
senior landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za
2026/01/06
IN 1998 HET SUID-AFRIKA SE KANOLABEMARKINGSJAAR AFGESKOP MET SOWAT 100 TON SE BEGINVOORRAAD, AANGEVUL DEUR ONGEVEER 22 600 TON PLAASLIKE PRODUKSIE. SEDERTDIEN HET KANOLAPRODUKSIE MERKWAARDIG GEGROEI, MET ’N TOENAME VAN NAGENOEG 993% TOT ’N GEMIDDELDE JAARLIKSE PRODUKSIE VAN ONGEVEER 247 000 TON.
Kanola het homself gevestig as ’n veelsydige en strategies belangrike oliesaad. Dit word gebruik as ’n gesonde kookolie, dien as proteïenryke veevoer en speel ’n belangrike rol in gewasrotasie deur grondgesondheid te bevorder. Vir wintergraanprodusente het kanola verder ’n kerninstrument geword om winsgewendheid te balanseer en risiko te versprei.
Hoewel kanola se groei oor dekades plaasgevind het, was die mees dinamiese uitbreidingsfase duidelik sigbaar in die afgelope vyf tot ses seisoene. Hierdie artikel fokus op hoe die Suid-Afrikaanse kanolamark gedurende hierdie tydperk verander het, met spesifieke aandag aan aanbod- en vraagdinamika.
Aanbod – komponente van verandering
Kanola word hoofsaaklik in die droëlandgebiede van die Wes-Kaap geproduseer. Knap winsmarges in die koringbedryf het daartoe gelei dat kanola as alternatief oorweeg word in ander produksiegebiede. Figuur 1 dui die provinsies aan wat kanola geproduseer het tussen die 2019/2020- en 2024/2025-seisoen. Dit is opvallend dat die getal produserende provinsies sedert 2022/2023 betekenisvol toegeneem het, met kanola wat selfs in besproeiingsgebiede aangeplant is. Hierdie geografiese uitbreiding dui op groter produsentevertroue en toenemende aanpasbaarheid van die gewas.
Met die uitbreiding in aangeplante oppervlakte het totale produksie dien-ooreenkomstig toegeneem. In die 2019/2020-seisoen is 95 000 ton kanola in Suid-Afrika geproduseer en vir die 2025/2026-seisoen word daar geskat dat die land 311 850 ton se kanola kan stroop.

Bron: NOK, Graan SA
Vraag – komponente van verandering
Die vraag na kanolasaad word saamgestel uit verskeie komponente, naamlik menslike verbruik, veevoer en saad wat gepers word vir olie en oliekoek. Die laasgenoemde komponent beslaan die grootste gedeelte van die jaarlikse vraag na kanola.
Grafiek 1 illustreer die verbruik van kanola sedert die 1998/1999-seisoen. Die pers van kanola vir olie en oliekoek het geleidelik toegeneem met sterk groeikurwes wat waargeneem word tussen 2008/2009 en 2015/2016 en dan die meer onlangse kurwe van 2019/2020 tot op hede. Sedert 2019/2020 het Suid-Afrika elke seisoen ’n nuwe verwerkingslimiet bereik, met plaaslike landboumaatskappye wat ’n belangrike rol speel om dit te bewerkstellig. Die grootste hoeveelheid kanola word in die Wes-Kaap verwerk, tussen Malmesbury en Swellendam.

Bron: SAGIS
Plaaslike verwerking is uiters belangrik om die afhanklikheid van uitvoere te verminder. Die eerste uitvoerskip vir die kanolabedryf het in die 2020/2021-bemarkingsjaar na Duitsland vertrek. Hoewel GMO-regulasies die uitvoer van kanola bemoeilik, het Suid-Afrika al ’n totaal van 196 578 ton se kanola na België, Duitsland en Kenia uitgevoer.
Kanola is nie die enigste oliesaad wat in Suid-Afrika vir olie- en oliekoekproduksie gebruik word nie. Sonneblomsaad en sojabone speel ook ’n sentrale rol. Grafiek 2 toon die hoeveelhede oliesade wat oor die afgelope tien seisoene gepers is.

Bron: SAGIS
Sonneblomsaad se persvolumes het relatief stabiel gebly en wissel tussen 657 000 en 893 000 ton per seisoen. Sojabone het egter die sterkste groei getoon, met volumes wat tans byna dubbel dié van kanola en sonneblom saam beloop. Teen hierdie agtergrond posisioneer kanola hom toenemend as ’n strategiese nisgewas binne die oliesaadmark, eerder as ’n direkte mededinger.
Gevolgtrekking
Die afgelope vyf seisoene verteenwoordig ’n keerpunt vir die Suid-Afrikaanse kanolabedryf. Wat begin het as ’n streekgebonde nisgewas, het ontwikkel tot ’n nasionale produksiebedryf met vinnig groeiende volumes, breër geografiese deelname en toenemende verwerkingskapasiteit. Die kombinasie van druk op koringwinsgewendheid, beter agronomiese kennis asook ’n groeiende plaaslike vraag na olie en oliekoek het ’n gunstige omgewing vir kanola geskep.
Daar word verwag dat kanola in die toekoms steeds ’n belangrike rol in produsente se gewasrotasies sal speel, veral in wintergraangebiede. Verdere groei sal waarskynlik afhanklik wees van volgehoue beleggings in plaaslike verwerkingskapasiteit, marktoegang vir uitvoere en die bedryf se vermoë om by regulatoriese en klimaatsuitdagings aan te pas.
Indien hierdie voorwaardes nagekom word, lyk die vooruitsigte vir die bedryf positief, met kanola wat toenemend bydra tot diversifikasie, waardetoevoeging en volhoubaarheid binne die Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadbedryf.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.














