Roubel Thomas behartig die graanproduksie op die plaas Riviera, een van Sitrusrand se plase, naby Cookhouse in die Oos-Kaap. Hoewel Sitrusrand dalk meer bekend is vir sitrusproduksie in die Sondagsriviervallei, staan die graanafdeling geensins ’n tree agteruit nie.
Hy het vanjaar vir die eerste keer aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie deelgeneem. Nie net het hy ’n nuwe kompetisierekord in die afdeling vir sojabone wat onder besproeiing verbou word opgestel nie, maar die verskil tussen die eerste en die tweede plek was meer as 1 t/ha.
Die eerste plek is behaal met ’n opbrengs van 7,7 t/ha met die Agricol Don Mario-variëteit DM 53i54 RSP IPRO. Die afgelope sewe jaar het hy dié kultivar se voorloper, DM 5953 RSF, geplant. Dit was dus vir hom ’n maklike oorgang na Intacta-tegnologie.

“Ons het groot las van bolwurms in ons produksie-area en omdat ek reeds ondervinding het van die kultivar, was die oorskakeling na die Intacta-tegnologie wat vir my insekbeheer gee, voor die hand liggend.”
Thomas het ’n besondere voorliefde vir peulgewasse en vergelyk homself met ’n spons wat voortdurend nuwe inligting oor verbouingsaspekte opneem. In 2024 het hy ’n paar aanpassings in sy sojaboonbestuursprogram aangebring op grond van navorsing wat hy gedoen het.
“Ek het verlede seisoen ’n paar veranderinge aan ons praktyke aangebring. Ek het ’n 10 ha-proef geplant en met ’n nuwe swammiddel gespuit en op die hele aanplanting van sojabone die invoertoedieningsmengsel verander. Met strooptyd was ons verheug oor die resultate. Derhalwe het ek vanjaar die aanpassings op al die sojaboonhektare aangebring. Ek is nie een oomblik spyt oor die veranderinge nie en dankbaar dat ons vanjaar weer die vrugte kon pluk van die aanpassings.”
Hy het 30 ha DM 53i54 RSP IPRO geplant met ander variëteite op ’n addisionele 45 ha. “Ek plant altyd ’n pakket van produkte, of dit nou sojabone, mielies, kanola of koring is. Ons beproef altyd eers ’n nuwe produk op klein skaal om te bepaal hoe dit in ons omgewing, op ons grond en onder ons bestuursprogramme doen. Wanneer ons sien dat die resultate na wense is, sal ons geleidelik ons aanplantings vermeerder.”


Hy het die blok op 1 November geplant – twee weke vroeër as die vorige jaar – en middel April gestroop.
Die sojabone word in 76 cm-rye geplant. In die verlede het hy 320 000 plante/ha
geplant, maar hy het die plantpopulasie afgebring na 230 000 plante/ha met die idee dat hy 220 000 plante/ha realiseer.
“Ek plant met ’n John Deere FX 16-ry-planter, bekend vir sy betroubaarheid en toegerus met die nuutste tegnologie. Saam met Cerealis Precision Planting, kon ek my plantdoeltreffendheid baie verbeter en omdat ek nou verseker is dat ek enkelpitte in die grond sit, kan ek teen ’n laer plantpopulasie plant. Die plante stoel ook baie beter en gee vir my uitstekende opbrengs.”
Hy meen verder dat planterspoed tydens plant ’n groot rol speel. “My planteroperateurs weet dat hulle nie vinniger as 5 km/h mag ry wanneer daar geplant word nie.”
Volgens Thomas is onafhanklike proefdata van onskatbare waarde. “Hoewel ek die afgelope vyf jaar vir Pannar P3-mielie- en sojaboonproewe plant waar ons nuwe genetiese lyne teen gevestigde produkte onder werklike plaasomstandighede toets, kyk ek ook na data van ander maatskappye wanneer ek besluite moet neem. My eie proewe help my verstaan hoe ’n nuwe kultivar op bestuurspraktyke, klimaatsverskille en streekstoestande gaan reageer. Ek meet ook verskillende produkte van verskillende maatskappye teen mekaar.”
Hy woon inligtingsdae van maatskappye by omdat daar waardevolle inligting gedeel word. Verder lees hy baie artikels en volg ook wat ander produsente in ander dele van die wêreld doen. “In 2023 het ek Elim se sojaboon- en mieliekongres bygewoon en dit was ’n fenomenale geleentheid om inligting te bekom, ook van internasionale sprekers. Al is die omstandighede in die VSA anders, is daar tog sekere beginsels wat ons kan toepas.”
Van die belangrikste aspekte waarna hy kyk wanneer hy ’n nuwe sojaboonvariëteit moet kies, is opbrengsvermoë, aanpasbaarheid by die omgewing, groeilengte en siekteverdraagsaamheid.
Hy het die sojabone met ’n John Deere X9 met ’n 45 voetstropertafel gestroop. “Ek stroop graag self want dan kan ek die opbrengs- en grondverskille wat binne lande voorkom sien en dadelik begin om planne vir die volgende seisoen te formuleer.
“Die voordeel van peulgewasse is dat dit die voedingstowwe wat in die grond vasgelê is beter kan benut. Ek het op grond- en plantgesondheid begin konsentreer – opbrengs kom dan vanself as jou grondgesondheid reg is. Wisselbou is van kardinale belang,” sê hy.
Koring, mielies en kanola maak deel uit van die wisselbouprogram op die plaas. Hy plant 25% peulgewasse wat opgemaak word deur sojabone of kanola, 60% mielies of koring en 15% van die lande rus elke seisoen. Die rotasiestelsel werk so: sojabone, opgevolg deur koring, opgevolg deur mielies en dan laat hy die land oorlê om te rus. Daarna word kanola geplant. Na kanola sal daar weer mielies op die land geplant word. “Sowat 50 tot 60 ha moet elke jaar rus,” beklemtoon hy.
Thomas vertel hy het altyd baie meer mielies as sojabone geplant, maar oor die laaste paar jaar het hy die mieliekomponent verklein en meer sojabone geplant om waterbestuur makliker te maak. Hy het ’n paar jaar gelede met kanola onder besproeiing begin. Waar hy aanvanklik slegs 20 ha geplant het, plant hy nou 80 ha.
Die plaas bestaan hoofsaaklik uit klei- en leemgrond met ’n gemiddelde kleipersentasie van 36%. Plantreste word so gou as moontlik na stroop ingedis en net voor planttyd word ’n diep tandbewerking gedoen. Dan berei hy die saadbed voor. Die grond word nie omgekeer nie omdat dit die grondstruktuur te veel versteur. Slegs laat mielies word in die koringstoppels geplant.
Hy het nie self ’n veefaktor nie, maar boer in ’n area met heelwat melkboere. Hy het ’n ooreenkoms met een van sy bure aangegaan sodat dié se droë koeie in die tye wanneer kos skaars is, die oesreste kan benut. Die spilpunt word met twee elektriese drade toegespan en die beeste loop vir so ses weke op die land. “Ons trek beide voordeel uit die ooreenkoms. Omdat die beeste op die oesreste wei, hoef my buurman nie addisionele voer vir die beeste aan te skaf nie. Ek trek voordeel omdat die beeste se hoewe van die oesreste in die grond inwerk en daar organiese bemesting plaasvind.”
Volgens Thomas gaan hy in die komende seisoen meer van die spilpunte toespan vir hierdie doel, maar hy wil die praktyk so ’n stappie verder voer. “Ek wil rog saai met ’n hommeltuig net voordat die mielies se water weggeneem word. Dan is die rog gevestig en daar is ’n mengsel van groen en droë materiaal.” Hy wil dan drukbeweiding op daardie lande toepas.
Wat sy bemestingsprogram betref, dien hy met plant ’n Kynoch-mengsel van fosfaat, kalium, kalsium en swael langs en onder die pit toe. Op die planter het hy ook ’n vloeibare kunsmistoediener wat hy gebruik om ’n kelpgroeistimulant van Elim asook die sojabooninnokulant wat help met Rhizobium-binding tydens plant toe te dien.
“Goeie wortelontwikkeling help dat die plant meer doeltreffend voedingstowwe opneem en gesonder plante is die resultaat. Die gesonder plante kan strestoestande ook beter hanteer. Ek plant nie daarsonder nie.”
Hy glo daaraan om siektes voorkomend te beheer. “Wanneer ek voorkomend spuit kan ek sagter chemiese middels toedien. As die siekte eers posgevat het, moet ’n mens harder produkte gebruik om die uitbreking te beheer.”
Die grond lê tussen twee sitrusplase in die motvlugsone en derhalwe is bolwurm ’n groot probleem. “Die Intacta-tegnologie speel ’n groot rol in die beheer van bolwurm. Maar omdat ek in elke geval die 20%-toevlugs-area moet beheer, spuit ek ook die res van die spilpunt met ’n blaarvoeding sonder insekdoder.”
Soms gebruik hy ’n hommeltuig om te spuit. “Die lopende koste vergelyk goed met die van ’n hoogloopspuit of vastevlerkvliegtuig. Die hommeltuig is egter baie waardevol wanneer die lande te nat is of die gewas te hoog is. Omdat die hommeltuig uiters naby aan die gewas wat bespuit word, moet verbyvlieg, veroorsaak die waai-aksie dat die chemiese middel binne in die gewas gewaai word en daar die teikenarea of pes bereik.”

Die bestuur van insetkoste is altyd belangrik, meen hy. “Een van die maniere hoe insetkoste onder bedwang gehou kan word, is om opbrengs te verhoog. Hoe hoër die opbrengs per hektaar, hoe laer word die insetkoste as ’n persentasie van die totale som. Natuurlik is daar altyd ’n goue balans wat gehandhaaf moet word. Ek bepaal wat aangespreek moet word in spuit- en bemestingsprogramme. Die goedkoopste is nie altyd die beste vir opbrengs nie. Ek maak ook seker alles word op die regte tyd en manier toegedien.”
Waterbeskikbaarheid is een van die uitdagings wat jaarliks bestuur moet word. “Ek is laaste in die ry om water uit die kanale te kry en dit gebeur dat ek nie altyd al die water wat ons bestel het kry nie.
“Wanneer dit op die regte tyd reën, help die neerslag om die lande nat te hou en kry besproeiingsdamme weer tyd om op te vul uit die kanaal. Maar in ’n seisoen soos die afgelope een waar ons geen reën in Januarie, Februarie of Maart ontvang het nie, verg dit kopkrap en goeie bestuur om toe te sien dat die gewasse voldoende water op die regte tydstip ontvang.”
Hoewel dit nie noodwendig warmer was nie, was daar nie dae wat dit effens koeler was omdat dit reën nie. Hy voer dit aan as nog ’n rede waarom hy die mielie-aanplantings verminder het. “Die sojabone kan met minder water deurkom in hierdie kritieke tydperk.”
Volgens Thomas is daar heelwat mense wat vir hom as mentors optree, maar hy sonder tog twee persone uit: “Jannie Bruwer van Bayer skroom nie om kennis te deel nie en is bereid om saam met my te leer. Isak le Roux en sy span van Elim deel ook graag hulle kundigheid.”
“Ek glo dat daar ’n wedersydse uitruil van kennis en advies tussen ’n produsent en sy gewas- of chemiese adviseurs moet wees. Ons moet bereid wees om by mekaar te leer. Daarom sal my raad aan jong boere wees om te verseker dat hulle ’n groep kundiges om hulle versamel met wie hulle ’n goeie vertrouensverhouding kan opbou.”
“Ek is ongelooflik dankbaar vir die platform wat Sitrusrand my bied om my passie as boer uit te leef.”
Wat Groei vir Goud betref, meen hy dat hierdie gesonde kompetisie produsente motiveer om hulle bestuursprogramme so te ontwikkel dat hulle die maksimum potensiaal van elke pit kan benut.
Hy sluit af met dié raad: “Sukses ry op die rug van drie dinge: goeie en deeglike beplanning, berekende waagkanse en om te leer uit jou foute. Moet jou nooit daaraan skuldig maak dat jy moet verklaar dat jy nie probeer het nie.”

















