
Deon du Toit,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Daar word verwag dat ’n baie sterk El Niño-gebeurtenis tydens die somergroeiseisoen van 2026/2027 sal plaasvind. Droër en warmer toestande oor die somerreënvalgebied van Suid-Afrika gedurende die somer is tipies tydens El Niño, en van die grootste droogtes in die verlede het tydens El Niño-somers voorgekom, met groot negatiewe impakte op mielieproduksie. Voorbeelde van droë, warm somers wat met El Niño geassosieer word, sluit veral die somers van 1991/1992, 2006/2007, 2015/2016 en 2023/2024 in, waartydens die mielie-oes tussen 30 en 50% laer was as gedurende die voorafgaande somers.
In die mielieverbouingstreek wissel die voorkoms van onder-
normale reënval tussen 10 en 30% tydens jare sonder El Niño. Tydens sterk tot baie sterk El Niño-gebeurtenisse wissel die voorkoms van ondernormale reënval tussen 40 en 85% oor die streek. El Niño-somers word ook gekenmerk deur hoër maksi-
mum temperature, met gereelde hittegolwe oor die binneland. Een van die grootste nadele vir gewasproduksie is warm en droë toestande tussen middel Januarie en laat Februarie, ’n tydperk van kritieke belang vir die sensitiewe fases van pluimvorming en graanvulling tydens die ontwikkeling van die mieliegewas. Die rede hiervoor is dat tropiese stelsels tydens El Niño-somers gewoonlik nie oor die binneland van Suider-Afrika vestig nie, en gevolglik is sonnige, droë en warm toestande meer kenmerkend van die middel tot laat somer.
Plantvenster
Een van die belangrike vrae wat produsente hulself voor ’n El Niño-somer afvra, is hoe die plantvenster benader moet word om risiko te verminder en die kans op beter op-
brengste te vergroot. Tipiese oorwegings sluit in om vroeg genoeg te plant om voldoen-
de hitte-eenhede te akkumuleer en die impak van moontlike vroeë ryp teen die einde van die somer te vermy, terwyl daar laat genoeg geplant moet word om voldoende reën tydens en ná die plantperiode te kry. Tydens El Niño-somers is daar verdere oorwegings wat belangrik is om in gedagte te hou, soos die groter kans op ʼn droë, warm tydperk gedurende die Januarie-Februarie-periode, asook hoër maksimum temperature oor die algemeen gedurende die groeiseisoen.
Om die vraag met betrekking tot die plantvenster tydens ’n baie sterk El Niño-somer te ondersoek, is ʼn gewasmodel gebruik vir ’n aantal punte wat oor drie gebiede versprei is:
- Ooste: Middelburg/Ermelo/Reitz
- Weste: Klerksdorp/Potchefstroom/Kroonstad
- Verre weste: Lichtenburg/Wolmaransstad
Die DSSAT CERES-Maize-model is gebruik met daaglikse historiese weerdata van die Landbounavorsingsraad (LNR) vir die periode 1961 tot 2025 om die effek van verskil-
lende plantdatums op uiteindelike opbrengste tydens historiese sterk tot baie sterk
El Niño-somers te evalueer. Die model is opgestel met die tipiese grondvorme wat in
die drie gebiede voorkom, spesifiek vir die punte waarvoor die weerdata gebruik is. Die modelsimulasies is gedoen vir mediumseisoen- sowel as langseisoen- droëlandmielies. Die bestuurspraktyke wat plant en bemesting betref, is binne elke area konstant gehou, soos in Tabel 1 opgesom.

Plantdatums is gekies om die veranderende effek van weerstoestande tydens sterk tot baie sterk El Niño-somers te demonstreer, en sluit ook teoretiese plantperiodes binne sekere gebiede in (soos byvoorbeeld Desember-Januarie in die ooste) waartydens daar in die praktyk nie geplant word nie.
Die gesimuleerde opbrengsdata is volgens drie groepe verdeel, gebaseer op die El Niño- Suidelike Ossilasie (ENSO), om die opbrengs te vir somers tydens sterk tot baie sterk
El Niño-gebeurtenisse met opbrengste tydens ander ENSO-toestande te kontrasteer:
- El Niño: Die tien somers tydens die sterkste El Niño-episodes sedert 1961
- La Niña: Die tien somers tydens die sterkste La Niña-episodes sedert 1961
- Neutraal: Die tien somers waartydens daar geen aanduiding was van ’n La Niña of
El Niño sedert 1961
Tabel 2 gee ’n opsomming van die bevindinge, uitgedruk as ʼn persentasie van die gemiddelde opbrengs vir die plantperiode waarvoor die hoogste gemiddelde opbrengs gesimuleer is. Die resultate is gegroepeer vir die oostelike, westelike en verre westelike produksiegebiede, soos aangedui. Binne elke gebied is die resultate verder onderver-
deel volgens ENSO-klas, naamlik die tien sterkste La Niña-somers, die tien somers met die mees neutrale toestande en die tien somers wat met die sterkste El Niño-episodes sedert 1961 geassosieer is. Die gemiddelde gesimuleerde opbrengs (t/ha) vir die plant-
periode met die hoogste gemiddelde opbrengs word ook vir elke ENSO-klas en produksiegebied aangedui.


Oor al drie gebiede is die gemiddelde mielie-opbrengs tydens sterk tot baie sterk
El Niño-somers 1,5 tot 2,5 t/ha laer as tydens La Niña-somers (Tabel 2) wanneer daar binne die tipiese optimale mielieplantvenster geplant word, naamlik Oktober-November in die ooste, November-Desember in die weste en laat November-Desember in die verre weste. Dit is die plantvensters waarin die hoogste gemiddelde opbrengste oor die algemeen behaal word. Dit verteenwoordig ’n afname van sowat 20% in die ooste en tot soveel as 40% in die verre weste wanneer die gemiddelde opbrengs tydens El Niño met dié tydens La Niña-somers vergelyk word.
Wanneer daar ná die optimale plantvenster geplant word, word die opbrengspotensiaal tydens sterk tot baie sterk El Niño-somers oor al drie gebiede minder negatief beïnvloed as tydens La Niña-somers, maar veral in die ooste. In die ooste is daar byvoorbeeld gemiddeld geen verskil in opbrengs tydens El Niño-somers vir mielies wat tussen die tweede helfte van Oktober en die tweede helfte van November geplant word nie, terwyl daar tydens La Niña-somers gemiddeld ʼn afname van 16% is. In Desember word die verskil heelwat groter, met ’n baie sterker negatiewe tendens tydens La Niña-jare en slegs ʼn matige afname tydens El Niño-jare.
Dieselfde tipe verskille kan oor die westelike en verre westelike gebiede waargeneem word, hoewel die maksimum opbrengspotensiaal eers later in die seisoen bereik word (November-Desember in die weste en Desember in die verre weste). Ook in hierdie gebiede is die plantperiode waartydens die beste gemiddelde opbrengste bereik word sowat 15 dae later tydens El Niño-somers as tydens La Niña-somers. In teenstelling hiermee is daar groter afnames in opbrengspotensiaal wanneer daar vroeër geplant word (September-Oktober in die ooste, Oktober-November in die weste en verre weste) tydens El Niño-somers as tydens La Niña-somers.
Droëland-langseisoenmielies
Die patroon vir droëland-langseisoenmielies is grootliks dieselfde as dié van medium-seisoenmielies, maar is sowat twee weke tot ʼn maand vroeër, terwyl die hoogste gesimuleerde opbrengste oor die algemeen laer is as dié van mediumseisoenmielies. Die opbrengste is ook tydens El Niño-somers sowat 20% laer in die ooste tot 40% laer in die verre weste as tydens La Niña-somers. Die plantperiode waarin die beste gemid-
delde opbrengste gesimuleer word, is egter tydens sterk tot baie sterk El Niño-somers oor die algemeen sowat twee weke later as tydens La Niña-somers. Daar is ook ’n stadiger afname in opbrengste wanneer plantdatums na die optimale plantvenster verskuif word tydens El Niño-somers. Eweneens is die afname in gesimuleerde op-
brengste sterker tydens El Niño-somers as tydens La Niña-somers wanneer daar vroeg binne of vóór die optimale plantvenster geplant word.
Om die verspreiding oor tyd van die gesimuleerde opbrengste beter te verstaan, gee Grafiek 1 ’n opsomming van hoe die waardes per plantperiode versprei is vir die tien sterk tot baie sterk El Niño-somers en die tien sterkste La Niña-somers, vir mediumseisoen-droëlandmielies in die verre weste.

Die boksdiagram (Grafiek 1) beklemtoon dat oor die verre westelike gebied ’n later plantdatum in die verlede met beter opbrengste geassosieer is in die toestande wat tydens sterk tot baie sterk El Niño-somers voorgekom het. Daarteenoor is ’n vroeër plantdatum tydens La Niña-somers minder nadelig vir uiteindelike opbrengste, terwyl die risiko van ’n laer oes duidelik toeneem met ’n later plantdatum. Die mediaanop-
brengs vir mielies wat gedurende die eerste twee weke van November geplant is, is ongeveer ’n halwe ton hoër tydens La Niña-somers, maar ’n halwe ton laer tydens
El Niño-somers, as dié vir mielies wat gedurende die eerste twee weke van Desember geplant is. Eweneens is die mediaanopbrengs vir mielies wat vroeg in Januarie geplant is tydens La Niña-somers sowat 1 t/ha laer as vir mielies wat gedurende die tweede helfte van November geplant is. Daar is ook ’n groter risiko vir heelwat laer opbrengste, soos aangedui deur die groot verskil in die minimum waardes van ongeveer 2 t/ha.
Daarenteen is daar geen noemenswaardige verskil nie in die mediaan- sowel as die minimum opbrengste vir mielies wat gedurende dieselfde twee periodes geplant is tydens sterk tot baie sterk El Niño-somers. Dit moet egter beklemtoon word dat daar heelwat meer onsekerheid oor die opbrengs is wanneer daar eers teen vroeg Januarie geplant word. Die verspreiding van opbrengste is dan heelwat groter, soos gesien kan word aan die groter hoogte van die boks, in vergelyking met ’n laat-Desember-plantdatum.
Dit is dus duidelik dat Desember ’n veiliger plantperiode as vroeg Januarie is, gegewe die kleiner onsekerheid van die uitkomste (korter boks) en die effens hoër mediaan-
opbrengs. Dit is die geval ten spyte daarvan dat die gemiddelde opbrengs oor die jare vir mielies wat in Januarie geplant word, hoër is, soos in Tabel 2 aangedui.
Mediumseisoen-droëlandmielies in die ooste
Grafiek 2 gee ’n opsomming van hoe die waardes per plantperiode versprei is vir die tien sterk tot baie sterk El Niño-somers en tien sterkste La Niña-somers, vir mediumsei-
soen-droëlandmielies in die ooste.

Uit die grafiek is dit duidelik dat daar in die ooste ’n baie sterker afname in opbrengs-
potensiaal ná die eerste helfte van November tydens La Niña-somers as tydens sterk tot baie sterk El Niño-somers voorkom. Tussen laat Oktober en laat November is daar ’n afname van ongeveer 2 t/ha in die mediaanopbrengs tydens La Niña-somers, teenoor geen noemenswaardige verandering tydens El Niño-somers nie. Wanneer ’n vroeë-Desember-plantdatum met ’n vroeë-Oktober-plantdatum vergelyk word, is die gesi-
muleerde opbrengste oor die jare gemiddeld beter tydens El Niño-somers, terwyl daar tydens La Niña-jare ’n afname van ongeveer 3 t/ha in opbrengs is.
Ten spyte daarvan dat die opbrengspotensiaal met later plantdatums tydens El Niño-somers relatief goed bly in vergelyking met La Niña-somers, neem die risiko van ’n misoes wel toe. Dit word aangedui deur die afname van ongeveer 4 t/ha in die mini-
mum gesimuleerde opbrengste vanaf November tot laat Desember, soos gesien kan word in die dalende onderste punt van die vertikale lyn tussen die November- en Desember-plantdatums.
Opsomming
Opsommend dui die simulasies daarop dat, gegewe die toestande tydens planttyd, dit tydens El Niño-somers voordeliger kan wees om eerder aan die laat kant van die plant-
venster – of selfs net ná die tipiese optimale plantvenster – te plant as om vroeg of vóór die optimale plantvenster te plant. Die groter aantal hitte-eenhede wat tydens El Niño-somers in die laat somer kan akkumuleer, verhoog die opbrengspotensiaal van later plantdatums, veral in die oostelike gebiede, in vergelyking met La Niña-somers.
Hoewel dit dus oor die algemeen relatief voordelig kan wees om tydens El Niño-somers later te plant, dui die data ook daarop dat die risiko van ’n misoes wel toeneem wan-
neer daar buite die tradisionele optimale plantvenster geplant word. Die bevindinge
dui egter ook daarop dat tydens sterk tot baie sterk El Niño-somers, indien toestande tydens die optimale plantvenster nie suksesvolle vestiging van die mielieoes toelaat nie, ’n effens later plantdatum steeds redelike opbrengste kan lewer wat vergelykbaar is met dié wat verkry sou word indien daar tydens die optimale plantvenster geplant kon word.
Daaglikse weerdata is verkry vanaf die LNR se weerdatabank (kontak Irene by vgenti@arc.agric.za).

















