Landbouchemie: regulatoriese ontwikkelinge, internasionale pryse en plaaslike markrealiteite

Gepubliseer: 2 September 2026

45
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za

GEWASBESKERMINGSMIDDELS SPEEL ’N ONMISBARE ROL IN MODERNE GRAANPRODUKSIE DEUR PRODUSENTE TE HELP OM OPBRENGSTE TE BESKERM, RISIKO TE BESTUUR EN VOEDSELSEKERHEID TE ONDERSTEUN.

Die landbouchemiese bedryf funksioneer egter in ’n kom­plekse omgewing waar internasionale markkragte, regulatoriese ontwikkelinge en plaaslike markdinamika voortdurend verander. Internasionale pryse van aktiewe bestanddele en gewasbesker­mingsprodukte het die afgelope jaar tekens van daling getoon, wat moontlik kosteverligting vir produsente kan meebring. Tog word die voordele van hierdie tendense nie altyd volledig in die plaaslike mark weerspieël nie.

Terselfdertyd ondergaan Suid-Afrika se regulatoriese raamwerk belangrike veran­deringe, insluitend die implementering van internasionale chemikaliebestuursinisi-
atiewe, die voortdurende debat rakende hoogs gevaarlike plaagdoders (HHP’s) asook die modernisering van Wet Nr. 36 van 1947. Hierdie verwikkelinge sal waarskynlik ’n beduidende invloed hê op die beskikbaarheid, registrasie en gebruik van landbouche-
mikalieë in die jare wat voorlê. Teen hierdie agtergrond is dit belangrik om die jongste regulatoriese ontwikkelings, internasionale prystendense en plaaslike marktoestande te verstaan om beter ingeligte bestuurs- en aankoopbesluite te kan neem.

Regulatoriese omgewing in Suid-Afrika se chemiese mark
Die regulatoriese omgewing vir die chemiese bedryf en graanprodusente in Suid-Afrika is tans in ’n periode van belangrike ontwikkeling en hervorming. Internasionaal het die aanvaarding van die Global Framework on Chemicals (GFC) nuwe momentum geskep vir die verantwoordelike bestuur van chemikalieë deur hul volledige lewensiklus, met spesifieke fokus op die uitfasering van HHP’s teen 2035 waar veiliger alternatiewe beskikbaar is. Suid-Afrika het in reaksie hierop ’n HHP-werkgroep gevestig wat die Departement van Landbou, die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake (DFFE) en bedryfsrolspelers insluit om ’n gebalanseerde benadering tot risikobestuur en volhoubare gewasbeskerming te ontwikkel.

Nog ’n verwikkeling in die regulatoriese omgewing is dat die hersiening van Wet Nr. 36 van 1947, die Wet op Kunsmis, Veevoere, Landboumiddels en Veemiddels, ook ’n prioriteit bly, met planne om die wet in vier afsonderlike wetgewende komponente te verdeel, naamlik kuns­mis, veevoere, landbou- chemiese- en veemiddels. Hierdie proses behoort ’n meer moderne en doeltreffende regulatoriese raamwerk vir elke bedryf te skep.

’n Positiewe punt is dat die kapasiteit van die Registrateur se kantoor onder Wet Nr. 36 merkbaar versterk is deur die aanstelling van tegniese adviseurs en vakspesialiste om die bestaande registrasie-agterstand aan te pak. Daarbenewens het CropLife Suid-Afrika addisionele ondersteuning en kundigheid beskikbaar gestel om die werklading te help verlig en die spoed van regulatoriese prosesse te verbeter, wat uiteindelik tot voordeel van beide die chemiese bedryf en graanprodusente behoort te wees.

Grafiek 1: Gemiddelde prysverandering by swamdoders.
Grafiek 2: Gemiddelde prysverandering by onkruiddoders.
Grafiek 3: Gemiddelde prysverandering by insekdoders.

Prys van internasionale landbouchemiemiddels
Insetprysmonitering wys dat internasionale landbouchemikaliepryse in Julie 2026 verder gedaal het, wat welkome koste­verligting vir produsente kan meebring namate die 2026/2027-produksieseisoen naderkom. Die totale chemikalie-indeks het maand tot maand met 8,1% gedaal en is tans 2,1% laer as ’n jaar gelede.

Die grootste beweging was in swamdoders, waar pryse met 15% teenoor die vorige maand gedaal het. Hierdie afname is breed gebaseer, met produkte soos triflo­ksistro-
bien (-22%), tebukonasool (-18%) en propikonasool (-16%) wat almal betekenis­volle dalings getoon het. Op ’n jaargrondslag bly swamdoderpryse egter relatief stabiel en is hulle gemiddeld 1,7% laer as dieselfde tyd verlede jaar.

Insekdoderpryse het ook afwaarts beweeg en was gemiddeld 4,2% laer as die vorige maand. Die grootste daling was by lambda-sihalotrien, wat met 16,5% teruggesak het. Ondanks die maandelikse ver­swakking bly verskeie belangrike aktiewe bestanddele soos imidaklopried en karbofuraan steeds duurder as ’n jaar gelede, wat daarop dui dat kostedruk nie heeltemal uit die mark verdwyn het nie.

Onkruiddoderpryse het ’n meer gema­tigde afname van 2% maand tot maand getoon. Glifosaat, een van die belangrikste on­kruiddoders in die Suid-Afrikaanse graanbedryf, het met meer as 9% gedaal teenoor die vorige maand. Ten spyte hiervan is die gemid-
delde onkruiddoderindeks steeds byna 9% hoër as ’n jaar gelede, hoofsaaklik weens sterk jaar-tot-jaar-stygings in produkte soos trifluralien en metolachloor.

Vir produsente beteken die huidige tendens dat daar korttermynverligting in sekere chemiese insetkoste sigbaar is, veral by swamdoders en sommige insekdoders. Die jaar-tot-jaar-syfers wys egter dat kostevlakke in verskeie chemiese groepe steeds bo histo-
riese gemiddeldes bly. Hoewel die prysdruk dus afneem, bly chemikalie-uitgawes ’n belangrike komponent van produksiekoste wat noukeurig bestuur moet word in die komende seisoen.

Wat gebeur in die plaaslike chemiemark?
Alhoewel internasionale pryse van gewasbeskermingsmiddels en aktiewe bestand-
dele die afgelope tyd meer beskikbaar en deursigtig geraak het, bevind die plaaslike produsent hom steeds in ’n mark wat relatief ondeursigtig funksioneer. Die pryse wat Suid-Afrikaanse produsente vir landbouchemikalieë betaal, korreleer nie altyd met internasionale prystendense nie, aangesien faktore soos wisselkoersbewe­gings, verspreidingskoste, voorraadvlakke, registrasievereistes en markkonsentrasie ’n beduidende invloed op plaaslike pryse uitoefen. Gevolglik kan produsente dikwels
nie die volle voordeel van dalende internasionale pryse ervaar nie, terwyl stygende wêreldpryse weer relatief vinnig in die plaaslike mark weerspieël word. Hierdie dina-
mika beklemtoon die behoefte aan groter markdeursigtigheid en mededinging om beter prysontdekking vir Suid-Afrikaanse graanprodusente te verseker.

Samevatting
Ten spyte van uitdagings in die plaaslike landbouchemiemark bly gewasbeskermings-
middels ’n deurslaggewende komponent van suksesvolle graanproduksie. In ’n omge-
wing waar insetkoste onder druk bly en markseine nie altyd duidelik is nie, word dit toenemend belangrik dat produsente toegang het tot betroubare markinligting en mededingende prysopsies. Groter deursigtigheid deur die hele waardeketting kan daartoe bydra om kostedoeltreffendheid te verbeter en die langtermynvolhoubaarheid en mededingendheid van die Suid-Afrikaanse graanbedryf te versterk.