Geïntegreerde gewas- en aangeplanteweiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 19: Stoelrog (Secale cereale L.)

2140

Hierdie artikel is die 19de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweiding-rotasies kan speel.

Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplanteweidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplanteweiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word. Dit is noodsaaklik om ’n aangeplanteweidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige dekgewas met geweldige potensiaal as ’n aangeplanteweidingsgewas wat gebruik word om grondtoestande te verbeter en goeie weiding vir herkouers te verskaf.

Secale cereale L. (stoelrog/stooling rye) ​​​

Stoelrog is ’n eenjarige polgrasspesie wat so hoog as 1,5 m kan groei. Rog het ’n uitgebreide, fibreuse wortelstelsel wat so diep as 1,5 m kan groei.

Stoelrog is ’n waardevolle voer (vir aangeplante weiding, hooi of kuilvoer) en ’n dekgewas in die winter. Wanneer dit in dubbelgewasstelsels as ’n dekgewas gebruik word, verskaf stoelrog in die laat winter/lente waardevolle voer aan diere vir die begin van die somer.

Van al die graangewasse is stoelrog die langste en die gehardste eenjarige spesie. Daar is talle kultivars van Secale cereale, maar navorsing het getoon dat diploïede kultivars meer teen droogte bestand is as tetraploïede kultivars.

Stoelrog is ’n uitstekende dek- en voergewas vir die winter – Ottosdal BL-proefneming, Noordwes.
Dit word as ’n dekgewas gebruik en doodgemaak twee weke voordat somergraan geplant word.

Agro-ekologiese verspreiding

Stoelrog word gewoonlik gekweek in gebiede met koue winters en warm, droë somers, veral in sentraal-, oos- en noord-Europa, hoewel dit ook in Afrika, Asië en Noord-Amerika aangetref word. Dit kan op baie groot hoogtes bo seevlak groei, en in tropiese dele word dit slegs in baie hoë gebiede aangetref (Brink, 2006).

Dit groei die beste teen temperature wat van 15°C tot 20°C wissel, maar navorsing het getoon dat hierdie spesie ’n breër temperatuurstrek (3°C tot 31°C) kan hanteer. Wanneer dit eers goed gevestig is, kan dit baie koue toestande oorleef (af tot -35°C).

Stoelrog groei goed met ’n jaarlikse reënval van 600 mm tot 1 000 mm, en is relatief droogtebestand: dit kan droë toestande met ’n jaarlikse reënval van so laag as 400 mm hanteer. Rog verkies vrugbare, goed gedreineerde sand- of leemgrond, met ’n grond-pH wat van 5,6 tot 6,5 wissel.

Omdat die plant lae temperature, droogtetoestande en droë en suurgrond kan hanteer, kan stoelrog gekweek word op plekke waar koring nie kan groei nie. Rog groei beter in ligte leem- en sandgrond as in swaar kleigrond.

Bestuur en benutting

Stoelrog kan saam met ander graanvoer soos hawer, koring of selfs eenjarige peulgewasse gesaai word. Saaidigthede kan tussen 25 kg/ha en 50 kg/ha (droëland) en 50 kg/ha tot 75 kg/ha (besproei) wees, en hang daarvan af of dit in ’n mengel gesaai word of nie.

Die beste tyd om hierdie spesie te saai, is Februarie/Maart. Stoelrogvoer is ook winsgewend as dit saam met peulgewasse soos wit en rooi klawer of weiwieke gesaai word. Die rog hou die peulgewas in stand en die assosiasie benut die oorblywende stikstof (N) in die grond ten volle (UC SAREP, 2006).

Dit is ’n waardevolle wintervoer wat die veeprodusent help om in die wintertydperk minder van bewaarde voer afhanklik te wees. Hierdie spesie kan laat in die herfs en vroeg in die winter, en dan laat in die winter en vroeg in die lente bewei word.

Stoelrogvoer kan ook gebruik word om kuilvoer en inkuiling (gekuilde hooi in plastiek) te maak. Daar word aanbeveel dat rog nie later nie as teen die vroeë stoelstadium (voor harde deeg stadium) geoes word om smaaklikheid, opname en voedingswaarde te behou.

Wanneer die plant stoelstadium bereik, behoort die spesie onder optimale bestuurstoestande sowat 7 tot 10 ton droë materiaal (DM)/ha te produseer. Nadat stoelrogvoer gesny is, moet dit verwelk en dan in kuilvoer omskep word.

Navorsing het getoon dat dit moontlik is om hooi uit stoelrog te maak, maar dit is moeilik, aangesien voervogtigheid in die vroeë stoelstadium te hoog is om dit maklik droog te kry.

Stoelrog wat in Februarie in die Ottosdal BL-proefneming as ’n dek- en voergewas geplant is.
Stoelrog wat in Februarie in die Ottosdal BL-proefneming as ’n winterdekgewas geplant is.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Stoelrog is ’n baie waardevolle dekgewas en kan gebruik word om erosie te beheer. Wanneer landerye met sojaboon of mielies beplant gaan word, kan die grond gedurende die winter met hierdie spesie beskerm word.

Dit kan ook as ’n winterdekgewas gebruik word vir deurlopende minimum- of geenbewerking wanneer die mielies vroeg geoes word.

Dit het talle positiewe uitwerkings op grondstruktuur en chemiese status. As gevolg van die snelgroeiende fibreuse wortelstelsel gebruik rog die verskillende grondlae ten volle, en verbeter sodoende die deurlaatbaarheid van die grond, grondvoginhoud en grondbiodiversiteit (erdwurms). Stoelrogvoer voorkom ook dat stikstof in die grond of mis oormatig uitloog (UC SAREP, 2006).

As groenbemesting verskaf rog groot hoeveelhede organiese materiaal aan die grond. Wanneer rog egter as voer gesaai word, word ’n deel van die organiese materiaal nie in die grond teruggeplaas nie. Hierdie spesie is ’n uitstekende dekgewas om ongebruikte stikstof in die grond te benut, en navorsing het getoon dat dit die konsentrasie van uitruilbare kalium (K) in die boonste laag van die grond verhoog.

Stoelrog onderdruk onkruid ook baie doeltreffend, veral deur die onkruid sy water en voedingstowwe te ontneem. Dit onderdruk egter ook talle soorte onkruid allelopaties (as ’n natuurlike onkruiddoder).

Bestuursuitdagings

Rog word deur minder siektes aangetas as ander graansoorte. Die volgende siektes en plae is aangemeld om beduidende probleme in stande stoelrog te veroorsaak.

Smutsbrand
Die siekte kan beheer word deur saad te behandel en gewasse te wissel indien die spore in die grond voorkom. Weerstandige variëteite is ook beskikbaar.

Antraknose
Dit is ’n algemene siekte wat veral in die vogtige en subvogtige gebiede van die land voorkom. Besmette plante word dikwels voortydig ryp of gaan te vroeg dood.

Roes (blaarroes en stamroes)
Die vernietiging van opslagstoelrog in stoppellande sal help om hierdie siekte te beheer.

Insekte
Stoelrog word deur talle van dieselfde insekte aangetas as wat ander kleingrane aantas. Ernstige verliese is nie algemeen nie, maar herfsrog wat vroeg gesaai word, verskaf ’n gunstige omgewing vir insekte om hulle eiers te lê. Dit kan ander gewasse benadeel.

Diereproduksie-aspekte

In die laat herfs kan lewende hawe stoelrogvoer bewei wanneer dit ’n hoogte van 15 cm tot 20 cm bereik het, en hulle moet verwyder word wanneer die gras 5 cm tot 7 cm hoog is.

Stoelrog kan baie vroeg in die lente bewei word wanneer ander meerjarige grasse nog dormant is. Dit moet afwisselend bewei word en teen hoë digthede om te voorkom dat dit volwasse word en voedingswaarde verloor (Samples et al., 2011).

Ru-proteïenwaardes wissel van 11% (deeg) tot 23% (stoel), afhangend van die stadium van volwassenheid. Die verteerbaarheid van droë materiaal wissel van 64% (deeg) tot 81% (stoel). Totale verteerbare voedingstowwe (TVV) wissel van 67% tot 75%. Geskatte waardes van suurbestande vesel (SBV) en neutraalbestande vesel (NBV) is 37% en 55% onderskeidelik.

Gevolgtrekking

Daar is reeds bewys dat dekgewasse belangrik is om die gesondheid van grond te verbeter in die winterseisoen voor die volgende someraanplanting van óf mielies óf sojaboon. Stoelrog verskaf die potensiële voordele om grondgesondheid te verbeter, maar die vestiging- en bestuurskoste kan hoog wees.

Een manier waarop produsente hierdie koste kan verhaal, is om die voer te bewei en sodoende gewas- en diereproduksie winsgewend te integreer. Baie beperkte inligting bestaan oor die potensiële voerkwantiteit en -kwaliteit vir vee wat op dekgewasse en gemengde spesies dekgewasse wei.

Navorsing tot op hede dui daarop dat verskillende plantspesies mekaar aanvul, maar navorsing bepaal tans hoe om voerproduksie die beste te balanseer, en hoe mededingend die spesies is wanneer dit by ’n mengsel met stoelrog gevoeg word.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Brink, M. 2006. Secale cereale L. Record from Protabase. Brink, M & Belay, G (editors). PROTA (Plant Resources of Tropical Africa/Ressources végétales de l’Afrique tropicale), Wageningen, Netherlands.
Samples, DH & Sule, RM. 2011. Winter rye for extending the grazing season. Ohio State University Factsheet AGF-26-00, Ohio State University Extension Service. UC SAREP. 2006. Cereal rye. Cover crop database. University of California, Sustainable Agriculture Research & Education Programme, Davis.