VOORSPRAAK, EENHEID EN LEIERSKAP IN AKSIE

Gepubliseer: 5 Maart 2026

36
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

IN ONSTUIMIGE TYE IS DIT NODIG OM VIR ’N OOMBLIK STIL TE STAAN EN TE BESIN OOR WIE ONS IS, WAARVOOR ONS STAAN EN HOE OM ONS DOELWIT TE VERWESENLIK OM DIE VOLHOUBAARHEID VAN SUID-AFRIKA SE GRAANPRODUSENTE DEUR WINSGEWENDHEID TE VERSEKER. DIE SENTRALE VRAAG BLY OF SUID-AFRIKAANSE GRAANPRODUSENTE BETER DAARAAN TOE IS OMDAT GRAAN SA BESTAAN AS WAT HULLE SOU WEES AS DIT NIE BESTAAN HET NIE.

Die antwoord lê in die kragtige beginsel van “saam is ons sterker” soos weerspieël in ons logo. Graan SA bestaan as gevolg van dit wat graanprodusente kan bereik deur uiting te gee aan ’n verenigde boodskap en ’n duidelike visie wat outentiek en relevant is en verbind is met die realiteite en dinamika van graan- en oliesaadproduksie, landelike gemeenskappe en die samelewing in Suid-Afrika. Hierdie beginsel vorm nie net wie ons is nie, maar ook hoe ons met alle rolspelers omgaan, wat duidelik blyk tydens die jaarlikse NAMPO Oesdag op NAMPO Park.

By Graan SA werk ons met feite, fokus en vasberadenheid. Ons voorspraak begin deur persoonlike gesprekke en verhoudingsbou wat vertroue vestig voordat ons ons standpunt handhaaf. Gegrond op data en feite, dra ons konstruktief by eerder as om sonder konteks te kritiseer. Terwyl ons openbare protes vermy, eskaleer ons kwessies na die hoogste sake-, politieke, regerings- of regsvlakke wanneer produsentebelange dit vereis, om só te verseker dat ons stem gehoor en gerespekteer word.

Integriteit
Een van die eerste insigte wat ek oor Graan SA gekry het, is dat die organisasie se reputasie op geloofwaardigheid gebou is. Ons vennote neem ons ernstig op omdat ons sienings op feite gegrond is, nie op tendense of persoonlike guns nie, en hierdie vertroue is verdien oor jare van konsekwente, nougesette betrokkenheid.

Graan SA se styl van betrokkenheid is gegrond op beginselvastheid. Ons maak ferm voorspraak namens ons lede terwyl ons geloofwaardig genoeg bly om na geluister te word en genoeg vertrou word om uitkomste te lewer. Dit onderskei ons as ’n doelgerigte, resultaatgedrewe organisasie. Ons is nie ’n “geraasorganisasie” wat aandag soek nie. Ons is ’n produsente-organisasie wat toegewy is om die belange van Suid-Afrikaanse graanprodusente op ’n betekenisvolle en volhoubare wyse te bevorder.

Hierdie benadering is nie outomaties of voor die hand liggend in vandag se omgewing nie. Ons funksioneer in ’n landskap wat oorheers word deur vlietende aandag, klikgedrewe inhoud en selfverklaarde “kundiges” wat aanloklike maar ongeverifieerde klankgrepe deel. Ons kan in die versoeking kom om onsself af te vra of ons dieselfde benadering moet volg om aan onmiddellike verwagtinge te voldoen en vir ons lede die teken te gee dat ons namens hulle voorspraak maak. Tog moet ons stilstaan en ’n doelbewuste keuse maak tussen harde, reaktiewe boodskappe en weldeurdagte, beginselvaste betrokkenheid wat volhoubare resultate lewer.

Ons benadering moet doelbewus wees – ons bou verhoudings op rasionaliteit en vennootskappe en planne op bewyse en beginsels terwyl ons met fokus, professionaliteit en strategiese insig omgaan om te verseker dat ons optrede geloofwaardig is met blywende impak. By Graan SA gaan betrokkenheid nie oor retoriek of sigbaarheid nie maar oor die omskakeling van werklike uitdagings van produsente in goed beredeneerde standpunte, uitvoerbare oplossings en effektiewe voorspraak wat resultate lewer.

Vir ons begin voorspraak waar dit die meeste saak maak – by die plaashek. Ons grond ons posisies op dit wat produsente ervaar, soos insetkoste, pryssiklusse, gewastoestande, risikoblootstelling en die praktiese realiteite daarvan om ’n graanbesigheid in Suid-Afrika te bedryf.

Ons omskep die realiteite op die grond in duidelik gedefinieerde kwessies, gestaaf deur bewyse en uitvoerbare beleidsoplossings. Ons glo dat sterk en effektiewe voorspraak by akkuraatheid, deeglike begrip en bewysgebaseerde insig begin en nie by emosies of ongegronde bewerings nie.

Deur samewerking versterk ons ons impak sonder om ooit die produsent se prioriteite in die gedrang te bring. Baie uitdagings kan nie deur slegs ’n enkele stem opgelos word nie. Om betekenisvolle resultate te behaal, werk ons saam met landboubesighede, navorsers, finansierders, logistieke vennote en regeringsinstellings. Een beginsel bly ononderhandelbaar: Die belange van produsente is altyd sentraal. Vennootskappe is instrumente om ons stem te versterk, nie beginselkompromieë nie.

Net so meet ons sukses volgens impak, nie aktiwiteit nie. Ware sukses word behaal wanneer produsente tasbare verbeterings ervaar, insluitend duideliker regulasies, minder knelpunte, billiker implementering, sterker mededingendheid, verminderde risiko en ’n meer veerkragtige sektor. Soos wat Graan SA met bestendige hande, bewysgebaseerde insig en onwrikbare volharding voorspraak maak, sal ons fokus op uitkomste bly deur voortdurend strategieë te verfyn om meetbare voordele aan produsente te lewer.

By die 2026 Graan SA Kongres sal ons die geleentheid hê om bymekaar te kom, ons gedeelde verbintenis en strategiese pad te herbevestig, en mekaar aan te moedig om vorentoe te beweeg met vasberadenheid, eenheid en moed. Deur hierdie gees van samewerking, geloofwaardigheid en meedoënlose toewyding, demonstreer Graan SA steeds waarom graanprodusente bestaan en waarom hulle die wêreld ’n beter plek maak.