Geïntegreerde gewas-en aangeplanteweiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 24: Eenjarige raaigras (Lolium multiflorum L.)

3740

Hierdie artikel is die 24ste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweidingrotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van voerspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n eenjarige dekgewas – en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word.

Dit is noodsaaklik om ’n plantspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige wintergrasdekgewas met die potensiaal om gebruik te word om grondtoestande te verbeter en om hoëkwaliteitvoer vir herkouers te lewer.

Lolium multiflorum L., eenjarige raaigras of annual ryegrass

Eenjarige raaigras is ’n koelseisoen (winter) immergroen polgras. Daar is twee variëteite eenjarige raaigras wat onder hulle gewone name – Italiaanse raaigras (Lolium multifolrum var. italicum) en Westerwolds-raaigras (Lolium multifolrum var. westerwoldicum) – bekend is.

Italiaanse raaigrasvariëteite is oor die algemeen meer gehard as Westerwolds-variëteite. Westerwolds-raaigras is ’n vinnig groeiende, blaarryke, uiterste eenjarige plant wat uit Italiaanse raaigras geselekteer is.

Dit is nie maklik om Italiaanse en Westerwolds-raaigrasse op grond van hulle morfologiese eienskappe van mekaar te onderskei nie. Sekere kultivars het die vermoë om te volhard in ’n tweede seisoen in en word dan in matige klimaatstreke as ’n tweejarige plant beskou.

Hierdie twee groepe raaigraskultivars kan verder verdeel word in nog twee groepe: diploïede en tetraploïede. Tetraploïede raaigraskultivars het langer, breër blare, minder stingels wat baie dikker is, en groter sade as diploïede raaigraskultivars.

’n Hele aantal verskillende kultivars is in Suid-Afrika beskikbaar, siende dat hierdie spesie as gevolg van die hoë voedingswaarde die algemeenste in die suiwelbedryf gebruik word. Eenjarige raaigras het ’n digte, vlak wortelstelsel, maar hierdie uitgebreide wortelstelsel verdra verdigte grond en dit maak hierdie spesie ’n goeie vangoes is vir oortollige stikstof.

Eenjarige raaigras wat in die reste van ’n vorige gewas gesaai is.
Beeste wat op eenjarige raaigras wei.

Agro-ekologiese verspreiding

Hierdie spesie is aangepas by gematigde klimate en word meestal in die hoë-reënvalgebiede van Suid-Afrika verbou. Indien dit in droë grond verbou word, kan reënval van meer as 850 mm genoeg wees vir optimale tot goeie produksie.

Dit groei ook baie goed onder besproeiing. Eenjarige raaigras vereis hoë vrugbaarheid en vog. Die gras groei goed in ’n verskeidenheid tipes grond, maar vaar baie goed in diep, vrugbare grond wat vog kan behou.

Raaigrassaailinge is uiters sensitief vir hitte en droogte, want baie hoë somertemperature kan ’n nadelige effek op die produksie en volharding van die spesie hê.

Bestuur en benutting

Die beste tyd om hierdie gras te vestig, is in die herfs – vanaf middel Februarie tot middel April – afhangende van die klimaatstreek. Westerwolds-raaigraskultivars kan vroeër as Italiaanse raaigraskultivars gesaai word.

Saaidigthede vir hierdie verskillende kultivargroepe is gebaseer op die saadgrootte. Diploïede kan teen 20 kg/ha in die ry geplant word, maar indien saad breedwerpig gesaai word, is 25 kg/ha voldoende.

Tetraploïede benodig weer meer saad, met ander woorde 25 kg/ha (in die ry) en 30 kg/ha (gesaai). ’n Fyn, ferm saadbed is nodig en indien die saadbed voor en nadat die saad gesaai is, gekonsolideer (gerol) word, sal dit ’n goeie stand verseker.

Indien dit vanuit die lug gesaai word, verhoog die saaidigthede na ten minste 30% vergeleke met normale digthede. Dit kan dan teen of na die laaste onkruidbeheer in mielies gesaai word, of dit direk na die kuilvoeroes plant. Wanneer dit in sojabone gesaai word, moet dit óf teen blaarvergelingstadium, óf later gedoen word. Dit is ’n opsie om, wanneer jy insaai, ’n eenjarige peulgewas (bv. Vicia spp. – weiwieke) in te sluit indien lae stikstofvlakke (N) verwag word.

Let daarop dat sekere reste van onkruiddoders wat gebruik word vir graangewasse raaigras kan doodmaak. Indien raaigras as ’n dekgewas oorweeg word, maak seker dat die onkruiddoders wat in die graangewasverbouingstelsel gebruik word, nie nadelig is daarvoor nie.

Dit is noodsaaklik dat die grondvoedingstofvlakke – veral fosfor, kalium, kalsium en magnesium – voor aanplanting aangepas word. Goeie grond-pH sal goeie grondvoedingstofbeskikbaarheid verseker. Wanneer raaigras na ’n graangewas as ’n dekgewas gebruik word, is vrugbaarheid dikwels nie ’n probleem nie.

Wanneer raaigras gesaai word, sal die stande die grond bind en beskerm, gevolg deur die gebruik deur lewendehawe – indien nodig. Raaigras is bekend daarvoor dat dit, wanneer dit eers gesaai is, binne ses tot tien weke na aanplanting bewei kan word.

Eenjarige raaigras in kikoejoe gesaai.
Eenjarige raaigras word vir groenvoer geoes.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

Eenjarige raaigrasse het baie dekgewasvoordele. Wanneer dit saam met peulgewasse en ander grasse gesaai word, is dit ’n goeie onkruidonderdrukker omdat dit die vermoë het om vinnig te vestig, wat vroeg in die seisoen onkruidbeheer bied.

Hierdie spesie het ’n uitgebreide wortelstelsel wat die grond baie goed bind. Die wortelstelsel vestig vinnig in versuipte, arm en selfs klipperige grond en voorkom ’n beduidende hoeveelheid erosie.

Benewens die sterk wortelstelsel, verbeter die digte, vlak wortelstelsel waterinfiltrasie asook die struktuur van grond. Raaigras groei baie vinnig bo die grond, wat help dat dit ’n goeie bron van organiese materiaal is. Dit kan weer ’n goeie deklaag maak, wat die onkruidbeheer kan ondersteun en grondwater kan bewaar.

Aangesien hierdie spesie baie N gebruik, kan raaigras orige N opvang, dit omsit in organiese materiaal en nitraatloging verminder; dit is dus ’n uitstekende voedingstofvangoes. Raaigras kan ook as ’n goeie pleeg-/begeleidende gewas beskou word, veral wanneer meerjarige subtropiese spesies in die herfs vir ’n langer grasrusoesperiode van drie tot vyf jaar geplant word, afhangend van die beplande rusperiode vir die graangewaslandery. Die raaigras beskerm dan die saailinge van die grasse of peulgewasse wat stadiger groei teen byvoorbeeld skade as gevolg van koue.

Bestuursuitdagings

Dikwels groei raaigras baie sterk teen die tyd dat ’n daaropvolgende graangewas gesaai word. Dit sal noodsaaklik wees om die gras te verwyder, wat meganies gedoen kan word deur die materiaal te sny voor die gras saadskiet. Dit kan gedoen word voordat die raaigras met ’n nie-blywende kontakonkruiddoder gespuit word, alhoewel jy ’n onsuksesvolle uitroeiing en/of weerstand teen glifosaat kan teenkom.

Gelukkig beskadig hoë temperature enige hergroei indien die gewas nader aan November geplant word, wanneer die raaigras se groei in elk geval as gevolg van die warmer klimaat ophou.

Daar moet ’n paar weke nadat jy dit ingewerkis gewag word voordat ’n daaropvolgende gewas gesaai kan word ten einde die N-verhouding so laag as moontlik te hou terwyl die biomassa ontbind. Die N-tekort kan beperk word deur raaigras saam met ’n peulgewas soos Vicia of Trifolium spp. te plant. Indien die oesreste gelos word om ’n bietjie te ontbind, sal die saadbed makliker wees om te bewerk.

Diereproduksie-aspekte

Raaigras kan op talle maniere gebruik word. Aangesien dit ’n hoë voginhoud het wanneer dit gesny is, is die beste manier om dit op te berg deur middel van kuilvoer of hooi. Die mees ekonomiese manier om dit te benut as dubbeldoeldekgewas is om dit te bewei wanneer daar voldoende groei is. Dit moet egter nie te veel bewei word nie, want hergroei is baie belangrik om die grond gedurende die winter te beskerm en grondkoolstof te bou.

Raaigras kan goeie weidingswaarde hê, met ruproteïenwaardes van tussen 20% en 24%. Die verteerbaarheid van die droë materiaal van eenjarige raaigrasse is egter naby aan 80% aan die begin van die groeiseisoen – veral in die matige gebiede. Namate die seisoen vorder, neem verteerbaarheid af, maar dit kan nog steeds vir ’n groot deel van die weiseisoen meer as 65% wees.

Die gehalte van die voer hang af van die faktore wat die hergroei van grasse beïnvloed, byvoorbeeld temperatuur, water en vrugbaarheid. Die voedingswaarde van die grasse neem af soos wat die produksieseisoen vorder, en dit hang af van die getal oeste, die lengte van die oesintervalle asook die groeifase. Dit dui aan dat, soos wat die plant volwasse word, raak dit al hoe meer verhout en die voedingswaarde neem af, wat dit minder smaaklik maak.

Gevolgtrekking

Raaigras is ’n baie maklike grasgewas is om te vestig. Dit verwyder oortollige voedingstowwe uit die wortelsone en sit dit om in grondorganiese materiaal, wat uiteindelik die storing van voedingstowwe vir die gebruik van daaropvolgende gewasse vergemaklik.

Eenjarige raaigraskultivars bied goeie waarde aan lewendehawe-produksiestelsels, want dit lewer uiters smaaklike en verteerbare voer. Tesame met goeie grondvrugbaarheid, sal hierdie spesie vinnige groei toon in koeler tydperke en wanneer genoegsame grondwater beskikbaar is – veral onder besproeiing. Hierdie eienskappe maak van eenjarige raaigras ’n effektiewe bestuursinstrument vir BL-gebaseerde wisselbousisteme.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Dovrat, A. (1993). Irrigated forage production. Elsevier Science Publishers B.V.: Amsterdam, The Netherlands.
Dickinson, EB, Hyam, GFS, Breytenbach, WAS, Metcalf, WD, Bassoon, WD, Williams, F, Scheepers LJ, Plint, AP, Smith, HRH, Smith, PJ, Van Vuuren, PJ, Viljoen, JH, Archibald, KP en Els, JN. (2004). Kynoch Pasture handbook. Kejafa Kennisareas: Maanhaarrand.
Fulkerson, WJ, Slack, K, Hennessy, DW en Hough, GM. (1998). Nutrients in ryegrass (Lolium spp.), white clover (Trifolium repens) and kikuyu (Pennisetum clandestinum) pastures in relation to season and stage of regrowth in a subtropical environment. Australian Journal of Experimental Agriculture, 38:227 – 240.
Rhind, JM en Goodenough, DWC. 1973. Grass breeding information series 3. The Ryegrasses. Department of Agricultural Technical Services. Natal region.