Skulpies te koop

Gepubliseer: 14 November 2025

138

Beste Grootneef

Op ’n aanlyn veiling kan jy nou wrintiewaar van ’n polisieman tot ’n nat sambreel aankoop.

Sommige aanbiedings kan egter effe misleidend wees – soos “plastiekstoel te koop – kort aandag”. Die foto daarmee saam wys ’n geel plastiekstoel (soos destyds op NAMPO), met net een agterpoot. Al gee jy nou hoeveel aandag aan die stoel, koop jy nog steeds ’n kat in die sak. Dan liewer in ’n kas bier belê vir ’n stewige sitplek met twee dosyn byvoordele.

Wat hiervan? Een tweemantent te ruil vir ’n carry cot. Tent slegs een maal gebruik. Wel, wel, dink ek by myself, ’n tent met ’n storie!

Kunsmatige intelligensie steek deesdae oral kop uit. Dit kan egter nog steeds nie gesonde verstand klop nie. Hier is ’n paar sleutelwoorde om koers met aanlyn aankope te hou:

“Kort aandag” beteken hou verby. Die stoel kort ’n poot.

“Geen kansvatters” beteken moenie oor die prys kibbel nie.

“Slegs solank voorraad hou” beteken die man het so baie daarvan, subtiele aanmoediging is nodig sodat mense dink daar is min oor.

“Vintage” beteken nie ’n soort wyn nie, dis bloot nog nie antiek nie.

“Antiek” beteken dit kom uit oupa se huis, maar die kleinkinders wil dit nie hê nie.

“Laaste kans” beteken dit is volgende week weer aanlyn beskikbaar.

“Immigrasieverkoping” beteken die eienaar kan nie spel nie.

“Skulpies te koop” Dit beteken iemand het nood. Die foto wat tesame met die advertensie geplaas is, toon ’n paar hande vol skulpe. Wat sou die storie agter hierdie aanbod wees? Want geldwaarde is daar nie in iemand anders se heimwee na ’n sonskyndag op ’n strand nie.

Daar is ’n fyn lyn tussen sentiment en besigheid. Ek het al beleef hoe familie mekaar op ’n huisinhoudveiling takel vir ouma se breekgoed – nie oor die gebarste borde nie, maar oor die herinnering van samesyn en die geur van skaapboud in ’n plaashuis, lank, lank gelede.

Niks fout met sentiment nie – dis hoe elke mens bedraad is. Sentiment kleef aan ’n herinnering met nostalgie. Verweef met onthou-jy-nogs.

In jou eie gesin sal jy dit ook sien uitspeel. Iets van waarde vir jou, sal nege uit tien kere nie in jou telge se smaak val nie. Want hulle is besig om hul eie herinneringe met hul eie unieke ervarings te bou. Jou skulpies van ’n vreemde strand het in hul wêreld geen waarde nie.

Twee lewenslesse is te leer: Ieder en elk se smaak verskil; en moenie goeters namens jou nageslag opgaar nie – hulle sal dit heel waarskynlik nie wil hê nie. Vra sommer prontuit in die lewe wie hou van wat en plak ’n naam onder of agter die ding vas met ’n lysie om seker te maak, sou die plakker met verloop van tyd sy houvas verloor.

En verkoop die res op die markplein in die kuberruim vir ’n neseier om eendag weer op ’n vreemde strand te gaan skulpe optel. Maar gooi daardie skulpie en klippie terug in die see voor jy huis toe kom – want dis waar dit hoort. In die Vrystaat gaan dit net stof vergaar.

Dis eintlik ’n wilsbesluit om die eekhoring-geen van “opgaar vir eendag” uit jou menswees te weer. Indien jy dit nie aktief doen nie, sit jy weldra met ’n stoor vol “ingevals”, vir iemand anders om eendag uit te pak en te verdeel.

Daar is baie vreugde te ontsluit deur nou reeds goeters weg te gee aan iemand wat waarde daaraan sal heg. Anders – wanneer jy eendag die emmer skop – kan dit ’n gespook afgee om van alles ontslae te raak.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.