Winter

Gepubliseer: 9 Junie 2026

33

Beste Grootneef

Nou ja, ons neef in die wildtuin kon op sy vingers aftel wat die oggendrit opgelewer het: wildebeeste, rooibokke, vlakvarke, rooibokke, koedoes, rooibokke, twee hiënas, olifante, rooibokke en – wraggies – leeus! Ai, met my oggendrit kantoor toe deur die beton­oerwoud, kon ek net ’n paar Orlando Pirates en taxi’s sien. Geen opwinding van enige rooibok op die snelweg nie!

Wintertyd is ook tyd om die bakkie se neus noorde toe te druk vir bosjag op Kruitfontein. Dis net anders wanneer ’n patrys se gekras jou wakker maak om die oggendstemming te beleef met ’n dagbreek wat die nag se donker versag. Die oosterkim in ’n sagte amber gekleur, met die weste in ’n diep bloupers opgetower wat plotseling verdwyn wanneer die son sy kop uitsteek en die sonstrale oor die rant en dal van die Bosveld streel.

Soms, as jy mooi luister, kan jy hoor hoe die nag die dag groet met ’n bosuil­tjie se laaste roep voordat hy in sy skuiling ver­dwyn vir ’n dagslapie. Aan die ander kant van die kamp ding die neushorings mee om die nuwe dag met sang en gefluit aan te kondig.

Die bos en die veld is nooit stil nie – dit leef. Die windjie roer altyd deur, al is dit net sagweg. Êrens skrop ’n eekhoring sy ontbyt tussen blare uit. Die Bosveld gee mildelik aan dié wat dit wil beleef.

Net buite die kamp kom ek op ’n bosbokram af wat met sy sagte tred vorentoe beweeg – voorpote voel-voel voordat sy hoef se volle gewig versigtig geplaas word. Bosbokkies is van die skimme van die bos wat jy nie aldag raakloop nie. Ons kyk na mekaar – so naby dat ek sy ooghare deur die teleskoop se lens kan sien. Ek laat die kolf sak. Sommige oomblikke is net te spesiaal om met ’n skoot af te sluit.

In die bos moet jy sagter kyk, met bosoë. Die swaai van ’n stert, die wikkel van ’n oor of ’n takkie wat roer kan die ets van ’n koedoe in die bos ontsluit. Altyd stilweg beweeg ’n koedoe, in murg en been aangepas vir die digte bos.

Wanneer jy in die bos stap, al poog jy hoe sag, kom jy gou agter dat jy bloot ’n gas is. Die diere van die bos hoor, sien of ruik jou lank voor jy van hulle bewus is. ’n Stewel wat ’n takkie laat kraak of ’n klippie wat rol. Jou beste pogings in die bos word dikwels beantwoord met ’n rooibokram wat sy waarskuwing aan die trop blaas, ’n koedoe wat blaf en witstert teen die berg uitdraf, of ’n ribbok se skerp fluit om met die omkykslag spitshoring in die skadu van die bos te verdwyn.

Soms, wanneer alles mooi saamwerk, met versigtige voetval windop, bosoë aan, stadig deur die bos, kry jy die geleent­heid om die koning van die Bosveld in volle prag en praal aan te tref. ’n Koedoebul wat met sy spiraalhorings sy agterlyf krap of met ’n uitgerekte nek die sappigste blare of peule uit ’n boom kies. En as jy versigtig kyk, sal daar waarskynlik nog ’n paar naby wees – koedoes loop meestal saam, meer ore bied net beter radar.

Om dan die 30-06 stadig te lig tot die teleskoop se kruishaar op die regte plek fokus en die sneller te druk, bly ’n grootse ervaring. Wanneer die grys bosbul val en die skoot se eggo in die klowe afrol, weet jy wat voorreg beteken – dis jou nie elke dag beskore nie.

Wanneer jy daarná by die bosbul kniel, bied al jou respek, want met elke draai van sy horing het hy ’n winter oorleef. Wees stil op daardie oomblik en ervaar ’n diepe dankbaarheid.

Die Bosveld is altyd stil nadat ’n skoot geklap en ’n grote geval het. Maar binnekort val die voëlgesang weer weg en gaan die veld sy gang.

Moet nooit te kordaat wees oor ’n knap skoot nie. Volgende keer hou die Bosveld dalk sy hand toe, met geen kans wat aan die jagter gebied word nie.

Geniet die kampvuur, gesellige samesyn van vriendskap, die bos en die diere van die bos. Wintertyd is jagtyd, maar as jy veld toe gaan net om ’n bok te skiet, gaan jy brandarm terugkom. Indien jy egter veld toe gaan in nederige ootmoed om die volheid van die skepping te ervaar, gaan jy met baie meer as biltong terugkom. Dan kom jy terug met ’n hele sak “onthou-jy-nogs” – vol herinne­ringe vir oudag se kampvuurtjie wanneer jy nie meer die bospaadjies kan stap of ’n koedoe in klowe kan gaan soek nie.

Groete op die Oosgrens!

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.