Grondgesondheid een van die kernaspekte vir sukses

Gepubliseer: 12 Desember 2025

797

Johann Pistorius het nooit besonder in gewasverbouing belanggestel nie. Sy voorliefde was beeste en daarom was die pad wat hy gestap het om te kom waar hy vandag is, nie aldag maklik nie. Die leerskool was soms hard en ongenaakbaar. Om nou in staat te wees om sy praktyke met dié van ander produsente te vergelyk, is vir hom ’n groot voorreg, sê dié produsent van die plaas Leeuwfontein buite Nigel.

Pistorius het in 2024 vir die mielie-afdeling van die Groei vir Goud- nasionale opbrengs-kompetisie ingeskryf maar vanjaar besluit om eerder in die sojaboonafdeling mee te ding.

Na sy pa se afsterwe vroeër dié jaar, is hy nou alleen aan die stuur van sake op die plaas. Hy verbou wit- en geelmielies asook sojabone in ’n wisselboustelsel, met tweederdes van die lande wat met mielies geplant word en die ander derde met sojabone. Hy plant in totaal 200 ha sojabone.

Die Amerikaanse saaiboer Kevin Kalb (regs) is die meervoudige rekordhouer vir opbrengs in droëlandmielies. Johann Pistorius (links) beskou Kalb as een van sy mentors en meen hy het ongelooflik baie van hom geleer oor grondgesondheid. Vroeër vanjaar het Kalb by Pistorius op die plaas gekuier.

Pistorius het die afdeling vir sojabone wat in die sentrale gedeelte van die land verbou word, gewen met die Pioneer-variëteit P52T52R. Sy opbrengs was 6,46 t/ha. Hy het gesien hoe dié nuwe produk in die proewe presteer en besluit om vanjaar 30 ha daarvan aan te plant. Met strooptyd was hy dankbaar om te sien dat die opbrengs besonder goed is en het derhalwe besluit om in te skryf.

Oor die afgelope vier jaar het hy sy opbrengste meer as verdubbel. Waar hy in 2021 1,4 t/ha op sojabone gestroop het, kon hy dit opskuif na 3 t/ha en nou weer na 6,46 t/ha. Sy mielie-opbrengs het ook toegeneem van 4 t/ha na 9 t/ha. “Hoewel tegnologie en produkkeuse ’n rol gespeel het, glo ek vas dat die draaipunt gekom het toe ek my fokus geskuif het na die gesondheid van my grond.”

Die sojabone is gedurende die laaste week in November met ’n John Deere 2117 geplant wat toegerus is met AgLeader Precision. Dis aan die einde van April met ’n Case 5140 gestroop. Die sojabone is in rywydtes van 76 cm geplant teen ’n plantestand van 280 000 plante/ha. Hy het ’n plantestand van 250 000 plante/ha gerealiseer.

Pistorius het 6,46 t/ha gestroop en met hierdie opbrengs die afdeling vir sojaboonverbouing in die sentrale deel van die somergraangebied gewen. Op dié plant het hy al die blare verwyder sodat ’n mens die hoeveelheid blompakkies mooi kan sien.

Hy plant vir Pannar proewe en meen dit help om vroegtydig nuwe kultivars wat moontlik in sy pakket ingesluit kan word, te identifiseer. “Ek plant egter ook my eie proewe waar ek sekere verbouingspraktyke toets. Dit het onskatbare waarde om op klein skaal te kyk hoe ’n nuwe kultivar op jou plaas doen. Verder kan ’n mens ook kyk watter verskil klein aanpassings in bemesting of plantestand kan veroorsaak. Ek dink dit is uiters belangrik om proewe op jou eie plaas te plant. Dit sal onwys wees om die resultate wat ’n buurman op sy plaas behaal het op jou grond te verwag. Die omstandighede is heeltemal anders.”

Wanneer hy ’n nuwe baster of variëteit kies, kyk hy nie net na opbrengs nie maar ook na aanpasbaarheid en siekteverdraagsaamheid.

Op die plaas is daar oorwegend Hutton-tipe grond met ’n klei-inhoud van 22 tot 30%. Hoewel dit tradisioneel as goeie grond beskou word, verduidelik Pistorius dat die bolaag gou kliphard word as dit gereën het en die wind daarna oor die grond waai.

Een van sy belangrikste doelwitte in die boerdery is om die fosfaatvaslegging in sy grond om te keer. “In die verlede is daar heeltemal te veel kunsmis op die plaas toegedien en behalwe dat dit kompaksie aangehelp het, het dit meegebring dat fosfaat oor jare vasgebind geraak het in die grond en tot ’n minder mate beskikbaar is. My doelwit is om die grond te herstel deur op grondgesondheid te fokus.”

Hy verduidelik dat hy probeer om genoeg organiese materiaal op die lande te laat en dat hy diep bewerkings doen om meer suurstof in die grond kry en die ewewig te herstel. “Ek probeer die grond omkeer om die fosfate beskikbaar te maak. Fosfaat is ’n belangrike voedingstof en speel ’n kritieke rol in fotosintese, wortelontwikkeling en energie-oordrag binne plante. Ek strooi ook kalk om die versuring teen te werk.”

Die vorige twee droë seisoene het egter veroorsaak dat hy nie betyds kon kalk strooi nie. Hy het wel in die 2024/2025-plantseisoen kalk gestrooi en glo dit het gehelp met die goeie opbrengs.

Hy het ’n dubbele enting op die sojabone gedoen – een keer as ’n saadbehandeling en die tweede keer het hy ’n toediening in die voor gedoen. Hy het ook Greenleaf toegedien en ekstra swael en magnesium bygevoeg.

Voedingstowwe word egter nie voor die voet toegedien nie. “Ek doen grondontledings en bepaal so wat nodig is op die bepaalde land. Ek neem ook twee keer in die seisoen blaarmonsters om die plante se behoeftes te bepaal. Ek gee net wat die plante nodig het.”

Hy het ’n kommersiële Bonsmara-beeskudde wat die oesreste benut na die gewasse gestroop is. “Die beeste gee waardevolle bemesting in die vorm van mis en urine wat help met grondgesondheid. Ek gebruik ook ’n misstrooier om mis op die lande toe te dien. Ek is oortuig daarvan dat ek oor jare nog die vrugte van hierdie praktyke sal pluk.”

Die gedeelte wat ingeskryf is, is nie anders as die res behandel nie. Al verskil was dat die seisoen hom nie toegelaat het om opslagmielies in die land te spuit nie. “Die sojabone het reeds geblom toe die weer ’n bespuiting toegelaat het, daarom kon ek nie spuit nie. Ons het die mielieplante met die hand uitgetrek. Daar was darem nie te veel nie.”

Die sojabone het een swamdoderbespuiting in die seisoen ontvang.

Hierdie seisoen was heelwat natter as ander jare. “Ek het omtrent drie keer soveel reën gekry as die vorige seisoene. Die sojaboonlande het egter ook deurgeloop onder ’n geweldige haelbui. Die skade het beteken dat ek maklik ’n ton opbrengs moes inboet.”

Wanneer die seisoen en die tyd dit toelaat, sal hy dekgewasse in die winter plant. Hy sal nadat hy die sojabone gestroop het, kalk strooi en dan ’n wintergewas soos koring of hawer saai. Wanneer die tyd reg is in die somer, sal hy mielies op daardie lande plant waar sojabone was. “Ek streef daarna om altyd lewende wortels in die grond te hê. Dit is ongelooflik belangrik vir grondgesondheid.”

Volgens hom is Sclerotinia ’n uitdaging en daarom probeer hy altyd vroeg plant sodat hy die besmettingsvenster mis. “Teen die tyd wat Sclerotinia ’n probleem kan wees, moet die sojabone klaar geblom en reeds in die peulstadium wees.” Dit is die rede waarom hy sojabone in die 5,9- tot 6-groeiklas plant. Die langer groeiers, verduidelik hy, trek swaar onder dié swamsiekte.

Wat insekbeheer betref, moes hy spuit vir bolwurm. Hy glo daaraan om voorkomend te spuit. Om dit reg te kry, sê hy, moet ’n mens gereeld deur jou lande stap.

Pistorius probeer sover as moontlik presisieboerderybeginsels toepas. Hy sal hom egter in die toekoms nog meer daarop wil toespits. “Hoe meer noukeurig ’n mens plant en kalk strooi, hoe beter is dit vir opbrengs, winsgewendheid en volhoubaarheid.”

Stoperdata en opbrengskaarte ingespan
Hy meen egter dat hoewel die voorskrifte (scripts) vir presisieplanters uiters belangrik is, is die interpretasie van die data en die voorskrifte ewe belangrik. Hy gebruik sy stroperdata en opbrengskaarte in oorleg met die grondontledings om voorskrifte vir sy lande te skryf. Daar waar die grond se potensiaal hoër is, kan hy sy plantdigtheid aanpas en meer bemes en dit weer aanpas in die gedeeltes wat laer potensiaal bied.

“As ek dink hoe my pa geboer het en hoe ons vandag boer, is dit baie anders. Die tyd wat ’n mens aan bestuursaspekte spandeer, het bykans verdubbel. Die beskikbare tegnologie asook die navorsing wat op verskeie vlakke gedoen word, bied aan ons boere die geleentheid om op elke vlak van verbouing en tydstip van die gewas se groeifase iets te doen om óf opbrengs óf bestuursprosesse te verbeter. Daar is soveel aspekte wat ’n mens kan meet en data versamel om te interpreteer om ingeligte besluite te neem.”

Pistorius beklemtoon dat hy nie daaraan glo om opbrengs te koop nie. “Toe ek begin boer het, het ek foute gemaak en te veel bemes. Ek het my les geleer en kyk deesdae baie strenger na wat die grond en die plant se behoeftes is. Meer kunsmis gee ook nie noodwendig hoër opbrengs nie.”

Hy meen daar is ’n regte en ’n verkeerde manier om dinge aan te pak en sê soms is minder beter. Die raad wat hy aanbied is eenvoudig: Skryf self die handleiding vir jou plaas se bestuur. Verder glo hy aan die volgende beginsels:

  • Doen belangrike dinge op die plaas reg.
  • Moenie jou omstandighede en praktyke direk vergelyk met die van jou buurman nie. Omstandighede, grondprofiele en grondgesondheid verskil. Fokus eerder op jou grond.
  • Ken jou grond.
  • Kyk na jou grond – grondgesondheid is belangrik. Doen gereeld grondontledings.
  • Sorg vir jou grond en jou grond sal vir jou sorg.
  • Kompeteer met jouself.
  • Leef naby aan jou Skepper en bid vir genade en wysheid.

Pistorius is deel van twee studiegroepe en hy put heelwat waarde uit die gesprekke wat daar gevoer word. Verder het hy geleer om by die regte mense raad te gaan vra. “Pasop vir verkoopsmense wat net daarop uit is om produkte aan jou te verkoop.”

Hy sien Danie Bester van Balfour en Kevin Kalb van die VSA as sy mentors. “Ek het die afgelope jaar twee weke op Kevin Kalb se plaas in die VSA spandeer. Ek het saam met hom in die stroper gery en ongelooflik baie by hom geleer.”

Ten slotte sê hy dat dit vandag duur is om te boer en dat daar nie meer plek is vir onnodige foute nie. “Boer uit die staanspoor reg deur op grondgesondheid te fokus.”