Klop uitdagings met slim planne, harde werk en toewyding

Gepubliseer: 12 Desember 2025

1162

Die landbousektor is besaai met uiteenlopende uitdagings en dit is slegs met harde werk, toewyding, slim planne en groot genade wat hierdie uitdagings geklop kan word. Só sê Hannes Bruwer van Genade Boerdery naby Hopetown in die Noord-Kaap.

Vir bykans twee dekades is Bruwer al voltyds deel van Genade Boerdery waar hy saam met sy pa, Vicky, en twee broers, Gerhard en Tokkie, boer. Hulle is vertrouelinge met wie hy daagliks idees kan bespreek. Sy drie seuns en vrou, Almyné, is ook deel van die boerdery.

Bruwer meen sukses is geskoei op ’n paar eenvoudige beginsels: Bemeester die basiese beginsels van boerdery, streef daarna om voortdurend te verbeter, en leer uit jou foute en probeer dit dan uitskakel.

Dit is die tweede keer dat hy aan die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie deelneem. Hy neem nie net deel om homself teen ander produsente te meet nie, maar ook om erkenning aan sy werkers te gee vir hulle harde werk.

“Die opbrengskompetisie het vanjaar ’n groep produsente, elk met ’n spesiale plan en/of praktyk, bymekaar gebring om nog beter planne te maak. Ons kan baie by mekaar leer. Die boere wat inskryf is ook nie suinig om hulle kennis te deel nie. Dit is ’n positiewe ervaring!”

Hy het met die louere weggestap in die kategorie vir koringverbouing onder besproeiing in die suidelike gebied en met die Agricol-variëteit IS TORDO het hy ’n opbrengs van 13,96 t/ha behaal. “Dit is ’n nuwe kultivar en die derde seisoen wat ek dit plant. Die eerste jaar was in ’n proef en die afgelope twee jaar kommersieel.

“Vanjaar het ons sowat twee-derdes van die koringhektare daarmee geplant. Die ander derde is met die ou staatmaker PAN3497 geplant.”

In totaal het hulle 1 500 ha koring in die seisoen geplant. Hy het Pannar- en Agricol-produkte geplant hoewel hy ook Syngenta-proewe geplant het. “Ek hou van ’n gediversifiseerde saadpakket en benewens opbrengs kyk ek ook na siekteverdraagsaamheid, staanvermoë, bestendigheid, graangehalte en gradering in ’n kultivar. Winsgewendheid is egter die belangrikste. Dit bepaal of ’n mens kan aanhou boer of nie.”

Hy verduidelik dat die waarde van besproeiingsgrond saam met hulle produksiestelsel nie laekoste-insette regverdig nie. “Ons kyk na die opbrengs op ons beleggings. Die afgelope paar seisoene het die risiko’s egter veroorsaak dat graanprodusente in die land onder enorme druk verkeer en stoei om te oorleef.”

Hannes Bruwer se deelname aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie help hom om homself teen ander produsente te meet, maar ook om erkenning aan sy werkers te gee vir hulle harde werk.

Bruwer voeg by dat insetkoste steeds uitdagings bring. “Die koste van elektrisiteit het op plaasvlak met tot 25% toegeneem in die laaste kalenderjaar. Dit bekommer ons.”

Om koste te bestuur en skaalvoordeel te ontsluit, doen hulle insetaankope as deel van ’n koopgroep. “Ons onderhandel pryse en terme en gee aandag aan maksimum verskansing teen prysfluktuasies. Aankope in los maat of massa verminder ook insetkoste. Ek glo dit is iets wat ons verder moet ontwikkel.”

Die koring is vroeg in Junie geplant. “Ons plant die lande soos hulle beskikbaar word nadat ons die somergewasse gestroop het. Dit is maar altyd ’n geskarrel om alles betyds gedoen te kry.”

In 2021 het hy die afdeling vir mielies wat verbou word onder besproeiing met ’n opbrengs van 23,36 t/ha met ’n ultra-vinnige geelbaster van Pioneer, P1197YHR, gewen. Sy graanopbrengs op die mielies was 35 kg/mm vog.

Reeds in 2021 het hy voorspel dat indien winter- en somergrane se opbrengs in een seisoen bymekaar getel word, dit nie onmoontlik is om 40 ton graan/jaar/ha af te haal nie. Nóú, vier jaar later, het hy dit bewys.

Wat die afgelope seisoen se klimaat betref, was die neerslag redelik normaal vir hulle gebied. “Oktober is maak of breek vir die wintergesaaides en ons kon besproei volgens ons beplanning. Ons het nooit bo 40 tot 45 mm/week toegedien nie.

Genade Boerdery se hoofgewasse in die somer is mielies, springmielies, saadsonneblom, lusern en witbone. In die winter plant hulle koring, groenerte, uie en lusern. Omdat hulle in ’n warm klimaatstreek boer, kan hulle twee gewasse in een jaar verbou en die somer se gewas direk na stroop opvolg met ’n wintergewas. Die beskikbare water bepaal egter hoeveel gewasse in ’n siklus verbou kan word.

Mielies verteenwoordig 30% van die someraanplantings. Sowat 20% van die lande is in ’n oorlêstelsel sodat hy weer vroeg mielies kan plant in die daaropvolgende seisoen. Die winteraanplantings word opgemaak uit koring (50%), lusern (25%), beet en uie (10%), met sowat 15% van die lande wat ook rus.

Volgens Bruwer speel wisselbou ’n groot rol in diversifikasie en risikoverspreiding. “Wisselbou is ’n uiters belangrike beginsel en dra by tot ons volhoubaarheid. Lusern is die ideale wisselbougewas om te plant om gewassiektes op ’n natuurlik manier te beheer en wanneer die lusern na drie jaar vervang en met mielies opgevolg word, lewer die mielies baie goeie opbrengste.”

In ’n neutedop werk hulle wisselboustelsels so: koring, opgevolg met mielies en dan opgevolg met ’n peulgewas. Daar is ook ’n veekomponent wat die oesreste effektief benut. ”Ek poog steeds om die stelsel te verbeter, maar seisoene, siklusse en markte maak dit soms uiters moeilik!”

Wat grondvoorbereiding betref, is ’n skeurtandbewerking in die winter uiters belangrik. Dit is die enigste diep bewerking in ’n kalenderjaar. Na koring plant hulle mielies in die stoppels. Hy noem dat die Agricol-variëteit IS TORDO minder vatbaar vir siektes is en dus meer vergewensgesind as daar ’n bietjie kaf sou oorbly tydens plant.

Hy verduidelik dat hulle die koring nie te vroeg kan plant nie aangesien ryp wanneer die koring begin blom groot skade kan veroorsaak.

Die koring word met ’n Lemken Solitaire-planter geplant met rywydtes van 15 cm. “Ons maak elke vyfde rytjie toe, want ons plant dan ons somergewasse in die oop stukkie tussen die rytjies.”

Plantpopulasies van die koringlande verskil na gelang van plantdatum, maar wissel tussen 25 kg/ha vroeg in die seisoen en 50 kg/ha wanneer daar later geplant word. “Die afgelope paar jaar se proewe het bewys dat ons beter doen en gesonder koring produseer teen laer plantpopulasies.”

Die koring is vroeg in Desember met ’n John Deere S780-stroper gestroop.

Bruwer sê grasbeheer bly ’n kopseer. “Hoewel ons moet kophou met ons program, is onkruidbeheer nie te moeilik nie danksy ons wisselbouprogram. Maar om die grasse te beheer bly steeds ’n duur oefening en ons moet in ag neem dat van die breëblaaronkruiddoders se onthoudingsperiode probleme veroorsaak vir breëblaaropvolggewasse.”

Opslag word redelik goed beheer met onkruiddoders wat tussen seisoene toegedien word en met hulp van die natuur in die vorm van ryp.

Hulle plant nie dekgewasse nie omdat hulle die plantreste behou. Boonop is die tyd tussen stroop en plant in hulle stelsel so kort dat dit nie haalbaar is nie.

Bruwer sê die wenblok het die hele seisoen gepronk. Voor koring was daar ’n peulgewas op die land. Hy voeg by dat hulle dieselfde bestuursbeginsels op al die koringlande volg behalwe dat hulle die bemestingsprogramme aanpas na gelang van die tipe grond.

“Die tipe grond is oor die algemeen rooi Plooysburg-gronde wat nie baie diep is nie en wat ons fyn moet bestuur. Ons het ook geel Oranjerivier-sandgrond en dele waar die klei-inhoud hoër is. Om die grondverskille te bestuur kan uitdagend wees, veral wanneer dit op een spilpunt voorkom. Soms gebeur dit dat die waterbehoefte op ’n deel wat uit meer klei bestaan 30 mm is, terwyl dit op die sanderige gedeelte tot 45 mm kan wees. Agrico se webkontrole-stelsel maak die bestuur makliker en ons kan water variërend toedien.”

Al die grond is chemies en fisies gekarteer om die opbrengspotensiaal te bepaal en die infrastruktuur is daarvolgens ontwerp. Besproeiingskedulering en watertoediening word beplan en bestuur volgens behoeftes. Hulle stap weekliks deur elke land en boor profielgate om die week se presiese waterbehoefte te bepaal.

Satellietbeelde
“Blaarontleding word voor kritieke stadiums in die plante se groeisiklusse gedoen sodat ons onmiddellik regstellings kan doen as daar tekorte opgetel word. Satellietbeelde word weekliks geneem sodat ons betyds op enige afwykings kan reageer. Swamdoders word voorkomend op al ons gewasse gespuit – vir ons is voorkoming beter as genesing as dit by swamsiektes kom,” sê hy.

Bemesting word beplan na gelang van die grondstatus, die resultate van die blaarmonsters, die gewas wat geplant gaan word asook die opbrengsmikpunte. Hulle doen jaarliks grondontledings en in die winter wanneer lande diep bewerk word, maak hulle regstellings.

Satellietbeelde word gereeld ontleed om produksie sinvol te monitor en tydig aanpassings en regstellings te doen. Bruwer monitor die toediening van water en bemestingstowwe noukeurig om te verseker dat die regte bemesting op die regte tyd en die regte dele van ’n land toegedien word. “Ons dien nog nie bemesting variërend toe nie, maar ek voorsien dat ons in die toekoms daarheen sal beweeg. Op die oomblik probeer ons nog eers om die basiese dinge reg te doen.”

Hy voeg by dat die bemesting op die wenblok dieselfde was as die ander lande. “Ons gaan in die nuwe seisoen die NPK-vlakke aanpas om graangehalte goed te hou. Ons wil nie gradering verloor ten koste van hoë opbrengste nie.”

Ander uitdagings wat ook ’n invloed het op produsente is die aantal heersende oorloë in lande vanwaar roumateriaal of insette ingevoer word na Suid-Afrika. “Dit beïnvloed tydige beskikbaarheid van kunsmis en veroorsaak ook geweldige prysskommelinge.”

Bruwer kry sy inligting uit proewe wat hulle op die plaas doen saam met maatskappye. Hy beklemtoon dat data wat uit een groot verteenwoordigende proef in die omgewing versamel word, die betroubaarste inligting gee. “Ek is lief vir lees en kry my inligting in Landbouweekblad en die SA Graan-tydskrif, asook by boeredae en as lid van studiegroepe. Ek is deel van GWK se studiegroep en ons besoek mekaar se lande elke kwartaal waar ons praktyke bespreek, ondersoek en evalueer. Ons het die vrymoedigheid om eerlike kommentaar en insette te lewer en probeer mekaar so help.”

Sy raad aan ander jong produsente is:

  • Vra die regte vrae.
  • As jy saam met familie boer, omarm daardie voorreg. Dit is nie almal beskore nie. Luister na mekaar.
  • Sien om na jou grond en die plaas sal na jou omsien.
  • ’n Konserwatiewe benadering is veilig, maar om berekende kanse te vat is belangrik vir groei.