele kapitale bate van die produsent.

Grond is ‘n skaars hulpbron waarvan die beskikbaarheid op aarde beperk is. Om enige hulpbron produktief te kan benut, is dit nodig dat die grondgebruiker oor ‘n werkbare kennis van daardie hulpbron beskik.

In hierdie reeks artikels gaan ons help om die grondgebruiker met ‘n basiese kennis van die grondhulpbron toe te rus. Ons skop af met ’n artikel wat fokus op die samestelling van grond.

Wat is grond?

In die algemeen word grond deur die landbouer gesien as die ongekonsolideerde materiaal wat die heel boonste lagie van die vaste aardkors beslaan en wat plantegroei onderhou. Hierdie grondlaag wissel in diepte, van nie-betekenisvol waar vaste rots op die aardoppervlak voorkom, tot etlike meters diep.

Waaruit bestaan grond?

Die hoofkomponente van grond is die minerale-, lug-, water- en organiese fraksies (Figuur 1). Hierdie vier komponente kom geïntegreerd en in verskillende verhoudings in grond voor en elkeen varieer van plek tot plek in samestelling. Die variasie in die verhouding tussen die komponente en die variasie van die komponente self, beïnvloed grootliks die eienskappe van die grond en derhalwe ook die grond se vermoë om plantegroei te onderhou – dus uiteindelik die grond se produktiwiteit.

Figuur 1: ‘n Geïdealiseerde skematiese voorstelling van die samestelling van grond.

Minerale fraksie

Die minerale fraksie beslaan ongeveer 50% van die grondvolume en vorm uit geologiese gesteentes wat na fyn deeltjies deur verskeie prosesse verweer het. Verskillende gesteentes het verskillende mineralogiese samestellings en verweer dus na verskillende grondtipes. Omdat geologiese materiaal van plek tot plek verskil, kan derhalwe verwag word dat grond wat in situ (op dieselfde plek) uit die moedermateriaal gevorm het, sterk ooreenkomste met die moedermateriaal sal hê. Só is grond wat uit skalie gevorm het kleierig, terwyl grond wat uit sandsteen gevorm het, sanderig is.

Alle grond het nie in situ uit die oorspronklike moedermateriaal gevorm nie, maar kan ook in moedermateriaal wat deur wind, water, gletsers of swaartekrag (teen hellings af) vervoer is en op ‘n ander plek, weg van die oorspronklike posisie af, waar dit neergesit word, vorm. Voorbeelde van getransporteerde grond is die windgetransporteerde (eoliese) sand van die Kalahari en die grond op riviere se vloedvlaktes (alluviale grond).

Wat interessant is, is dat verskeie nuwe minerale in die grond uit verweerde moedermateriaal kan kristalliseer. Hiervan is klei- of ander sekondêre minerale die belangrikste.

Verspreiding van deeltjiegroottes

Die minerale fraksie kan uit verskillende groottes deeltjies bestaan. Deeltjies groter as 2 mm in deursnee word as gruis of rotsfragmente geklassifiseer en word nie as grond beskou nie. Dit is dus die fraksie wat deur ‘n 2 mm sif kan gaan, wat as grond gesien word. Sand se grootte wissel van 2 mm tot 0,05 mm en dié van slik tussen 0,05 mm en 0,002 mm. Die fraksie kleiner as 0,002 mm word as klei beskou.

Sandfraksie

Die sandfraksie bestaan gewoonlik uit harde minerale wat oorspronklik van groter kristalle, wat deel van die moedermateriaal was, fisies afgebreek, versplinter, verbrokkel en verklein is. Hiervan is kwarts die algemeenste voorbeeld, weens die hardheid daarvan. ‘n Ander harde mineraal wat wel chemies tot kleiner stukkies verweer en dikwels deel van die sandfraksie uitmaak, is veldspaat wat volop in graniet is. Sagte minerale en dié wat chemies reaktief is, verweer vinnig en vorm dus gewoonlik nie deel van die sandfraksie nie.

Slikfraksie

Die slikfraksie is mineralogies gewoonlik dieselfde as dié van die sandfraksie en bestaan dus uit sand wat net verder fisies verweer is tot deeltjies kleiner as 0,05 mm in deursnee.

Kleifraksie

Die kleifraksie se mineralogie kan baie wyd uiteenlopend wees, omdat dit in situ kan kristalliseer, of dit kan vervoer wees. Omdat kleideeltjies so klein is, het dit besondere eienskappe en dra dit die meeste tot die grond se fisiese en chemiese eienskappe by. In die opvolgende artikels in hierdie reeks sal spesifiek op die kleifraksie gefokus word.

Porievolume

Die porievolume is die openinge tussen die vaste deeltjies en beslaan ook ongeveer 50% van die grondvolume. Hierdie fraksie word ook die porositeit van die grond genoem. Die porieë is met lug en/of water gevul. Soos verwag kan word, is sommige van die porieë groter en ander kleiner. Die grootte van die porieë het ‘n groot invloed op ‘n aantal van die grond se fisiese eienskappe. Só byvoorbeeld het ‘n sandgrond gewoonlik ‘n laer porievolume, maar met groter porieë as klei wat ‘n groter porievolume met kleiner porieë het.

Wanneer ‘n gedreineerde leemgrond by veldwaterkapasiteit is, is die porieë ongeveer halfpad met water en halfpad met lug gevul. Kleigrond hou meer water as sandgrond by veldwaterkapasiteit vas. Dieperliggende grondlae is dikwels meer gekompakteer en het dus ‘n laer porositeit. Dikwels is meer as die helfte van hierdie dieperliggende lae se porievolume met water gevul en word hierdie lae as “versuip” beskou.

Organiese fraksie

Die oorgrote meerderheid van grond in Suid-Afrika se organiese materiaalinhoud is minder as 5%, met die meeste saaigrond minder as 1%. Die organiese materiaal in grond bestaan uit dooie plantmateriaal, grondmikrobes, oorblyfsels van dierlike oorsprong en uitskeidings van diere. Die organiese materiaal word in die grond afgebreek (gehumufiseer) tot eenvoudige organiese verbindings wat dan weer tot humus hersaamgestel word. Hierdie humus is redelik weerstandbiedend teen degradasie en gee aan die bogrond sy donkerder kleur.

Grond is ‘n baie komplekse samestelling van minerale deeltjies, lug, water en organiese materiaal. Hierdie samestelling het ‘n groot invloed op plantegroei en daarom is die studieveld van grondkunde onontbeerlik vir die volhoubare produksie van voedsel en vesel.

In opvolgende artikels gaan daar meer in diepte na die verskillende grondeienskappe gekyk word. In die volgende uitgawe vertel ons meer oor die invloed van verskillende gesteentes op grondeienskappe.

Vir meer besonderhede skakel Martiens du Plessis by 072 285 5414 of stuur ‘n e-pos na: martiens@nwk.co.za. Of kontak Cornie van Huyssteen by (051) 401-9247 of vanshuysteencw@ufs.ac.za.

Verwysings

Die volgende verwysings is ekstensief tydens die opstelling van hierdie artikelreeks gebruik:

Brady, NC en Weil, RR. 1996. The nature and properties of soils. Prentice Hall: New Jersey.
Foth, HD. 1990. Fundamentals of soil science. John Wiley & Sons: New York.
Grondklassifikasiewerkgroep, 1991. Grondklassifikasie – ‘n Taksonomiese sisteem vir Suid-Afrika. Mem. agric. nat. resour. S. Afr. No. 15. IGKW, Pretoria.
Le Roux, PAL, Ellis, F, Merryweather, FR, Schoeman, JL, Snyman, K, van Deventer, PW en Verster, E. 1999. Guidelines for the mapping and interpretation of the soils of South Africa.
Singer, MJ and Munns, DN. 1987. Soils – an introduction. Macmillian Publishing Company: New York.
Sopher, CD en Baird, JV. 1978. Soils and soil management. Reston Publishing Company Inc: Reston.
Van Huyssteen, CW. 2009. Grondekologie. Ongepubliseerde klasnotas vir GKD214. Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.
White, RE. 1979. Introduction to the principles and practice of soil science. Blackwell Scientific Publications: Oxford.
Winegardner, DL. 1996. An introduction to soils for environmental professionals. Lewis publishers: New York.