Sorghum-inligtingsdag: ’n dag van kennis en innovasie

Strelza van Aardt, landbou-ekonoom-intern, Graan SA
Gepubliseer: 1 September2025

357

Onder ’n sagte, bewolkte hemel het produsente, landboukundiges en ander belanghebbendes onlangs by Platrand saamgetrek vir ’n inligtingsdag wat geheel en al aan sorghum gewy is. Die geleent­heid het nie net die waarde van hierdie inheemse gewas beklemtoon nie, maar ook die belang van samewerking en kennisdeling in ’n tyd waar volhoubare landbou al hoe meer op die voorgrond tree.

Sorghum is een van Afrika se oudste en veelsydigste gewasse. As ’n stapelvoedsel vorm dit die basis van baie gemeenskappe se dieet, en sy vermoë om in warm, droë toestande te floreer maak dit uiters geskik vir klimaatsverandering. Boonop is sorghum ryk aan belangrike voedingstowwe soos vesel, proteïene en antioksidante, wat dit ’n gesonde keuse maak vir menslike en dierlike verbruik. Om weer na sorghum as ’n moderne, ekonomiese en volhoubare gewas te kyk, is ’n belangrike tree in die rigting van voedselsekerheid.

Inligtingsdae soos dié een speel ’n sleutelrol in die oordrag van praktiese kennis en die bekendstelling van nuwe tegnologieë aan produsente. Dit bied ’n ruimte waar produsente vrae kan vra, erva­rings kan deel en eerstehands kan leer oor die jongste ontwikkelings in gewasbestuur, insetgebruik en markgeleenthede. Sulke geleent­hede versterk nie net die landbougemeenskap nie, maar dra ook by tot meer ingeligte en veerkragtige produksiepraktyke.

Mlibo Qotoyi en Gerhard Burger, landbou-ekonoom-interns van Graan SA, by van die proewe wat op die plaas aangeplant is.
Graan SA se landbou-ekonoom-interns, Gerhard Burger, Mlibo Qotoyi en Strelza van Aardt, saam met Ebert du Plessis, Graan SA-Raadslid, op wie se plaas die inligtingsdag aangebied is.

Gjizelle Nel, voorsitter van die Sorghumkluster, het die gehoor ingelig oor die werk wat dié kluster verrig om nuwe lewe in die plaaslike sorghumbedryf te blaas. Die kluster huisves vyf sleutelinisiatiewe, insluitend ’n voorteel- en teelprogram wat fokus op die ontwikkeling van lyne en basters wat aangepas is vir Suid-Afrikaanse toestande, asook navorsing oor alternatiewe metodes om kweleas – een van die grootste bedreigings vir sorghum – te beheer. Verdere inisiatiewe sluit in die bevordering van sorghum as ’n BTW-vrye stapelvoedsel, ’n bewusmakingsveldtog wat resepte, sosiale media en inligtingsessies insluit, en die beplanning van ’n plaaslike verwerkingsaanleg. Hierdie geïntegreerde benadering poog om die hele waardeketting van sorghum te versterk – van navorsing en produksie tot verbruik en marktoegang.

Dr Lisa Rothmann het namens die Universiteit van die Vry­staat se McLab Epidemiology and Field Pathology Group terugvoer gegee oor hul navorsing oor sorg­humsiektes. Sy het onder meer verwys na ’n tweejaar- nasionale siekte-opname wat tans deur PhD kandidaat Thabiso Masisi uitgevoer word, asook aanvullende navorsing oor produsente se bewustheid van siektebestuur en klimaatverande­ring. MSc-student Nomvula Moloi se werk oor diagnostiek en weerstandstoetse is ook uitgelig. Hierdie navorsing, wat deur die National Research Foundation Thuthuka Grant (TTK220323450) (NRF) befonds word, beklemtoon die waarde van geïntegreerde wetenskaplike en praktiese benaderings tot gewasgesondheid. Die span is ook betrokke by die evaluering van die voorteellyne van die Sorghum Cluster Initiative, ten einde die ontwikkeling van nuwe sorghumkultivars te ondersteun.

Ebert du Plessis vertel meer oor sorghumaanplantings op sy plaas Rietfontein by Platrand.
Produsente word toegespreek oor die verskillende kultivars wat in die sorghumproewe op Rietfontein aangeplant is.

Zander Labuschagne van Syngenta het tydens die inligtingsdag waardevolle insigte gedeel oor die beskerming van sorghumgewasse teen onkruidskade deur die gebruik van saadbeskermers in kombinasie met onkruiddoders. Sy aanbieding het gefokus op die meganisme van aksie, die voordele van vooraftoediening en die rol van hierdie tegno­logie in weerstandsbestuur en opbrengsoptimalisering. Praktiese aanbevelings vir aanwending asook vergelykings met alternatiewe produkte het produsente gehelp om ingeligte besluite oor onkruidbeheerstrategieë te neem. Daar is ook klem gelê op gewasveiligheid en die belangrikheid van wetlike nakoming in die gebruik van landbouchemikalieë.

Strelza van Aardt van Graan SA het tydens die inligtingsdag waardevolle markinligting oor sorghum gedeel. Haar aanbieding het gefokus op internasionale produksie- en vraagsyfers, sowel as plaaslike en ingevoerde pryse. Sy het ook ’n vergelyking getoon
tussen die kwaliteit van Suid-Afrikaanse en Brasiliaanse sorghum, insluitend faktore soos voginhoud, proteïen, styselinhoud en fisiese eienskappe van die pitte. Hierdie insigte het produsente gehelp om die mededingendheid van plaaslike sorghum in die wêreldmark beter te verstaan, en het die belangrikheid van kwaliteit en marktoegang beklemtoon.

Jan Schoonraad van Omnia het praktiese riglyne gedeel oor die bemesting van sorghum, met spesifieke verwysing na verwyde­ringsyfers en toedieningsmetodes. Hy het beklemtoon dat sorghum se waterverbruiksdoeltreffendheid ’n belangrike voordeel is, veral in droër produksiegebiede. Deur die verwyderingsyfers van sorghum met dié van mielies en sojabone te vergelyk, het hy verduidelik hoe produsente hul bemestingsprogramme moet aanpas om in die spesifieke voedingsbehoeftes van elke gewas te voorsien.

Sorghumaanplantings op Rietfontein, Platrand.

Nasionale sorghumproewe
Gerhard Burger van Graan SA het ’n tegniese oorsig van die nasio­nale sorghumproewe vir die 2023/2024-seisoen gebied. Sy aanbie­ding het gefokus op die prestasie van verskeie kultivars wat oor verskillende lokaliteite aangeplant is, met spesifieke aandag aan opbrengsdata, stabiliteit en aanpasbaarheid. Hy het ook die belangrikheid van betroubare kultivarvergelyking beklemtoon en verduidelik hoe die data gebruik kan word om ingeligte keuses te maak vir toekomstige aanplantings. Die resultate het getoon dat daar verskeie belowende kultivars is wat goed presteer in Suid-Afrikaanse toestande, en die waarde van gestruktureerde proewe is duidelik onderstreep as ’n hulpmiddel vir produsente om risiko’s te bestuur en opbrengste te optimaliseer.

Strelza van Aardt, landbou-ekonoom-intern van Graan SA, deel inligting oor sorghum met die besoekers.

Verskeie saadmaatskappye het hul be­trokkenheid getoon deur ’n reeks sorghumkultivars as proewe te plant op die plaas van Ebert du Plessis by Platrand. Onder die maatskappye wat hul produkte ten toon gestel het, tel Sorgho, Corteva Agriscience, AGT Foods Africa, Limagrain, Advanta, United Seeds, Barenbrug en Agricol. Hierdie proewe het ’n waardevolle praktiese komponent aan die inligtingsdag toegevoeg, deur produsente die geleentheid te bied om die verskillende kultivars in hul groeistadiums te besigtig.

Tydens die besoek aan die proeflande het verteenwoordigers van elke saadmaatskappy besoekers kortliks toegelig oor die unieke eienskappe van hul kultivars. Aspekte soos groeitempo, droogtebestandheid, siekteweerstand en opbrengspotensiaal is bespreek, wat produsente gehelp het om die prestasie van elke kultivar in die plaaslike omstandighede te evalueer.

Die betrokkenheid van die saadmaatskappye by sulke proewe is van groot waarde vir die plaaslike landbougemeenskap. Dit stel produsente in staat om nuwe genetiese materiaal in aksie te sien en ingeligte besluite te neem oor toekomstige aanplantings. In ’n tyd waar klimaatsverandering en ekonomiese druk produsente noop om meer doeltreffend te boer, bied hierdie tipe demonstrasies ’n praktiese brug tussen navorsing en werklike toepassing op die land.

Sorghuminligtingsdae speel ’n sleutelrol in die oordrag van praktiese kennis en die bekendstelling van nuwe tegnologieë aan produsente.