Ruoliepryse en risikopremies raak produsent se sak

Gepubliseer: 2 September 2026

48
Gerhard Burger,
junior landbou-ekonoom,
Graan SA

2026/08/19

ONLANGSE MARKTOESTANDE HET PRODUSENTE EN DIE BREËR LANDBOUSEKTOR HERINNER DAT DIE KOSTE OM GRAAN TE SKUIF NIE ALLEEN DEUR TERMYNKONTRAKTE EN DIE EFFEKTEBEURS BEPAAL WORD NIE.

Brent-ruolie het die afgelope paar maande ’n al hoe belang­riker rol gespeel in die vermoë om graan te skuif en het daardeur ’n oorspoeleffek gehad op pariteitspryse wat vanjaar ’n toenemende effek gehad het op kontantmarkte. Voeg hierby risikopremies wat gehef word op diepseeverskepings en skielik lyk plaaslike pariteitspryse – en daarmee saam plaashekpryse – baie anders. Die koste tot by die plaashek word deur die produsent opgeneem; die oorspoeleffek stop dus by die produsent se sak en raak hulle die meeste.

Pariteite as vloer- en plafonpryse
’n Uitvoerpariteitsprys, in sy eenvoudigste vorm, dien as ’n vloerprys. Dit is die minimum prys waarteen ’n handelaar of produsent plaaslik kan verkoop voordat dit meer lonend raak om uit te voer. Omgekeerd dien ’n invoerpariteitsprys as ’n plafonprys waar dit meer lonend raak om voorraad in te voer as om dit plaaslik te koop. ’n Uitvoerpariteits-
prys is dus teoreties die laagste prys wat plaaslik aan ’n produsent aangebied kan word en die invoerpariteitsprys is die hoogste.

Indien graanvoorrade volop is, soos wat die afgelope jaar gesien is, is dit nie moeilik vir die mark om te voorsien in die plaaslike vraag nie. Graanpryse raak gevolglik goedkoper en ervaar afwaartse druk nader aan ’n uitvoerpariteitsprys (die vloerprys). Grafiek 1 toon die plaaslike Safex-geelmielieprys wat onder druk is sedert einde verlede jaar, namate landwye graanvoorrade toegeneem het. Dit gebeur selde, maar is nie onmoont-
lik dat plaaslike pryse bo invoerpariteit of onder uitvoerpariteit kan inbeweeg nie aan-
gesien handelaars die oorsprong van voorraad kan skuif na die goed­koopste bron of die bestemming na die mees lonende. In- en uitvoerpariteit dien dus as ’n stoot- en trekkrag vir plaaslike markpryse.

Die stoot-en-trek-effek word egter meer prominent hoe nader die plaaslike pryse aan ’n pariteitsprys beweeg. Sodra plaaslike pryse teen pariteit verhandel, is hul sensitiwiteit vir internasio­nale markbewegings op sy hoogste.

Grafiek 1: Geelmielieprys gelewer in Randfontein.

Oliepryse en risikopremie as ondersteuning vir plaaslike pryse
’n Pariteitsprys word bereken as die som van die graanprys vanuit die land van oor-
sprong (soos die CBOT-prys vanuit die VSA), vragkoste, versekeringskoste, aflaaikoste in die hawe, die invoertariewe van toepassing en binnelandse vervoerkoste tot by die eindbestemming (in Grafiek 1 is die bestemming Randfontein). In kort is dit die finale prys om graan by sy eindbestemming te kry.

Van hierdie komponente is die vragkoste die nouste aan ruoliepryse gekoppel. Vrag-
skepe verbruik mariene brandstof wat direk van ruoliepryse afgelei word omdat dit ’n produk van ruolie is. Wanneer die Brent-ruolieprys dus styg, styg vragtariewe normaal-
weg saam. Daarmee saam is diesel ook ’n produk van ruolie, wat hoofsaaklik vir pad-
vervoer gebruik word om produkte, soos graan, by ’n bestemming te kry. Die koste van skeepsvragte sowel as padvervoer het sowat 51% van die invoerpariteitsprys opgemaak in middel Augustus 2026. Aangesien dit meer as die helfte van die koste is om buite-
landse graan in die hande te kry, maak dit die finale koste van die graan sensitief vir bewegings in die energiemark, veral die verskuiwings in Brent-ruoliepryse.

Brent-ruolie het sedert die begin van 2026 skerp gestyg vanaf onder $70/vat in Januarie tot ’n hoogtepunt van bykans $121/vat teen einde April, as gevolg van die eskalasie van die oorlog in die Midde-Ooste en die gepaardgaande onsekerheid oor die Straat van Hormoes. Teen middel Augustus verhandel Brent-ruolie steeds rondom $88 tot $89/vat, sowat 35% hoër as dieselfde tyd verlede jaar. Hierdie volgehoue hoër olieprysvlak beteken ’n aanhoudende opwaartse ondersteuning van vragkoste en, gevolglik, invoer-
pariteits­prysondersteuning en uitvoerpariteitsprysonderdrukking. Ondersteuning vind plaas omdat brandstofkoste by ’n invoerpariteitsprys bygetel word, maar terselfdertyd word dit by ’n uitvoerpariteitsprys afgetrek, wat die prys onder druk plaas. Stygende olie- en brandstofpryse lei dus tot ’n wyer pariteitsband.

Risikopremie: die onsigbare hand agter vragkoste
Naas ruolie het oorlogrisikopremies (war risk insurance) ’n toene­mend beduidende bydraer tot versekeringskoste geword. Hierdie premies word deur verskepingsverse-
keraars gehef wanneer vaar­tuie deur hoërisikowaters soos die Straat van Hormoes beweeg. Vóór die 2026-oorlog in die Midde-Ooste was hierdie premies minder as 0,25% van ’n skip se waarde; teen April 2026 het dit na tussen 1% en 7,5% gespring, met som-
mige verslae wat pieke van tot 10% tydens die hoogtepunt van die konflik aangeteken het. Op ’n tenkskip ter waarde van $100 miljoen beteken dit versekeringskoste wat van sowat $250 000 tot $5 miljoen na $10 miljoen per vaart kan spring.

Alhoewel graanskepe vanuit en na Suid-Afrika nie noodwendig deur die Straat van Hormoes vaar nie, versprei hierdie premies deur die wêreldwye vragmark. Skeepseie-
naars herroeteer verskeie vaartuie via die Kaap die Goeie Hoop om hoërisikowaters te vermy, wat vaartye se brandstofverbruik verhoog. Ander verskepingsmaatskappye onttrek geheel en al uit sekere roetes. Die netto effek is ’n vermindering in beskikbare vragkapasiteit wêreldwyd, wat vragtariewe oor die algemeen opstoot.

Die netto-effek op plaaslike pariteitspryse
Omdat vragkoste en versekeringskoste bestanddele van die in- en uitvoerpariteitsprys is, beweeg albei pryse gewoonlik saam wanneer olie- en risikopremies styg. Dit beteken dat die hele pariteitsband, beide die vloer- en plafonprys, skuif eerder as om noodwen-
dig wyer te word. Vir plaaslike pryse wat naby die uitvoerpariteitsprys (die vloerprys) verhandel, bied hierdie opwaartse skuif ’n mate van ondersteuning aan plaashekpryse, ten spyte van die druk van oor­vloedige plaaslike aanbod. Vir verwerkers en invoerders beteken dit egter hoër afleweringskoste, wat uiteindelik na verbruikerspryse kan deurspoel.

Vir produsente en handelaars beklemtoon dit die waarde daarvan om nie net plaaslike oes- en voorraadsyfers dop te hou nie, maar ook internasionale aanwysers soos Brent-ruoliepryse, vragindekse (soos die Baltic Dry Index) en oorlogrisikopremies. Hierdie internasionale faktore gee dikwels vroeër waarskuwingstekens van pariteitsprysbe-
wegings as plaaslike marksyfers alleen.