Om met ’n eerste plek in die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie weg te stap, is reeds ’n prestasie, maar om ’n nuwe opbrengsrekord van 14,71 t/ha agter jou naam te kan skryf in die afdeling vir mielie-verbouing op watertafelgronde, is nog meer spesiaal. Wat egter besonders is, is die feit dat Jan Botma van Bothaville se nuwe opbrengsrekord die vorige rekord van 13,256 t/ha (wat hy self gehou het) met 1,5 t/ha klop!
Dit was die derde keer wat hy deelgeneem het en ook die derde agtereenvolgende jaar wat hy met die eerste plek in dié afdeling wegstap. Verlede jaar het hy 12,459 t/ha behaal.
Hy is die derde geslag Botma wat sy tuiste in die landbou gevind het en deesdae hou hy saam met sy pa, Gerhard, die leisels van IG Botma Boerdery net buite Bothaville vas.
Die DEKALB-baster DKC76-77BR is nou reeds vir ses jaar ’n staatmaker in hul mielieboerdery en verteenwoordig tweederdes van hulle mielie-aanplantings. Die ander derde is met ander DEKALB-basters geplant.
Wanneer hulle moet besluit oor wat hulle vir die komende plantseisoen gaan bestel, kyk hulle veral na ’n baster wat aangepas is vir die toestande in hulle gebied. “Dit moet droogtetoestande kan hanteer maar moet ook potensiaal toon om ’n goeie opbrengs te lewer.” Data wat deur maatskappye in hul proewe ingesamel en verwerk word, word gebruik as riglyn vir hul keuse. Hulle woon ook boeredae by spesifiek om na mielieproewe te kyk waar nuwe produkte met ander staatmakers in die mark vergelyk word. Só kan hulle bepaal watter nuwe basters geskik sal wees vir hulle boerdery-opset, sê Botma.

Die praktyke wat op die wenblok gevolg is, stem ooreen met die res van hulle mielie-aanplantings. “Ek het niks anders op die spesifieke land gedoen nie. Ek het egter vanjaar net voor pluim ekstra bemesting uitgestrooi oor al die lande.”
Om die graanboerdery aan te vul het hulle ook ’n Santa Gertrudis-stoetkudde met die naam Sombrero Santas. Na stroop bewei die beeste die oesreste om hul wintervoeding aan te vul. Daar is egter jare wat hulle nie die beeste in die lande laat oorwinter nie omdat hulle dit vroeg wil bewerk sodat hulle gereed kan wees om vroeg te plant as toestande dit regverdig.
Laat reën ontvang
In die afgelope seisoen het hulle 900 mm reën ontvang wat heelwat meer was as in die vorige jaar. Volgens Botma het dit egter laat begin reën.
Die plaas het hoofsaaklik Avalon-tipe sand- en leemgrond wat hulle bestuur deur minimumbewerking toe te pas. Hulle doen ’n tandbewerking en gebruik dan ’n rolstaaf om die saadbedvoorbereiding te doen. Botma neem die grondtemperature in ag voordat hy plant. Die blok wat ingeskryf is, is op 18 November teen ’n plantestand van 35 000 plante/ha geplant. Die Botmas volg ’n treinspoorstelsel met ’n gemiddelde rywydte van 1,05 m tussen die dubbelrye.
Botma het met ’n Lemken Equalizer-planter (SL II), wat met presisietegnologie toegerus is, geplant. Die blok is op 6 Junie 2025 met ’n John Deere S770 gestroop.
Hy sê die afgelope paar jaar het hulle aanpassings in die praktiese bestuur van hulle grond gemaak. “Ons het heelwat aandag aan ons grondbewerking gegee. Die nuwe plantertegnologie tot ons beskikking het dit vir ons moontlik gemaak om daardie veranderinge in ons bewerkingsmetodes aan te bring.”
Grondontledings word elke drie jaar gedoen en dan word kalk uitgestrooi gebaseer op die ontledings. As bemesting het hulle 156 N (stikstof), 28 P (fosfaat) en 35 K (kalium) toegedien. Wat onkruidbeheer betref het hulle voor plant Baseline 960, Armadillo
en Kalash 510SL van Arysta asook TBZ 500 SC van Typhoon Plant Protection gespuit.
Vogbewaring en optimale opbrengs
Deurslaggewende aspekte waarop Botma in die boerdery fokus, is vogbewaring en optimale opbrengs. “Vogbewaring is van kardinale belang. Vog was ons grootste uitdaging aan die begin van die afgelope seisoen voordat dit begin reën het.”
Sy raad aan ander jong produsente is: “Sorg dat die lande altyd betyds bewerk is sodat jy kan plant as dit begin reën. Sorg verder dat jy die plantseisoen met skoon lande begin om die onkruidkompetisie uit te skakel. Kies en gebruik altyd die beste produkte wat jy kan bekostig. Moenie afskeep as dit by gehalteprodukte kom nie.”
Soos vir heelwat ander jong produsente is sy pa vir hom ’n inspirasie en ook sy mentor.
Hy is deel van die Broekman-studiegroep en meen dat sulke byeenkomste baie waarde inhou omdat die produsente saam gesels oor die seisoen se uitdagings en omdat ’n mens altyd iets by ander produsente of by die sprekers wat hulle soms reël, kan leer.

















