Streef altyd daarna om te verbeter

Gepubliseer: 12 Desember 2025

771

Reeds vroeg in die 2024/2025-seisoen het Kobus Louw gesien dat sy sojabone die potensiaal het om goed te presteer in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie.

Die blok sojabone het nie te-leurgestel nie. Met die opbrengs wat behaal is aan die einde van die seisoen het Louw die eerste plek behaal in die afdeling vir sojabone wat in KwaZulu-Natal geproduseer word.

Hy boer die afgelope 14 jaar saam met sy pa, Jan van Romburgh, en sy ouer broer, Quintus, op die plaas Silverton in die Paulpietersburg-omgewing op die grens tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Louw Broers Boerdery fokus hoofsaaklik op bosbou, maar ’n kommersiële beeskudde en graanafdeling ondersteun die bosbougedeelte. Kobus staan aan die stuur van die graanboerdery terwyl Quintus verantwoordelikheid neem vir die veevertakking.

Vanjaar het Louw die Don Mario DM 61i63 RSF IPRO-variëteit geplant en 5,740 t/ha gestroop. Dit is die tweede jaar wat hy aan die kompetisie deelneem. Deur deel te neem aan Agricol se interne kompetisie het hy ’n inskrywing verseker. Hy het in 2023 ook dié afdeling met ’n rekordopbrengs van 5,743 t/ha met die Agricol Don Mario-variëteit DM 68R09 gewen.

In die tweede jaar wat Kobus Louw aan die Groei vir Goud-kompetisie deelgeneem het, het hy weer die afdeling vir sojaboonproduksie in KwaZulu-Natal gewen met die Don Mario DM 61i63 RSF IPRO-variëteit en ’n opbrengs van 5,749 t/ha.

Dit is die tweede seisoen wat hy DM 61i63 RSF IPRO plant. In die 2024/2025-seisoen het hy 40 ha daarvan geplant, uit ’n totaal van 140 ha sojabone. Op die blok wat hy ingeskryf het, het hy dieselfde bestuursprogram gevolg wat hy normaalweg vir sojaboonproduksie volg.

Louw het ook ander variëteite van Klein Karoo Saadproduksie, Pioneer en Don Mario geplant om sy risiko te versprei en ook om variëteite te vergelyk. “Vir my is nasionale proewe nie so waardevol soos jou eie proewe op die plaas nie en daarom doen ek my eie proewe. Ek beplan om in die toekoms meer eie proewe te plant waaruit ek ’n verskeidenheid inligting kan inwin.”

Die opbrengs is duidelik sigbaar aan die sojaboonplante. Die opbrengs van hierdie blok sojabone was 5,749 t/ha en genoeg om aan Louw ’n eerste plek te besorg.

Wanneer hy variëteite vergelyk, kyk hy na peulhoogte, afdroging, swambestandheid en staanvermoë.

Volgens Louw neem hy deel om homself met ander produsente te vergelyk en om homself aan te spoor. “Dié kompetisie maak die wêreld van graanproduksie so ’n bietjie wyer. Ons word aan ander produsente en produksie-omgewings blootgestel. Ek was verstom om te hoor wat produsente in ander omgewings se opbrengste is. Ek het geleer dat ’n mens nooit tevrede moet wees met waar jy is in die lewe nie. ’n Mens moet altyd na beter streef. As iemand anders al iets kon regkry, is dit ook moontlik dat jy dit kan doen.”

Hy sê as individue is dit vir produsente maklik om in gewoonte vas te val en tonnelvisie te ontwikkel.

“Dit is belangrik dat ons elke dag daarna moet streef om beter te produseer, nie net wat opbrengs betref nie, maar ook ten opsigte van praktyke. Wie weet waar die opbrengsplafon is? Dit maak my opgewonde om te dink wat nog vermag kan word.”

Die sojabone is tussen 1 en 15 November geplant. Volgens Louw neem hy grondtemperatuur in ag wanneer hy plant en probeer altyd plant as dié temperature hoër is as 18 °C. Hy plant die sojabone in outydse drievoetrye (91 cm). Hy het 260 000 plante/ha geplant en ’n stand van 230 000 plante/ha gerealiseer. Die wensojabone is op 10 April gestroop.

In die 2024/2025-seisoen het hulle vroeë reën gehad, maar tussen 15 November en 15 Desember het dit glad nie gereën nie met uiters hoë temperature. Daarna was dit weer baie nat vanaf einde Desember tot Februarie. Sy gemiddelde reënval vir die jaar was sowat 1 200 mm.

Die weerstoestande het die meeste uitdagings gebring. Die baie reën aan die begin van die seisoen het plant moeilik gemaak en ook onkruiddruk verhoog. Aan die einde van die seisoen was die swamdruk weer hoog. Dit was moeilik om in die lande te kom om te stroop omdat dit so nat was.

Louw pas ’n wisselboustelsel toe. Hy plant twee jaar mielies op ’n land wat hy dan opvolg met ’n jaar waarin hy sojabone plant. Die mieliereste word deur die beeste bewei terwyl dekgewasse op van die besproeiingslande geplant word. Hy plant ’n derde sojabone en tweederdes mielies.

Hoewel hulle ’n paar jaar gelede heeltemal oorbeweeg het na ’n geenbewerkingstelsel, doen hy tog van tyd tot tyd ’n skeurtandbewerking tot ’n diepte van 30 mm om die boonste kompaksielaag wat soms vorm op te breek.

Hy verduidelik dat hulle ’n bewaringsbewerkingstelsel volg eerder as ’n geenbewerkingstelsel. “As die toestande dit vereis sal ons in ’n mindere mate sekere bewerkings doen, maar altyd met grondgesondheid as oogmerk. Wanneer dit nodig is, sal ek ’n vlak of hoëspoeddisbewerking inbring na bekalking en grondregstellings.”

Lande moet skoon van onkruid wees. Louw glo dat jy eerder op bemesting kan spaar as fondse beperk is. “Dit help nie jy dien kunsmis toe en die onkruid benut die voedingstowwe ten koste van jou gewasse nie. Natuurlik moet jy altyd somme maak en seker maak dat dit klop, maar om ’n paar rand op onkruiddoders te probeer bespaar aan die begin van die seisoen en dan in te boet op opbrengs, maak nie sin nie.”

Hy doen ’n algehele bespuiting voor plant om die dekgewasse of onkruide dood te spuit sodat hy die seisoen met ’n skoon saadbed kan begin. Hy volg BASF se sojaboonprogram vir onkruidbeheer. Met plant dien hy ’n vooropkomsonkruiddoder toe. Ongeveer 21 dae na opkoms dien hy ’n na-opkomsonkruiddoder toe saam met insekbeheer vir bol- en snywurms. Afhangende van die swamdruk sal hy tot drie keer spuit om swamme te beheer, veral vir Sclerotinia wat opbrengs uiters nadelig kan beïnvloed.

Vir insekbeheer volg hy BASF en Farmers Agri Care se standaardbeheerprogramme. Om plantsiektes te beheer volg hy BASF se swambeheerprogram op sojabone en Farmers Agri Care se program op mielies. Hy doen ’n standaardbespuiting vir swamme en daarmee saam dien hy ook ’n blaarvoeding toe. Deel van sy saadbehandeling is ’n biologiese groeistimulant met die oog op verbeterde wortelontwikkeling. Hy gebruik HiStick (BASF) vir inokulasie en Rootguard (AECI) vir wortels.

Reeds vroeg in die 2024/2025-seisoen het hy gesien dat sy sojabone vanjaar weer die potensiaal het om goed te presteer in die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie.

Op die plaas is daar hoofsaaklik kleileemgrond met die klei-inhoud ongeveer 25%.

Hulle doen jaarliks grondontledings en regstellings word gedoen na aanleiding van die resultate. Dit bepaal ook die hoeveelheid en plasing van die kalk, fosfaat en stikstof wat uitgestrooi word.

“Op sojaboonlande strooi ons voor plant ’n 1:2:6 (42) Zn-mengsel uit teen 150 kg/ha en bandplaas ’n 1:2:6 (42) Zn-mengsel teen 250 kg/ha. Ons vra altyd dat die kunsmisverskaffer vir ons ekstra swael in die mengsel inmeng.” In die spuitprogram word molibdeen en kalium ook ingesluit.

In die afgelope seisoen het hy nie iets anders probeer nie, maar wil graag in die toekoms kyk of hy sy bemesting op ’n later stadium kan toedien en of hy dit meer kan versprei. Hy glo in presisieboerdery. Die grondontledings en inligting wat hy ontvang, word in ag geneem om variërende plantestand te bepaal.

“Ek gebruik my stroperkaarte om opbrengste te vergelyk. My John Deere 1750 Max Emerge XP-planter is toegerus met Precision Planting se V-Sets en die Case 5140-stroper is toegerus met ’n opbrengsmonitor en -kaarte.”

Volgens hom is opbrengs per hektaar die belangrikste aspek wanneer dit gaan oor winsgewendheid. Daarom, sê hy, is dit belangrik om insetkoste te beheer. “Ek probeer realisties wees en kyk na geskiedkundige opbrengsdata, reënval en graanpryse wanneer ek my beplanning en somme doen.”

Louw maak staat op die bywoning van plaaslike boeredae en studiegroepvergaderings om inligting bymekaar te maak, maar sê hy steun ook op die internet, veral met betrekking tot inligting oor die praktyke wat deur Amerikaanse produsente gevolg word.

Sedert hy by die boerdery aangesluit het, het hy meer presisie-toerusting bekom met die doel om koste te sny en meer doeltreffend te wees.

Louw verbou mielies en sojabone in ’n wisselboustelsel. Sy uitgangspunt is om jaarliks te probeer om praktyke en opbrengs te verbeter.

Sy pa, wat jare se ondervinding in die boerdery asook ’n grondkunde- en bemestingsagtergrond het, is vir hom ’n groot bron van inligting. Sy raad aan ander produsente is om nie te vinnig te groot probeer gaan nie. “Bou jou grond land vir land op.”

Hy sou graag wou sien dat meer aandag aan streekspesifieke proewe gegee word. “Ons kry navorsingsdata wat vir ander verbouingsgebiede saamgestel is. Ons omstandighede, klimaat, reënval en grond is egter anders. Ek sal graag wil sien dat hier by ons meer proewe en navorsing gedoen word ten opsigte van grondklassifikasie en grondgesondheid.”

Ten slotte sê hy dat sy boerderyfilosofie eenvoudig is: om volhoubaar te boer met grondgesondheid vir die toekoms.