Gebruik ondervinding om jou toekoms op te bou

Gepubliseer: 12 Desember 2025

52

Wanneer jy jou 35ste mielie-oes van die land afhaal, kwalifiseer jy om ’n regmerkie in die blokkie langs ondervinding te maak. Braam du Plessis boer met hierdie ondervinding en agtergrond agter sy naam op die plaas Juriesbaken naby Schoombee/Hofmeyr in die Oos-Kaap en is deel van Sitrusrand Boerdery.

Volgens hom het bykans alles verander wat graanproduksie betref sedert hy sy eerste mielies in 1990 geplant het.

“Vandat ek begin boer het, het mielie-aanplantings onder besproeiing geweldig uitgebrei en ons plant nou al vir 25 jaar GM-mielies. Ons het beweeg van ’n enkelkanaalgraanbemarkingstelsel na die vrye mark. Ons plantpraktyke het verander met die vooruitgang in die beskikbare tegnologie en ons kennis wat grondgesondheid en bemesting betref het ook daartoe bygedra dat ons aanpassings gemaak het.”

Dit is sy tweede kennismaking met die Groei vir Goud- nasionale opbrengs-kompetisie. Verlede jaar het hy die derde plek behaal in die afdeling vir mielieverbouing onder besproeiing. Sy besluit om vanjaar weer deel te neem het vrugte afgewerp en hy het die eerste plek in die afdeling ingepalm met ’n opbrengs van 21,9 t/ha met die DEKALB-baster DKC65-60BR van Bayer.

Braam du Plessis het ’n opbrengs van 21,9 t/ha met die DEKALB-baster DKC65-60BR van Bayer behaal.

Du Plessis het vanjaar ook die derde plek beklee in die afdeling vir koringverbouing onder besproeiing in die noordelike gebiede met die Sensako-variëteit SST 8205 van Syngenta, waar hy ’n opbrengs van 10,33 t/ha kon stroop.

Die mielies is op 30 Oktober 2024 teen ’n plantestand van 95 000 plante/ha met ’n John Deere 1750-planter geplant in rywydtes van 75 cm. Die planter is toegerus met presisietoerusting wat help dat elke pit opkom soos wat beplan is. Die blok is op 10 Junie 2025 met ’n John Deere 780-stroper gestroop.

Hierdie praktyke is vir al die mielie-aanplantings gevolg en die blok wat ingeskryf is, is nie anders behandel nie.

Die jaarlikse neerslag in die omgewing wissel tussen 250 en 300 mm en die afgelope seisoen was in lyn met die langtermyngemiddeld. Die reën het wel later as gewoonlik gekom, met die gemiddelde dagtemperature wat gewissel het tussen 30 en 35 °C. Afhangende van die seisoen, plant hy jaarliks ongeveer 900 ha onder besproeiing.

Du Plessis verduidelik dat die onkruidbeheerprogram wat hy volg bestaan uit ’n vooropkomsbespuiting van Acetochloor 915ec wat hy meng met atrasien, Cantron (mesotrioon), ’n selektiewe sistemiese voor- en na-opkomsmiddel vir die beheer van breëblaar- en grasonkruide asook Roundup (glifosaat). “Die opslag ryp darem gewoonlik dood en veroorsaak nie groot probleme in ons stelsel nie.”

Vroeg in die seisoen spuit hulle met die hoogloopspuit, maar sal later wanneer die plante te hoog is, ’n hommeltuig gebruik vir opvolgbespuitings. Die laer as normale lugvog die afgelope seisoen het gehelp dat siektes nie so ’n groot probleem was nie. Hulle het nietemin voorkomend twee swamdoderbespuitings gedoen.

Hulle volg ’n wisselboustelsel waar die spilpunte afgewissel word met koring en mielies. Op sekere lande waar waterinfiltrasie ’n probleem is, sal hy hawer as dekgewas plant.

Die bemestingsprogram op die mielies het bestaan uit N-400 (stikstof); P-65 (fosfor); K-90 (kalium) asook CaNo3 (kalsiumnitraat) en MgSO4 (magnesiumsulfaat). Hulle doen blaarontledings elke twee weke en doen die regstellings na gelang van daardie resultate.

“Water is na my mening die belangrikste aspek waaraan ek aandag gee. Wanneer ons waterbeskikbaarheid onder druk is, sal ons maklik 3 tot 4 t/ha minder oes. My stelsels moet vir my 80 mm water per week kan gee sodat ons die gewasse gedurende die een of twee weke in die seisoen wanneer toestande bietjie warm en droog is, deur kan haal.”

Du Plessis sê in die tyd toe hy in die Hopetown- en Jacobsdal-omgewing geboer het, het hy heelwat van mielieverbouing geleer as deel van GWK se fokusgroep. “In daardie tyd het ek geweldig baie by Reginald Meintjies, wat konsultasiedienste aangebied het, geleer.”

Die afgelope 35 jaar het Du Plessis al heelwat veranderinge beleef in graanboerdery in Suid-Afrika.

Hy deel graag sy kennis met sy kollegas in Sitrusrand-boerdery. “As iemand my raad vra, deel ek graag wat ek weet. Daar is natuurlik mense wat hul eie kop volg en hulle nie aan raad steur nie.”

Iets wat hom dwars in die krop steek, is wanneer verkoopsmense wat by jou hek inry net een motief het en dit is om hulle produk te verkoop ten koste van die produsent.

“Daar is baie mense met baie kennis, maar hulle is nie prakties nie. My raad aan ’n jong boer sal wees om alle inligting wat hy ontvang aan te hoor, maar om dit goed te oordink. Verder is dit belangrik om alles wat jy doen betyds te doen. Doen dit eerder ’n week te vroeg as ’n week te laat.”

’n Praktiese voorbeeld is om die watertoediening gereeld te meet en nie net vir die foontoepassing te wag om jou te vertel wat aangaan nie.

Hy waarsku dat die landbou-omgewing nie maklik is nie en dat hy alles in sy vermoë doen om homself teen risiko’s te verskans.