
HUB, Graan SA
WANNEER OOK AL DIE GRAAN SA-SPAN SAAM MET POLITICI IN DIE MEDIA VERSKYN, IS DAAR ALTYD KOMMENTAAR – ÓF POSITIEF ÓF NEGATIEF EN IN DIE MEESTE GEVALLE ALBEI. OM POLITIEKE LEIERS TE BETREK WAS NOG ALTYD DEEL VAN LANDBOU SE STORIE, AANGESIEN ONS OP POLITICI STAATMAAK VIR GESONDE BELEID, DEURSIGTIGE EN BILLIKE MARKTE ASOOK ’N OMGEWING WAT BEVORDERLIK IS VIR WINSGEWENDHEID EN VOLHOUBAARHEID.
In vandag se politieke arena met sy vinnige pas – meer luid en omstrede as ooit tevore, veral in die sosialemedia-stortvloed – maak die manier waarop ons omgaan egter net soveel saak as die resultate waarna ons soek. Om uit te styg bo die geraas is dit noodsaaklik om met integriteit en opregtheid vir die graanprodusent se saak te pleit. By Graan SA word ons benadering gelei deur waardes, gegrond op feite en bewyse en aangepas by die snel veranderende realiteite van die digitale wêreld.
Jesus het die skeiding van politiek en geloof aan die gang gesit met die woorde: “Betaal aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat God toekom.” Alhoewel ons regeringsgesag respekteer, is ons hoogste trou verskuldig aan die waarheid, rentmeesterskap en diens. Jesus het geweier om ’n politieke koning te wees en het eerder gekies om sy sending te onderskei van aardse mag. Dit inspireer ons om onafhanklik te bly en saakgedrewe eerder as lojaliteitsgedrewe te wees. Ons is verbind tot beleid wat die langtermynbelange van graanprodusente se volhoubaarheid en voedselsekerheid dien. Dit herinner ons ook daaraan dat betrokkenheid beide respek en moed vereis deur wettige gesag te gehoorsaam, maar vas te staan wanneer billikheid, vrye markte of integriteit op die spel is.
’n Betroubare stem vir graanprodusente
In vandag se beleidswêreld lei deursigtigheid en vertroue tot geloofwaardigheid. Graan SA se rol is om die vertroude bemiddelaar van feite en bewyse rakende graan- en oliesaadproduksie te wees deur robuuste ekonomiese analise, produsentervaring en wetenskaplike insig saam te voeg in een stem waarop beleidmakers kan staatmaak.
Dit vereis dat ons duidelik moet wees oor ons standpunte, ons verbintenisse moet dokumenteer en in koalisies moet saamwerk met ander in die waardeketting. Dit vra ook dat ons kortpaaie soos geheime praatjies en onbehoorlike beïnvloeding verwerp. Ons krag lê in deursigtige, beginselvaste voorspraak waar elke vergadering, elke voorlegging en elke aanbeveling geanker is in bewyse en redelikheid.
Omskep risiko’s in geleenthede
Voorspraak word nie meer net in komitees en beleidsdokumente gemaak nie. Sosiale media en die 24-uur-nuussiklus vorm nou politieke besluite, met ’n enkele virale plasing – waar of vals – wat debatte kan swaai en brose openbare vertroue kan ondermyn.
Dit bring beide risiko’s en geleenthede mee. Vals nuus oor voedselsekerheid of graanuitvoere kan markte destabiliseer en politici beïnvloed, en soms lei tot besluite gebaseer op openbare mening eerder as feite. Tog bly graanprodusente se stories boeiend en wanneer dit met integriteit vertel word, kan die publiek hulle daarmee vereenselwig.
In hierdie raserige digitale omgewing is ons taak om die waarheid te versterk, waninligting vinnig en geloofwaardig teen te werk en ’n betroubare stem daar te stel wat die geleefde ervaring van Suid-Afrika se graanprodusente weerspieël. Voorspraak gaan vandag net soveel oor die vorming van die narratief as oor die opstel van voorleggings. Wanneer leiers erken dat Graan SA se stem die vertroue van graanprodusente, die media en die breër publiek verteenwoordig, het ons voorspraak meer gewig en invloed.
Daarom belê ons in deursigtigheid en in vinnige responsstelsels om waninligting aan die kaak te stel deur vennootskappe met geloofwaardige platforms wat ons help om die storie van graanproduksie te vertel wat verder strek as die beleidsopdrag. Ons monitor en neem deel aan narratiewe in die media, is gereed vir digitale storms en berei vooraf boodskappe voor sodat valse bewerings oor graanproduksie en -produsente nooit onbetwis bly nie.
Bepaal die narratief verder as die tafel
Om politici te betrek gaan dus nie meer net oor ’n vergadering om die tafel nie. Dit gaan daaroor om die narratiewe omgewing rondom daardie ontmoeting te vorm. Ons geloofwaardigheid word nie net gebou op die data wat ons in die Parlement of ’n regeringskantoor voorlê nie, maar ook op hoe konsekwent ons die beginsels van eerlikheid, billikheid en onafhanklikheid in die openbaar gestand doen.
Hierdie gebalanseerde benadering – in waardes gewortel, in praktyk gedissiplineer en rats in die digitale wêreld – is hoe Graan SA sal voortgaan om ons lede te dien terwyl leiers betrek word. Ons onafhanklikheid is ons krag, ons bewyse is ons geloofwaardigheid en ons aanpasbaarheid is ons relevansie.
Op die ou end gaan die betrekking van politici nie oor partydigheid nie – ons moet ons boodskap aan alle belanghebbendes oordra, of hulle nou fatsoenlik of onfatsoenlik is. Dit gaan daaroor om die saad van vertroue, waarheid en deursigtigheid in vrugbare en soms baie vlak grond te plant. Hulle mag dalk ons saak en oortuiging ignoreer – dit is hulle keuse – maar ons sal sonder twyfel gehoor word.










