
HUB, Graan SA
SOOS WAT DIE GORDYN SAK OOR NOG ’N JAAR, RAAK ONS VIR ’N OOMBLIK STIL OM ASEM TE HAAL, TE BESIN EN DANKBAAR TE WEES. VIR DIEGENE VAN ONS WAT DIE VOORREG HET OM DIE LANDBOUSEKTOR TE DIEN, IS DIT ’N GEVOELVOLLE OOMBLIK VAN DANKBAARHEID WAT ONS HERINNER AAN ONS VERORDENDE RENTMEESTERSKAP OM VOEDSEL TE PRODUSEER EN LEWENSONDERHOUD VOL TE HOU.
Die einde van die jaar bring een van die mees spesiale en gevier-de oomblikke op Graan SA se kalender: die Graanprodusent van die Jaar-toekennings en die Goue Graan-toekennings – ’n viering van uitnemendheid. Hierdie toekennings gaan nie oor glans nie, maar oor oorlewing. Dit gaan oor uitnemendheid en afhanklikheid van die natuur en God se genade. Dit herinner ons daaraan dat ons rentmeesters is wat ons talente moet vermenigvuldig en die land vrugbaar moet maak.
Verering van diegene wat deur voorbeeld lei
Vanjaar se Goue Graan-toekennings was ’n herinnering aan die kaliber van leierskap wat Suid-Afrikaanse landbou vorm. Ons het Jaco Minnaar gevier, ’n produsent wie se integriteit en leierskap verantwoordelikheid en diens toon wat wetenskap, geloof en nederigheid kombineer in die nastre-wing van volhoubare boerdery.
Sy werk by Graan SA, AgriSA en nasionale kommoditeitstrusts weerspieël sy oortuiging dat produsente grondbewaarders en nasiebouers is.
Toe het ons vir Derek Mathews vereer, wie se ampstermyn as voorsitter van Graan SA gekenmerk is deur eenheid, transformasie en visie, wat verhoudings in die waardeketting, ontwikkeling van boere en volhoubaarheid versterk het. Sy aanmoediging om aan te hou om die regte ding te doen en self verantwoordelikheid te neem vir wat gedoen moet word, bly kragtig. Hy het gedien met waardigheid en moed en ’n blywende indruk op ons organisasie en bedryf gelaat.
Ons het ook die Inspirasie-toekenning aan Jozeph du Plessis oorhandig: ’n man wie se geloof, innovasie en mentorskap produ-sente landwyd opgehef het. Sy paadjie wys dat uitnemendheid en nederigheid hand aan hand kan loop. Deur twee dekades
se diens aan Graan SA asook sy baanbre-kerswerk in sojabone en katoen, het hy ware leierskap getoon.
Rentmeesterskap: ’n heilige roeping
Ons produsente werk met die skepping self. Boerdery is ’n bevoorregte beroep wat die mensdom met God se skepping verbind. Soos Psalm 19:1 sê: “Die hemel getuig van die mag van God.” Diegene wat die land bewerk, leer elke dag geloof, geduld en nederigheid by die son, reën en grond.
Produsente besef die realiteit daarvan om te werk oorgelaat aan die genade van die natuur en God. Hierdie afhanklikheid herinner ons daaraan dat ons rentmeesters is, nie eienaars nie. Soos in die gelykenis gesien kan word, is ons talente gawes wat vermenigvuldig moet word deur insig, uithouvermoë en kreatiwiteit, om so die land vrugbaar te maak.
Ons lede se sukses is nie net sigbaar in vol silo’s nie, maar ook in die respek wat hulle verdien deur hoe hulle hul Godgegewe talente gebruik. Agter sulke produsente staan daar ’n familie en span wie se geloof, geduld en liefde die fondament vorm wat hulle en die sektor onderhou.
Wyle prof Mohammad Karaan het gesê dat produsente die morele vesel en grondslag van die samelewing is. Vandag, terwyl korrupsie en eiebelang ons nasie bedreig, bied die integriteit, dissipline en harde werk van produsente ’n noodsaaklike voorbeeld van hoop. Ons sektor is een van geloof, deursettingsvermoë en verantwoordbaarheid. Produsente se plig is om te bou, te voed en te koester – nie net gewasse nie, maar ook gemeenskappe. Elke billike daad, elke werksgeleentheid wat geskep en elke hektaar wat herstel word, is ’n daad van leierskap. Dit is waarom die Graanprodusent van die Jaar-toekennings nie oor selfverheerliking gaan nie, maar om te besin oor wat ons kan wees.
Baie geluk aan ons Graanprodusent van die Jaar, Hansie Viljoen en sy gesin, vir die daarstel van die standaard en die uitbreiding van dit wat moontlik is in graanproduksie. Julle is inspirerende en waardige leiers in ons bedryf.
Die Kerstyd bied ’n gepaste afsluiting vir hierdie oordenking. Dit is ’n tyd van dankbaarheid, vernuwing en hoop – ’n tyd om die geboorte van Christus te vier, wat lig in duisternis en vrede in onrus gebring het. Soos wat ons saam met geliefdes bymekaarkom, word ons daaraan herinner dat ons werk as produsente, leiers en burgers deel is van iets groter. Dit is ’n lewende getuienis van geloof deur dade.
Mag hierdie feestyd rus, vreugde en ’n hernude gewaarwording van doelgerigtheid bring. Mag dit ons herinner dat elke daad van plant en oes deel is van God se groter plan. En mag die nuwe jaar vars geleenthede bring om te dien, te lei en te groei – tesame.
Van ons almal by Graan SA, baie dankie dat julle saam met ons stap op hierdie reis deur nog ’n jaar van uitdagings en prestasies.
Mag 2026 ’n jaar van oorvloedige reën, sterk oeste, gesonde markte en standvastige harte wees.










