Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 14: Serradella (Ornithopus species)

1783

Hierdie artikel is die 14de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan die betrokke spesies ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is op talle wyses afhanklik van die benutting van aangeplante weidingspesies, in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en dit kan dus ’n integrale deel van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige peul-aangeplante weidingsgewas wat algemeen in die winterseisoen as groenbemestingsgewas gebruik word om grondtoestande te verbeter en in die wintermaande van ’n somerreënvalstreek dekking te verskaf. Hierdie eenjarige peulgewas kan moontlik ná ’n meerjarige grasruslandstelsel geplant word voordat ’n graangewas in die volgende seisoen geplant word.

Met die stygende koste van bemestingstowwe en die doelwit van volgehoue grondvrugbaarheid en die verbetering van grondgesondheid, kan hierdie opsie van groenbemesting ’n geleentheid verskaf.

Ornithopus species (serradella)

Serradella is ’n eenjarige peulgewas wat in die winter groei en ’n semi-regop tot regop groei-aard het, maar ook uitlopers/rankplante kan vorm. Hierdie spesie het ’n diep wortelstelsel en kan rankplante van so lank as 1 m vorm. Dit is inheems aan noordelike Wes-Europa en die Mediterreense See-gebied. Dit het die vermoë om te groei in grond wat arm en nie vir ander voergewasse geskik is nie.

Daar is twee algemene serradella-kultivars, naamlik die Franse of pienkseradella, Ornithopus sativus, en die geelserradella, Ornithopus compressus.

’n Franse (pienk) serradella-blom.

Agro-ekologiese verspreiding

Serradella se groeiseisoen strek van herfs tot lente, en dit kan so hoog as 1 500 m bo seespieël groei, met ’n reënval van tussen 300 mm en 700 mm per jaar. Pienkserradella is nie rypbestand nie en is matig droogtebestand. Soos gemeld, word droogtetoestande oorkom deur diep wortelstelsels wat toegang tot dieper bronne van grondwater kan verkry. Dit is bekend dat geelserradella diep, sanderige, suur grond kan verdra. Hierdie spesie is ook baie vatbaar vir versuiptoestande en nie vir alkaliese grond geskik nie. Dit illustreer die potensiaal van hierdie spesie, veral die variëteite wat vroeër blom, om in die gebiede met ’n laer winterreënval – so laag as 350 mm per jaar – te groei.

Aanvullende besproeiing kan ’n belangrike rol in verhoogde produksie speel. Die harde saad en diep wortelstelsel van die spesie vergemaklik die vestiging en volharding van hierdie spesie in grond met ’n lae vrugbaarheid.

Pienkserradella, wat sagte saad het, toon baie ooreenstemmende groei-eienskappe as ’n voerplant in meer onvrugbare sandgrond. Pienkserradella word dikwels as ’n pleeggewas vir geelserradella gebruik en verbeter die vestiging daarvan. Hierdie spesie is geneig om die beste te vaar in vrugbare grond wat goed dreineer.

Geel serradella wat blom.

Bestuur en benutting

Goeie grondvoorbereiding is noodsaaklik om serradella suksesvol te vestig. Daar word aanbeveel dat die saadbed so fyn, ferm en onkruidvry as moontlik moet wees om onnodige plantmededinging te vermy.

Serradella kan saam met ander gewasse soos hawer in ‘n mengsel vir hooi of kuilvoerdoeleindes geplant word. Dit is dan raadsaam om 10 kg/ha saad (na gelang van klimaats- en grondtoestande) in ’n mengsel saam met die hawersaad te gebruik. Dit is belangrik dat die saad met die regte stam van Rhizobium-bakterieë geïnokuleer moet wees.

Serradella het ’n klein saadjie en dit is belangrik dat die saad vlak (10 mm tot 15 mm) geplant en deeglik gerol moet word om goeie vestiging te vergemaklik. Daar word aanbeveel dat saad in die grond geplant moet word eerder as om gestrooi te word, aangesien dit die beste saadgrondkontak sal verseker wat vir optimale ontkieming nodig is.

Dit is bekend dat die saad ’n baie lae ontkiemingspotensiaal het, maar dit lyk asof uitgedopte saad ’n baie beter ontkiemingspersentasie het. Die piekgroeitydperk is gewoonlik in die lente, en die plant word dan in die somer droog.

Die voedingsbehoeftes van die grond vir peulgewasse is gewoonlik hoë vlakke van kalium en kalsium, en veral hoër vlakke van fosfaat en mikrovoedingstowwe soos koper, sink en molibdeen. Dit is ook raadsaam om die grond se voedingstofstatus tot 30 mg/kg P en 120 mg/kg K te verhoog.

Hierdie grondvoedingstofvlakke is dikwels nie ekonomies regverdigbaar as grond lae vlakke van voedingstowwe bevat nie. Dit regverdig egter die gebruik van serradella, aangesien dit by lae vrugbaarheid aangepas is. Insekplae, wortel- of blaarsiektes kom nie algemeen op serradella-plante voor nie, maar internasionale verslae het myte en wurms aangemeld wat af en toe aan die plant vreet.

Aangesien serradella ’n peulgewas is, kan die doel daarvan wees om ’n proteïenryke voer te verskaf, of om as groenbemesting gebruik te word. Indien dit vir weiding gebruik word, is die aanbeveling dat dit nie gereeld gedoen word nie, met matige weidingsdruk. Baie goeie hooi kan van serradella gemaak word, solank dit nie te veel uitdroog nie, aangesien dit tot beduidende blaarverlies lei.

Die gebruik van serradella as ’n lewende deklaag is in kleinskaalse boerderystelsels in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal ondersoek. Met gereelde reën in die herfs is ’n goeie opbrengs verkry nadat serradella en serradella/hawer-mengsels laat in Februarie tussen mielies gesaai is. Die lewende wortels in die grond het ’n positiewe impak op grondgesondheid, wat voedsel aan mikroörganismes verskaf.

Die doeltreffendheid van hierdie stelsel moet oor twee of selfs drie jaar se praktyk bereken word. Die onderdrukking van onkruid en insekplae kan ten gunste van sulke ingrypings wees.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

As ’n mens die groenbemestingsvoordele van serradella in ag neem, is dit raadsaam om hierdie gewas voor die winter te plant, en dit nie noodwendig vir maksimum produksie te bemes nie, aangesien dit potensieel ’n impak op die grond se opbou van voginhoud oor die reënseisoen kan hê.

Hierdie spesie kan geplant word om bykomende grondbedekking te verskaf om die verdamping van grondvog en winderosie te beperk. Laastens, wanneer die gewas volwasse is en stikstof gebonde is, kan dit voor die volgende somer se graanoes by die grond ingewerk word.

Bestuursuitdagings

Die belangrikste bestuursuitdaging met serradella is om te verseker dat die saad goed geïnokuleer en nie te diep geplant is nie. Dit is voldoende motivering vir ander dekgewas(se) om in ‘n mengsel saam met serradella geplant te word. ’n Verdere bestuursuitdaging is die weidingsbestuur van die spesie om ’n goeie, digte stand te handhaaf. Indien die plant oorbewei word, sal die stand uitgedun en onproduktief word, wat tot ’n groter voorkoms van ongewenste spesies (onkruid) sal lei.

Die doeltreffendste metode om dit te benut, is vir die maak van hooi of kuilvoer. Ten opsigte van die maak van hooi kan blaarverlies ’n bestuursuitdaging word as die geoeste plantmateriaal te lank gedroog word.

Diereproduksie-aspekte

As ’n hooi- en kuilvoergewas is die opbrengs van droë materiaal belangrik. Dit kan wissel van enigiets vanaf 4 ton/ha tot 10 ton/ha, afhangend van die inherente grondvrugbaarheid, vog en tipe, tesame met klimaatstoestande.

Serradella kan ’n ru-proteïeninhoud van so hoog as 20% tot 25% hê, met ’n hoë verteerbaarheid, wat afneem namate die plant volwasse word, en die blaar:stam-verhouding afneem. Hierdie baie smaaklike spesie kan selfs ’n metaboliseerbare energiewaarde (ME-waarde) van 10 tot 11,5 MJ/kg lewer.

Gevolgtrekking

Serradella is nie ’n bekende peulgewas in Suid-Afrika nie, maar dit het talle voordele wat bewaringslandbou kan ondersteun en ’n integrale rol daarin kan speel. Indien dit korrek bestuur word, kan dit ’n taai en sterk groeiplant wees wat smaaklik is en baie voedingswaarde bevat.

Dit het ook ’n goeie verdraagsaamheid vir arm grond, maar ’n mens moet eerder die potensiaal daarvan as ’n tussentydse gewas (groenbemesting) tussen ’n aangeplante weiding-rusoesgewas vir die lang termyn en die volgende jaarlikse graangewas raaksien. Die droogteverdraagsaamheid en aanpassing by swak groeitoestande maak dit ’n geskikte kandidaat vir ’n groenbemestingsgewas.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.