Beste Grootneef
Die ander dag sit ek in die dorp by ’n robot en wag om te ry. Die straat was stil, met enkele voertuie wat staan en luier, hul bestuurders in afwagting op ’n groen lig en die geleentheid om aan te beweeg. Die vrou in die voertuig langs my praat driftig op haar selfoon – sy moes ’n regsgeleerde gewees het, want ek kon hoor hoe sy aan iemand verduidelik wat “de facto” beteken.
Dit was veiliger om anderkant toe te kyk. Aan my linkerkant sit ’n man en tik met sy vingers op die stuurwiel, sy volle fokus op die robot met ’n rooi lig. In sy lewe was ’n groen lig al wat op daardie stadium saak gemaak het.
’n Ligte windjie dwarrel deur die straat en jaag ’n paar plastieksakke rond. En toe die wonderwerk – die boom langs die straat was gereed daarvoor: Toe die windjie deur sy takke streel, reën goudgeel herfsblare op die trop karre wat in die straat se drukgang vasgekeer is. Oral om, om ons heen, was dit herfs.
Die lig slaan oor na groen en die vrou met haar selfoon teen haar oor is eerste deur die kruising. Of sy haar telefoniese skermutseling gewen het, bly onseker. Op haar hakke, die man wat daarvan hou om op sy stuurwiel te trommel. Die kar agter my gee twee kortaf toete, wat in enige taal beteken moenie sit en “hum-en-ha” met ’n groen lig voor jou nie.
Ek gee ’n laaste kyk na die goue boom langs my, met die helder son-lig wat deur die takke flonker. Die wonder van ’n blarereën met ’n herfsluggie was verby en dit was tyd om aan te beweeg. Met die vaart van voertuie wat om my die kruising oorsteek, twyfel ek of hulle die oomblik van die aanraking van ’n nuwe seisoen en die boom se afskeid van die somer beleef het. Dit was plotseling en finaal verby.
Die middag op pad plaas toe let ek op hoe die veld en die bome gereed maak vir die winter wat op pad is. Die veld se kleur het verander na ’n pastel van bruin en roesbruin. Die bome se blare het skielik ’n geel ondertoon, waar hulle nog ’n week tevore met ’n vol groen somerkleed gespog het. Die somer is besig om die aflosstokkie oor te gee aan herfs sodat sy haar verskil kan maak en die veld en die diere van die veld vir die winter voorberei.
En wat ’n somer was dit nie – met vrolike somerreën vroeg in die seisoen wat trekkers oor die Vrystaat heen laat dreun het met vroeë aanplantings. Na die feesdae het die reën se kraan egter toegedraai, met ’n kurkdroë Januarie en Februarie. En toe, die genadereën van Maart wat vele gewasse van ’n gewisse ramp gered het. In so ’n mate dat mielies, sojas en sonneblom spog met ’n swaar oes wat op pad is.
Van wanhoop tot oorvloed in ’n enkele week na milde reënvlae wat oor die Vrystaat en die Noordwes neergestuif het. Dis net die pryse wat lol, die gelykbreekmerkie skuif al hoe hoër vir graanboere, met die risiko-pla-gees wat op vele plase rondsweef en twyfel saai of nog ’n seisoen se aanplantings die moeite werd is.
Op die grondpad, vol slote na die dans van die reën, kyk ek oudergewoonte na die landmerke en plase soos die bakkie verbydreun. Blydskap, Engelsmansrandjie, Rondebult, Rooirand, Magrietasrust en Swartlaagte. Van vanmelewe se gemeenskap is daar weinig wat nog daar woon. Die meeste is weg dorp toe vir ’n veiliger heenkome of om ’n ander meer seker toekoms te gaan leef as wat ’n plaas kan bied.
Afskeid, soos die herfs, gebeur geleidelik. Dis meestal nie in ’n oogwink nie, maar ’n gewaarwording dat iets aan die verander is. Die swaar van afskeid is nie noodwendig om aan te beweeg na ’n nuwe toekoms nie, maar om dinge te onthou soos dit was. In die ou plaasopstalle wat nou leeg staan, was gesinne wat gelag en geleef het. Wanneer jy nou daar verbyry, hoor jy net die eggo’s van ’n vol skoolbus met kinders wat by plaashekke opgelaai is. En dan wonder jy wat van wie geword het.
By die plaashek neem ek langer as gewoonlik om die hek weer toe te stoot. Vir ’n oomblik drink ek die gesig van vlakte en vleie in. Die herfswindjie streel saggies oor die bruin grassade. In die vlei spog al hoe meer populiere met ’n geel blaredos. Die winter is op pad.
Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.














