Daar word jaarliks by die Graan SA Kongres tyd ingeruim vir wegbreeksessies waartydens die verskillende kommoditeitswerkgroepe dringende sake bespreek en terugvoer aan afgevaardigdes gee.
Somergraangewasse
Mielies
Markoorsig
Will Grobler, voorsitter van die Mieliewerkgroep, het tydens sy terugvoersessie gesê boproduksievlakke in die markbalans is kommerwekkend. Die werkgroep wou weet hoe Graan SA behulpsaam sal wees om dit te navigeer.
Onkruidweerstandigheid
Noukeurige monitering in hierdie verband is noodsaaklik.
Insetkoste
Daar is ’n behoefte aan deursigtigheid betreffende insetkoste en die werkgroep wou ook weet hoe Graan SA in hierdie verband kan help.
Sonneblom
Markoorsig
Willie Marais, visevoorsitter van die Sonneblomwerkgroep, het tydens sy terugvoersessie gesê sonneblom is een van die enigste kommo-diteite wat nie in oorproduksie is nie; dus is die potensiaal groot.
Plantdatums
Dr Safiah Ma’ali van die LNR-Graangewasse het die groep besoek en die belangrikheid van plantdatums verduidelik. Produsente wat meer as 42%-olie wil stroop en meer as 2 ton/ha wil oes, moet ver-kieslik nie in Januarie en Februarie plant nie.
Genetiese vordering
Sonneblom se genetiese vordering in Suid-Afrika is sowat 1,9% per jaar sedert 1970, wat effens beter is as die koers in Argentinië.
Sclerotinia
Dr Lisa Rothmann (Departement Plantwetenskappe, Universiteit van die Vrystaat) het die werkgroep hieroor ingelig en fisiese voorbeelde verskaf. Geen kultivar is immuun teen hierdie siekte nie, maar sekere kultivars is wel meer verdraagsaam.
Groei vir Goud
Stompie Olivier, topproduksie-sonneblomwenner in Graan SA se Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie, het met die groep gesels en wenke gedeel: Plant sonneblom op mielies, hou by plantdatums, gee aandag aan stand, volg ’n standaardspuitprogram en gaan eerder vir kleiner koppe om dowwe pitte te beperk.
Premies
Gerhard Burger, junior landbou-ekonoom by Graan SA, het met die groep gesels oor die premies wat olie-perse gee, asook vraag-en-aanbodsyfers. Die werkgroep versoek dat hulle hierdie syfers weekliks ontvang. “Meer tydige inligting as die maandelikse grondslag waarop dit tans uitgereik word, is nodig om die speelveld gelyk te kry.”
Navorsing
Mike Ellis, bestuurder: Navorsingskoördinering en NAMPO Tech, het met die groep gesels oor die samewerking tussen die bedryf en universiteite.
Sorghum
Ebert du Plessis, voorsitter van die Sorghumwerkgroep, het terugvoer gegee.
Stengelvlieg
Prof Johnnie van den Berg, landbou-entomoloog van die Noordwes-Universiteit, het met die groep gesels oor gevalle van die sorghum-stengelvlieg wat vanjaar by Roedtan waargeneem is. Hy het verduidelik hoe die vlieg beheer kan word.
Sorghum-kluster
Gizelle Nel, voorsitter van die Sorghum-kluster, het met die groep geskakel om meer oor die organisasie met produsente te deel. Die doel van dié bedryfsforum is om die sorghumbedryf te laat herleef en waarde toe te voeg.
Trust
Willem Groothoff, voorsitter van die Sorghum-trust, het goedkeuring gevra om die verhoging van die sorghuminvoertarief te ondersoek en opsies te vind. Daar lê tans sowat 30 000 ton sorghum wat vir Botswana bedoel was in Suid-Afrika. Dit bly ’n uitdaging om hiervan ontslae te raak en sit die plaaslike mark onder druk wat pryse betref.
Genetika
Dit bly ’n uitdaging vir sorghumprodusente om genetika te vind wat met mielies kan kompeteer om so beter winsgrense te handhaaf.
Sojabone
Ryk Pretorius, voorsitter van die Sojaboonwerkgroep, het tydens sy terugvoer genoem dat Vuyo Mpumza (bestuurder: Kommoditeite en Kapitaalmarkte by die Johannesburgse Effektebeurs) hul groep tydens die wegbreeksessie besoek het.
Liggingsdifferensiaal
Mpumza het terugvoer oor die alternatiewe liggingsdifferensiaal gegee. Die proeftyd hiervoor het op 28 Februarie vanjaar geëindig. Die inligting word verwerk en teen die einde van Mei behoort terugvoer oor die voortsetting daarvan beskikbaar te wees. Die status quo word vir die volgende seisoen gehandhaaf.
Verdere terugvoer van die effektebeurs is dat handelsvolumes gestyg het. Oopstaande posisies het met 32% en handelsaktiwiteit met 155% gestyg omdat daar groter deelname in die mark is.

Sojaboonkontrak
’n Gesprek is gevoer oor die kontrak wat van 50 na 100 ton ver-ander is. Produsente meen dat dit heroorweeg moet word. Die werkgroep begin ’n proses om te versoek dat daar teruggegaan word na 50 ton.
In- en uitvoerverklarings
Hier is heelwat uitdagings, veral betreffende implementeringskoste. Die werkgroep gaan voort om hierdie saak te dryf.
Sojaboonproewe
Annelie de Beer van die LNR-Graangewasse het terugvoer aan die werkgroep gegee. Vanjaar was 47% van die kultivars van die Intacta-proewe nuwe sojaboonkultivars. Daar is ’n merkbare verbetering in prestasie.
Saadpryse
’n Verhoging tussen 0 tot 5,2% word vir die nuwe seisoen in die vooruitsig gestel. Daar is versoek dat die werkgroep kyk na mega-nismes om korting te beding vir produsente wat groot hoeveelhede saad nuut aankoop.
Prestasiekriteria
Daar is reeds ver gevorder met die sukses van die statutêre hef-fing en vergaderings vind plaas met die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) en saadmaatskappye.
Planttelersregtewet
Dit is belangrik dat produsente kennis neem van die stipulasies in die nuwe wet. Hierdie wet gee aan produsente die reg om oopbe-stuifde saad, soos sojaboonsaad, terug te hou. Dit is ’n voorreg en saad mag teruggehou word vir eie gebruik.
Wanneer saad egter op een of ander manier verhandel word, is dit ’n kriminele oortreding wat tot gevangenisstraf kan lei. Pretorius het beklemtoon dat produsente rentmeesterskap van hierdie voorreg moet neem en nie die bedryf moet benadeel nie.
Kobus van Huyssteen, tegniese bestuurder by SANSOR, het daarop gewys dat die eienaars van die saadregte se toestemming benodig word om saad terug te hou en/of skoon te maak.
Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, het op sy beurt verduidelik dat “Farmer’s Privilege” in die Plantverbeteringswet vervat is. Daar is twee bepalings van toepas-sing wanneer saad teruggehou word, naamlik regverdige vergoe-ding en verklaring aan die plantteler dat saad teruggehou word.
Daar is ’n verskil tussen wettig teruggehoude saad en brown bagging wanneer saad sonder die medewete en/of goedkeuring van die plantteler verhandel word.
Saadbeskikbaarheid
Saadmaatskappye is versoek om te verseker dat voldoende saad beskikbaar is.
Sclerotinia
Dr Rothmann het ook hier terugvoer oor die siekte gegee. Debbie Matteucc, voorsitter van die SA Bioprodukte-organisasie (SABO), het daarop gewys dat hierdie siekte chemies sowel as biologies bekamp moet word.
Navorsing
Versoeke vir navorsing oor rywydte en aalwurm is ontvang.
Grondbone
Gert Pretorius, voorsitter van die Grondboonwerkgroep, het terugvoer gegee en genoem dat die bedryf tans goed vertoon. Daar was in die vorige seisoen ’n oorskot van tussen 10 en 15%.
Navorsing
Dr Sonia Steenkamp van die LNR-Graangewasse het die werkgroep toegelig oor die verskillende aalwurmtipes.
Prysverandering
Geen drastiese prysveranderinge word vir die volgende twee jaar voorsien nie, maar die situasie in die Midde-Ooste word wel dopgehou.
Invoertariewe
Die groep werk hard om die tariewe op grondboonbotter en geroos-terde grondbone in plek te kry. Graan SA en die Grondboonforum werk hieraan.
Saadsuiwerheid en kultivarontwikkeling
Die LNR werk daaraan en dit neem lank om nuwe kultivars te registreer.

Wintergraangewasse
Jose de Kock, voorsitter van die Wintergraanwerkgroep, het die druk beklemtoon wat Wes-Kaapse produsente tans ervaar.
Teling-en-tegnologie-heffing
Die werkgroep het dit deurtrap en ’n mandaat is verkry dat Graan SA kan voortgaan met die aansoek, mits dit belyn is met die nuut geïmplementeerde wetgewing.
Johannesburgse Effektebeurs
Mpumza het hierdie wegbreeksessie ook bygewoon. “Die boodskap dat produsente swaarkry, is duidelik oorgedra,” het De Kock gesê.
Artikel 7-komitee
“Daar is baie onregverdigheid in die bedryf en dit moet uitgesorteer word. Die komitee is belangrik om ons in daardie proses te help.”
Gars
De Kock het beklemtoon dat hernude pogings aangewend is om die noordelike produsente betrokke by die stelsel te kry. Dit is veral belangrik om ’n verhouding met kopers op te bou.
Kanola
Saad is beskikbaar en sou noordelike produsente betrokke wil raak, kan hulle die werkgroep kontak.


















