Met die maan gepla

Gepubliseer: 7 Oktober 2025

283

Beste Grootneef

Ek hoor oor die draadloos die nuus dat ons Departement van Basiese Onderwys besluit het dat die slaagsyfer vir wiskunde, wetenskap en tale verhoog moet word tot 50% van 90% van alle leerlinge. Die ingewikkelde doelwit moet gelukkig darem eers teen 2030 behaal word. Aan die helderdenkers wat so ’n doelwit kon formuleer – baie geluk. Aan die arme onderwysers wat die doelwit moet maak werk – baie sterkte. En aan die jongspan wat hieroor stres – gelukkig lê 2030 nog ver in die toekoms. Teen daardie tyd sal dié meesterplan ook veilig in die Uniegebou lê en stof vergader.

Kom ons vergeet vir ’n oomblik van ambisieuse drome en gedenk ’n paar baanbrekers. Maar eers ’n bietjie huiswerk. Wie kan onthou wie was Michael Collins?

Gooi egter nog twee name in die hoed as leidrade, Neil Armstrong en Buzz Aldrin. Die laaste twee name help – synde die eerste twee manne wat veilig op die maan geland het, met die ikoniese woorde uit die buitenste ruim “one small step for man one giant leap for mankind”. Dit was in Julie 1969. Michael Collins het nie die voorreg gehad om spore op die maan te laat nie. Hy was besig met ’n ander groter taak agter die skerms. Sy taak was om Apollo 11 se ruimtetuig met die roepsein “Colombia” op koers te hou. Dít terwyl sy spanmaats beelde vanaf die maan na die aarde versend het en maanklippe opgetel het.

Collins moes die ruimtetuig 30 keer om die maan laat wentel met presisie en fokus. Wanneer die Colombia agter om die maan moes wentel, was Collins waarskynlik die eensaamste mens in die heelal, met 48 minute se doodse stilte met geen radioverbinding met NASA nie. Collins vertel dat hy met elke omwenteling gepoog het om die landingstuig raak te sien, maar hy kon dit eenvoudig nie op die maanoppervlak waarneem nie. Op daardie stadium was sy grootste kommer dat sy spanmaats se landing onsuksesvol was en dat hul beseer of dood op die maan se oppervlak gestrand was. Die landingsarea was ongeveer 19 km suidwes van die krater bekend as “Sabine”. Effe later het NASA Collins egter gerusgestel dat almal veilig is, en dat die landingstuig ongeveer 4 km van die teikenarea geland het.

Alles was ’n eerste vir die mensdom en niemand het vooraf geweet of die sending enigsins suksesvol sou wees nie.

Later in sy lewe het Collins vertel dat wanneer hy op sy eie agter om die maan gewentel het, sy emosie nie vrees was nie, maar ’n diepe bewustheid, tevredenheid, afwagting en self­vertroue. Selfs uitgelatenheid om deel van so ’n missie te wees. Sy totale fokus was om koers te hou, en die spanlede veilig terug op moederaarde te besorg.

Na agt dae, drie ure en tien minute het die pioniers veilig in die oseaan geland. Die VSA-vloot was onmiddellik by die landingskapsule, maar die drie ruimtevaarders moes eers in isolasiepakke geplaas word, waarna hulle na ’n kwarantynsentrum geneem is. Niemand het geweet of kieme uit die ruimte saam met hulle na die aarde sou terugkeer nie; die span moes 21 dae onder kwarantyn verduur voordat hulle as helde in vele stede gehuldig kon word.

So ’n kantnota, die bystandvlieënier vir hierdie epiese ruimtetog was Jim Lovell. Lovell sou later bekendheid verwerf het met sending Apollo 13 met die roepsein “Houston, we have a pro­blem”. Dit was die sending wat bykans rampspoedig geëindig het, maar danksy briljante planne ook veilig tuis gekom het. Die lot wat gewerp is oor wie deel van Apollo 11 en Apollo 13 se sendings sou wees, was buite die beheer van Collins en Lovell. Albei word egter onthou vir hul baanbrekerswerk.

Wat Apollo 11 en Apollo 13 se vlieëniers in gemeen gehad het, was dat hulle agter die skerms besig was om geskiedenis moontlik te maak. Almal onthou die naam van Neil Armstrong. Dit was egter net danksy iemand wat agter die skerms besig was met solovlugte om die maan dat hy die eerste tree op die maan kon gee. Kom ons gedenk die “agter die skerms” meesters wat die onmoontlike moontlik maak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.