Richard Krige: die mens agter die voorsittertitel

Rentia Mynhardt, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 14 November 2025

397

Hy onthaal graag en skrik nie vir kosmaak en kuier nie – soveel só dat sy familie reken hy is uitputtend. By funksies is daar altyd tyd vir ’n grappie, maar dit is wanneer dit by landbou kom dat hy ernstig raak, want dit is hiér waar Richard Krige, voorsitter van Graan SA, ’n verskil wil maak.

Gebore in Johannesburg op 11 Mei 1971, het Richard sy skoolloopbaan by Parktown Boys’ High School voltooi. Nadat hy aanvanklik met ’n BScAgric in Stellenbosch begin het, het hy na ’n jaar by Standard Bank begin werk. Gedurende dié tydperk is hy vir nasionale diensplig in Simonstad opgeroep waarna hy vir agt maande deur Afrika gereis het. Die restaurantbedryf en eiendomsmark vorm ook deel van sy portefeulje, maar landbou het hom teruggeroep toe hy ’n nasionale diploma in boerderybestuur aan Worcester Kollege voltooi het, wat hy cum laude geslaag het.

Dit was by Michael Swart, sy Caledon-oom wat ’n belangrike mentor in sy lewe was, waar hy waardevolle praktiese ondervin-ding – veral in die vee-afdeling waar hy die Döhne-merino-stoet tot by die eerste produksieveiling laat groei het – opgedoen het. Gedurende hierdie tyd het hy vir Reza ontmoet wat dié jong man van Swartrivier se voete onder hom uitgeslaan het. Soveel só dat hulle vanjaar al hulle silwerbruilof gevier het. Hulle dogters, Kaylee en Meagen, studeer onderskeidelik regte by Maties en veekunde by Tuks. Alhoewel die Kriges mekaar relatief min tussendeur almal se bedrywighede sien, is dit veral vakansietye wanneer almal beskikbaar is dat hulle kwaliteittyd saam spandeer.

Van Swartriver af het hy na Boontjieskraal Landgoed, Reza se familieplaas wat ook in die Caledon-distrik geleë is, geskuif. Hier is hy vertrou om die besigheid uit te brei saam met ’n span waarvan hy met groot lof praat. Hulle fokus sedert 2001 op herlewingslandbou.

Richard het oor die jare op verskeie komitees, trusts en direksies gedien en was ook op verskillende vlakke by georganiseerde landbou betrokke, van landbouverenigings, navorsingskomitees, die Wintergraantrust en proefplase, tot die Wes-Kaapse Landbounavorsingstrust. Hy is verder gemoeid met Agbiz en AgriSA, waar hy onlangs tot voorsitter van die kommoditeitskamer verkies is. Sedert 2012 dien hy op Graan SA se Raad, waaronder as visevoorsitter vir vyf jaar voordat hy in Maart vanjaar tot voorsitter verkies is.

Die Krige-gesin het ’n groot liefde vir die bos, en toe die geleent-heid hom vier jaar gelede voordoen om ’n eiendom in die Laeveld te koop, het Richard dit aangegryp. Simbavati Waterside, wat deel uitmaak van die Groter Kruger Nasionale Park, is waar hy rustig raak en te lekker “kopkonsert” kan hou. Om die verskillende gras, voël- en plantspesies te leer ken, is iets wat hy baie geniet. “Om by die bestuur van verskillende besighede, by Graan SA en georganiseerde landbou betrokke te wees, is vir my ’n voorreg. Ek leer steeds elke dag. Dit is spesiaal om terug te gee aan landbou, want ek het al soveel van landbou ontvang.”

Richard Krige is vanjaar tydens Graan SA se Kongres tot voorsitter verkies. Hy neem na vyf jaar die voorsitterstoel by Derek Mathews oor.

Betrokkenheid by Graan SA
Volgens Richard het ons mense om ons nodig. “Ek leer graag by kundiges. My blootstelling by Graan SA het oor plaasgrense heen gestrek, wat my die geleentheid gee om as mens te groei. Dit het my geleer om wyer te dink en die groter prentjie van landbou te sien. Om mense te bemagtig en te help groei en ontwikkel, is iets wat ek baie geniet. Groter doeltreffendheid vra dat jy ander vertrou. Dit verseker dat die besigheid kan voortgaan wanneer ek nie daar kan wees nie.”

Richard was deel van die span wat ’n belangrike rol in die herstrukturering van Graan SA gespeel het. “Die rede vir die herstrukturering was dat artikel 30 B van die Inkomstebelastingwet bepaal dat minstens 90% van ’n lede-organisasie se inkomste vanaf lede moet wees ten einde belastingvrye status te geniet. Om hieraan te voldoen en om lede se vrywillige bydraes te beskerm, moes ons van die kommersiële aktiwiteite op ’n ander manier begin hanteer en kon alles nie meer onder een sambreel sorteer nie.”

Gevolglik is die ontwikkelingsprogram van Phahama Grain Phakama as aparte artikel 30 B-entiteit geregistreer en word kommersiële aktiwiteite soos NAMPO ook nou apart hanteer. “Dit gee ons die geleentheid om meer op kommersiële aktiwiteite te fokus om ons bedrywighede te help subsidieer sodat ons relevant kan bly en ons lede rede gee om hulle vrywillige heffings te betaal.

Hierdie heffings word weer direk aangewend om te fokus op Graan SA se primêre doel: om ’n impak op Suid-Afrikaanse landbou te maak sodat produsente se besighede winsgewend en volhoubaar kan voortbestaan.”

Hy glo dat Graan SA reeds namens die meerderheid van produsente praat, maar sal graag namens minstens 50% van die land se nasionale oes wil praat. “Die Raad is daartoe verbind om hierdie groei te bewerkstellig sonder om noodwendig die ledegelde te verhoog.”

Richard het veral sedert sy verkiesing tot voorsitter ervaar watter aansien Graan SA in die samelewing het. “Champions breed champions. Van die personeel, die leiers in die streke, die vlak van rekordhouding, die bestuur – alles van Graan SA is op ’n ongekende vlak. Hernude belangstelling vanaf die regering is sprekend daarvan, ten spyte daarvan dat Graan SA ’n apolitiese organisasie is.”

Hy sien die aansien wat Graan SA tans geniet as ’n groot verantwoordelikheid, maar ook as ’n geleentheid om die organisasie se stem tot voordeel van produsente asook die breër landboufamilie te gebruik. “Ek sal regtig graag wil sien dat daar ’n sterker samehorigheid en eenheid in landbou moet wees. Ons praat dikwels ván mekaar en nie mét mekaar nie.

“Verskillende boodskappe vanaf verskillende entiteite skep verwarring onder produsente. Landbou in die algemeen sal daarby baat as daar een boodskap uitgestuur word. Om by verskeie instansies betrokke te wees, help my om die volle prentjie te sien en te verstaan hoe die waardeketting binne landbou werk.”

Richard sien nie die posisie wat hy beklee as ’n rede om aansien en erkenning te kry nie. “Dit is ’n roeping. ’n Mens word gedryf om te doen wat jy moet doen met die talente wat jy van die Here af ontvang het. Ek hou nie daarvan om in die kollig te wees nie. My rol is daar om leiding te gee, maar die erkenning hoort by die mense wat in die veld werk en die werknemers wat spesialiste is in wat hulle doen.”

Die energie en kundigheid wat jongmense na landbou bring, maak Richard opgewonde. “Landbou het weer sexy geword. Jong navorsers bring ’n vars dinamiek na die tafel en dit is asof die jonger generasie met nuwe ywer boer. Dit wys dat daar hoop is vir landbou en hoop is vir ons land.”

Richard en Reza Krige tydens die Graanprodusent van die Jaar-funksie in Oktober.

Toekomsdrome
As sewende voorsitter van Graan SA wil hy nêrens anders as in Suid-Afrika wees nie. “Daar is by my geen twyfel dat ons in die mooiste land in die wêreld bly nie. Dié van ons wat besluit het om in die land te bly, moet saamstaan en uitdagings hanteer tot voordeel van landbou, die ekonomie en die land in geheel. Ons is rentmeesters van landbou en die grond wat onder ons beheer is. Ons moet sorg dat generasies na ons steeds kan eet.”

Richard wil aan die einde van sy lewe kan terugkyk en voel dat hy voluit geleef het terwyl hy sy Christelike waardes uitgeleef het. “Ek wil ’n verskil in ander se lewens maak en wil in die tyd wat aan my gegun is, ’n inspirasie vir ander wees. Dit sal my groot vreugde verskaf as ek iemand se lewe selfs net ’n bietjie beter kon maak en weet dat daardie persoon met ’n ander lied in sy/haar hart kon opstaan.”