Geïntegreerde gewas-en aangeplanteweiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 23: Raap (Brassica rapa L.)

2140

Hierdie artikel is die 23ste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweidingrotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van voerspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n eenjarige dekgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word. Dit is noodsaaklik om ’n plantspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n knoldekgewas met gewaspotensiaal wat gebruik word om grondtoestande te verbeter en hoëgehaltevier vir herkouers te verskaf.

Brassica rapa L., raap of turnip

Voerrape is ’n lid van die mosterdfamilie. Hulle het groot bolvormige (ronde) of skerppuntige wortels en ’n groot gedeelte van die wortel lê bokant die grond en is beskikbaar as weiding vir diere. Hierdie rape is baie aantreklike voer vir herkouers, aangesien dit baie koolhidrate bevat. Die rape se blare is regop en vlesig en word gewoonlik in die eerste weidingsiklus gevreet, waarna die wortels volg.

Die twee gewildste kultivars wat in Suid-Afrika gekweek word, is Mammoth Purple Top en Green Globe. Rape is tweejarige gewasse wat gewoonlik saad vorm in die tweede jaar of selfs laat in die herfs indien dit vroeg in die lente geplant word. Rape se blare is gewoonlik liggroen, dun en harig.

’n Groot, bolvormige of skerppuntige wortel met wit vesel ontwikkel aan die onderkant van die blaarstele. Die stoorwortel wissel in grootte, maar is gewoonlik 7,5 cm tot 10 cm breed en 15 cm tot 20 cm lank.

Mammoth Purple Top-blare (middel).
Mammoth Purple Top-blare en knolle.

Agro-ekologiese verspreiding

Rape is gehard teen koue en bestand teen droogte. Die sterkste wortelgroei vind plaas wanneer temperature laag is. Rape is teen matige ryp en kort tydperke van vogstremming bestand. Die blare van hierdie plante behou hulle voedingsgehalte selfs na herhaalde blootstelling aan ryp. Hierdie spesie kan ’n goeie gewas produseer, selfs wanneer die reënval so laag soos 350 mm tot 500 mm per jaar is. Hoër produksie-opbrengste kan verkry word as besproeiing aangewend word.

Rape groei die beste in ’n matige diep leemgrond, wat vrugbaar en effens suur is. Rape vaar nie goed in grond met ’n hoë klei-inhoud wat nat of swak gedreineer is nie. Vir goeie wortelgroei het rape sanderige tot leemgrond nodig wat los en goed belug is.

Grondvrugbaarheid en onkruidbeheer is noodsaaklik vir hoë produktiwiteit. Stikstof (N) en fosfor (P) is die belangrikste elemente in voer produksie. Vlakke van 75 kg tot 120 kg N/ha en 60 kg P/ha vir die groeiseisoen word gewoonlik aanbeveel. As gronde se kalium (K) vlakke laag is, word 30 kg/ha to 60 kg/ha aanbeveel. Rape groei goed in gronde met ‘n pH tussen 5 en 6,5.

Die saaidigtheid van rape is 2 kg/ha tot 4 kg/ha, wat tot opbrengste van tussen 5 t/ha en 10 t/ha kan lei, afhangend van omgewings- en bestuurstoestande. Die hoër saaikoers sal tot ’n hoër verhouding blare tot wortels in rape lei. Rape kan in vore geplant, gestrooi of uit die lug gesaai word. Hawer en ander kleingrane kan saam met rape as ’n dekgewasmengsel gesaai word.

’n Mammoth Purple Top-knol.

Bestuur en benutting

Raapsaad is baie klein en dit is uiters belangrik dat dit in ’n fyn, ferm en onkruidvrye saadbed geplant moet word, met genoeg vog vir ontkieming en opkoms. Hierdie spesie kan ook met minimum- of geenbewerking in die stoppel van ’n vorige gewas gesaai word. Wanneer dit in ’n bestaande gewas gesaai word, moet daar seker gemaak word dat daardie gewas onderdruk word, aangesien rape nie met ander spesies soos grasse meeding nie.

Soos met enige gewas is onkruidbeheer baie belangrik, veral tydens droogtes, wanneer onkruid met gewasse meeding om water. Raapsaad ontkiem nie goed in grond met ’n te hoë temperatuur nie, en verkies temperature van ongeveer 10°C tot 15°C. Dit ondersteun die aanplant van rape in stoppels, aangesien grondtemperature onder plantmateriaal laer is.

Rape kan enige tyd in die winter en herfs weiding verskaf, afhangend van die saaidatum. Hierdie spesie kan as ’n goeie wintervoergewas gebruik word, wat beteken dit behou sy voergehalte tot diep in die winter, selfs na uiterste koue temperature voorgekom het.

Raapplante is gereed vir weiding of groenvoer wanneer die voer ongeveer 30 cm hoog staan (70 tot 90 dae na plant). Die aangeplante weiding moet vir ’n kort rukkie bewei word en die lewende hawe moet dan verwyder word om die plante toe te laat om weer te groei. ’n Strookweidingstelsel is verkieslik om volledige beweiding te verseker.

Die voergehalte van rape is uitmuntend, met ’n buitengewoon hoë proteïeninhoud en dit kan as soortgelyk aan gekonsentreerde voer beskou word. Met laasgenoemde feit in gedagte, moet voorsorg getref word om enige dieregesondheidsprobleme te voorkom. Lewende hawe moenie uitgehonger wees wanneer hulle in ’n raapland geplaas word nie, aangesien dit sal veroorsaak dat die diere oorvreet, wat tot ernstige metaboliese versteurings sal lei.

Diere moet gekondisioneer word om rape te vreet sodat ’n goeie grootpens mikrobiese bevolking kan ontwikkel om uiteindelik die hoë vlakke van proteïen in voerrape te verteer. Die voer van laegehaltehooi met ’n hoë veselinhoud kan optimale benutting van rape help. Rape kan bewei word binne ongeveer 60 tot 90 dae na aanplanting, afhangend van variëteite.

Knolle.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Soos talle ander Brassicas verskaf rape 70% tot 80% grondbedekking. Hierdie spesies is bekend vir hulle vermoë om grondstikstof (N) te bind (versamel) wat oorbly nadat ’n vorige gewas geoes is. Rape produseer penwortels wat tot so diep as 1,5 m en dikwels dieper kan groei, en kan ’n belangrike rol speel om verdigting op te hef, veral wanneer grond vogtig is en makliker is om te deurdring.

Rape se diep wortels laat hierdie gewasse ook toe om voedingstowwe diep in die grondprofiel te bereik en in die bogrond te versamel. Namate die groot penwortels ontbind, laat hulle groot wortelkanale op die grondoppervlak wat waterinfiltrasie verhoog en die daaropvolgende groei en penetrasie van gewasse se wortels verbeter.

Die meeste Brassicas, insluitend rape, stel metaboliese neweprodukte vry wat wye weerstand bied teen patogeniese bakterieë, fungi, insekte, aalwurms en onkruid. Brassica-dekgewasse word dikwels gesny en ingewerk om hulle natuurlike berokingsmiddelpotensiaal teen grondgedraagde siektes maksimaal te benut.

Onlangse studies regoor die wêreld dui op die potensiële gebruik van rape en ander Brassicas vir plaagbeheer. Voorlopige resultate toon dat verskillende variëteite verskillende hoeveelhede bioaktiewe chemikalieë bevat, en wanneer hierdie spesies as groenbemesting gebruik word, word minder plae aangeteken. Soos die meeste groenbemesting onderdruk Brassica-dekgewasse ook onkruid in die herfs met hulle vinnige groei en blaardaksluiting.

Bestuursuitdagings

Ten opsigte van die gebruik van ’n raapdekgewas in diereproduksiestelsels, hou dit ’n paar uitdagings vir dieregesondheid in. Aangesien die meeste Brassicas ’n lae hoeveelheid vesel bevat, is dit uiters belangrik dat rape nie meer as 75 % van die herkouer se dieet moet uitmaak nie.

Dit is dus belangrik dat wanneer rape bewei word, dat ’n laer gehalte ruvoer as aanvulling gegee moet word. Indien rape nie versigtig bewei word nie, kan gesondheidsversteurings soos opblaas, nitraatvergiftiging en hipotiroïdisme voorkom.

Raapgewasse kan aan ’n verskeidenheid siektes soos rhizoctoniavrot, dikvoet, raapmosaïekvirus, knopwortel, antraknose, blaarvlek en witroes ly. Sommige van hierdie siektes kan tot ’n misoes lei indien rotasie of ander beheermaatreëls nie gebruik word nie. Variëteite wat teen sekere siektes weerstandig is, is beskikbaar. Om probleme met siektes te voorkom, moet Brassicas nie meer as twee jaar na mekaar op dieselfde plek gekweek word nie.

Rape is ook vatbaar vir insekskade en dit kan vlooikewers, gewone raapluis of plantluise insluit. Hierdie insekte is meer algemeen met konvensionele bewerkingspraktyke en kan met toepaslike insekdoders beheer word wanneer dit met aanplanting op die grond aangewend word.

Diereproduksie-aspekte

As gevolg van uiters veranderlike klimaatstoestande in Suid-Afrika lewer die produksie van voerrape (kultivar Mammoth Purple Top) in Limpopo en Gauteng die beste opbrengs wanneer dit in Februarie geplant en in laat Augustus ontblaar word, wat tot 5,1 t/ha en 3 t/ha onderskeidelik lewer, waarvan 2,4 t/ha en 1,7 t/ha onderskeidelik blare en 1,7 t/ha en 1,3 t/ha onderskeidelik knolle was.

Navorsing het getoon dat rape hoëgehaltevoer produseer, en dat lewende hawe die stingels, blare en wortels van raapplante eet. Bogrondse dele bevat gewoonlik 15% tot 25% ru-proteïen, 65% tot 85% in vitro verteerbare droë materiaal (IVVDM), met die wortels wat 8% tot 14% ru-proteïen en 80% tot 85% IVVDM bevat. Die volwasse voer-Brassica handhaaf ’n hoë voedingstofkonsentrasie tot in die herfs en vroeë winter. Rape kan 80% tot 90% verteerbaar wees. Vergeleke hiermee is hoëgehaltelusern ongeveer 70% verteerbaar.

Beeste en skape wei geredelik op rape en dit verskaf nuttige aanvullende weiding in die middel van die winter of laat herfs wanneer warmseisoengrasse en graanvoer nie-produktief is. As gevolg van hulle voedingswaarde is rape veral nuttig om diere met hoë voedingsvereistes te voer.

So ’n gebruik kan insluit die vetmaak van lammers, prikkelvoeding aan ooie en die voer van lakterende ooie, melkbeeste en jong vleisbeeste. Lammers wat op rape wei het gemiddeld 214 g/dag tot 249 g/dag opgetel, terwyl lammers wat hooi gevoer is, 186 g/dag tot 195 g/dag opgetel het.

Gevolgtrekking

Die Brassica-spesies is waardevolle dek- en voergewasse. Hulle het egter spesiale bestuursvereistes, veral wanneer dit kom by die benutting daarvan vir diere se weiding. As ’n dubbeldoelgewas is hulle spesifieke bestuursvereistes onbeduidend wanneer ’n mens die grondbewaringsvoordele besef. Dit verg goeie beplanning om rape by ’n graanproduksiestelsel te integreer, maar wanneer hierdie gewas as deel van ’n multifunksionele dekgewasprogram en/of mengsel gebruik word, veral om grondgehalte te herstel, is hierdie stelsel baie makliker om toe te pas en hou wesenlike grond- en diereweidingsvoordele in.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Evans, DW. 1979. Cruciferous-growth and yield. Symposium proceeding: Sheep harvested feeds for the Intermit. West, Colorado State University, Fort Collins,
Colorado., 59 – 63.
Jung, GA, McClellan, WL, Byers, RA, Gross, CF, Kocher, RE and Reed, HE. 1979. Old forage crops may come back. Crops Soils 31, 17 – 19.
Kinder, CA. 2004. Growing and utilising turnips as forages. Proceedings, Idaho Alfalfa and Forage Conference, 24 – 25 February 2004, Twin Falls, ID. University of
Idaho Extension.
Koch, DW, Ernst, FC, Leonard, NR, Heldberg, RR, Blenk, TJ and Mitchell, JR. 1987. Lamb performance on extended season grazing of turnips. J. Anim. Sci. 65,
1 275 – 1 279.
Undersander, DJ, Kaminski, AM, Oelke, EA, Smith, LH, Doll, JD, Schulte, EE and Oplinger, ES. 2015. Turnips: Alternative feed crops manual.