Plaagbeheer: Ou staatmakers is op geleende tyd

Gepubliseer: 29 Augustus 2025

479
Jeanne van der Merwe, SA Graan/Grain-medewerker

Teen 2035 moet plaagdoders wat tans as beperkte landboumiddels (restricted agricultural remedies) geklassifiseer word, uitgefaseer wees, en om sonder dié betroubare, doeltreffende en koste-effektiewe plaagdoders klaar te kom, gaan gróót kopskuiwe verg.

Nuwe regulasies wat gebruikers van sekere ouergeslag- toksiese produkte verplig om as plaagbeheerbeamptes (PCO’s) te registreer (sien die artikel “Beperking op landboumiddels kan produsente laat kopkrap” in SA Graan/Grain van Augustus 2025), is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar vorm deel van ’n wêreldwye bewe­ging weg van middels wat onaanvaarbaar skadelik vir mens, dier en die omgewing is.

Kragtens die Verenigde Nasies se Globale Raamwerk oor Chemikalieë (Global Framework on Chemicals of GFC), waartoe Suid-Afrika hom verbind het, moet produkte waarvoor PCO-regi­strasie vereis word, teen 2035 uitgefaseer wees, buiten waar geen plaasvervangers daarvoor bestaan nie.

Onder dié beperkte middels is enkele staatmakerprodukte waarsonder baie graanprodusente, as prysnemers in onstuimige markte met dun winsmarges, moeilik winsgewend kan boer. Produsente kan met reg vra hoe daar van hulle verwag kan word om die land se voedselsekerheid te ondersteun wanneer die staat van hul belangrikste hulpmiddels wil wegvat.

Tog is daar twee kante van dié munt, en leiers in die gewasbe­skermingsbedryf meen die onttrekking van problematiese produkte is ’n goeie ding, en in sommige gevalle onvermydelik.

Marius Boshoff, president van die bedryfsorganisasie CropLife SA, sê hoewel dit vir produsente en selfs bedryfsorganisasies lyk of die regulasies skielik op die landbou afgedwing word, besin die bedryf en die Registrateur van Wet 36 van 1947 (die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels) al vir meer as tien jaar oor landboumiddels wat in ander lande verbode is, maar steeds in Suid-Afrika gebruik word.

Plaagdoders wat tans net deur geregistreerde plaagbeheerbeamptes (PCO’s) gebruik mag word, moet teen 2035 uitgefaseer wees, tensy daar teen daardie datum nog geen haalbare alternatiewe beskikbaar is nie.

“In hierdie gesprekke was dit duidelik dat daar ’n balans moet wees, want van daardie sogenaamde highly hazardous produkte is ook prakties en bekostigbaar, en die gebruik daarvan hou vir produsente definitiewe voordeel in, hetsy ekonomies of uit ’n oogpunt van effektiwiteit.”

Boshoff sê tragiese gebeurtenisse soos die vergiftiging van ses kinders verlede jaar, vermoedelik weens terbufos-besmette kos uit spaza-winkels, is goeie rede om sulke tipe produkte op ’n ordelike manier uit te faseer, “met volle betrokkenheid van produsente, gemeenskappe, die bedryf en die amptenary”.

“As ons bewus is van waar die probleem­areas lê, kan ons beter selekteer in watter ka­tegorieë ons nuwe produkte moet ontwikkel en ’n strategie ontwikkel om daardie produ­sente se produksie te beskerm. Dit is hier waar maatreëls soos die PCO-vereistes en naspeurbaarheid van die verkope van beperkte landboumiddels inkom – dit is ’n tussentydse reëling tot ons daardie alternatiewe ontdek, en sulke middels is ver in die minderheid.”

Dr Mieke Daneel, senior navorser in nematologie by die Landbounavorsingsraad (LNR), sê dit gaan ’n paar jaar duur om te sien watter nuwe landboumiddels kritieke staatmakers op die lys van beperkte landboumiddels kan vervang.

“Daar is byvoorbeeld aalwurmdoders op ander landboukommoditeite geregistreer, maar nie noodwendig op rygewasse nie, en vir elke gewasgroep moet jy registrasies doen.” Dit kan ses jaar of meer duur vir ’n gewasbeskermingsproduk om deur die voorgeskrewe regi­strasieproses te gaan, wat die nege jaar tot 2035 bitter kort laat lyk, maar dr Daneel meen ’n mens moet iewers begin. Sonder ’n definitiewe spertyd sal sommige produsente en verskaffers eenvoudig voortgaan om staat te maak op ouergenerasie-chemie, selfs al is daar veiliger en meer omgewingsvriendelike alternatiewe beskikbaar.

“Die redes hoekom die produkte onttrek word, is baie sinvol; dit gaan eintlik oor ons wat die produkte eet se gesondheid. Vir gewasse wat uitgevoer word, is daar baie strenger vereistes; as die produkte in Europa aankom en die residuvlakke is te hoog, stuur hulle dit wat nie voldoen nie eenvoudig terug of raak ontslae daarvan.”

Uitsonderlike produkte
Veral terbufos en parakwat is volgens produsente moeilik om te vervang. Beide is goedkoop en effektief, en daar bestaan tans nie ewe effektiewe plaasvervangers nie. Boshoff verduidelik dat para­kwat, saam met glifosaat en glufosinaat, waardevolle nieselektiewe onkruiddoders is om onkruide voor plant uit ’n landery te kry. Parakwat skroei die loof bogronds, maar vernietig nie die wortels in die grond nie, wat gronderosie teenwerk.

“Maar parakwat het ongelukkig op ’n stadium die middel van keuse geraak vir selfdood in sommige Oosterse lande. Dis hoekom die Registrateur reeds ’n geruime tyd terug die intensie uitgespreek het om dit te verban.”

Terbufos se waarde lê weer in sy veelsydigheid. “Vir mielies in die weste van die land het jy drie groot probleme wat terbufos kan aanpak – aalwurms, swart mieliekewers en ’n verskeidenheid van grondwurms. Om een aktiewe bestanddeel te kry wat al drie daardie probleme in een toediening teen ’n billike koste per hektaar hanteer, maak terbufos so ’n gesogte produk,” sê Boshoff. Om dit te vervang, sal minstens twee aktiewe bestanddele vereis, wat onmiddellik die ontwikkelingskoste verdubbel.

Konsolidasie in China
Boshoff sê breër verwikkelinge in die vervaardigingsbedryf beïn­vloed ook produkbeskikbaarheid. Soms kan verskaffers nie anders as om produkte te onttrek nie, omdat die bestanddele nie meer beskikbaar is nie. Twee sulke bestanddele is oksamiel en metomiel, insek- en aalwurmdoders wat sedert die patent daarop verval het grootliks in China en Indië vervaardig word. Noudat China die gebruik daarvan verbied, raak dit egter moeilik om in die hande te kry. Ook bronne vir dimetoaat, ’n staatmaker teen koringluise, is volgens Boshoff onder druk.

“Die konsolidasie van die chemiese vervaardigingsbedryf in China het ’n massiewe impak op die beskikbaarheid van aktiewe bestanddele. Die wêreldwye ooraanbod van gewasbeskermingsprodukte wat ná die Covid-19-pandemie ontstaan het, het in 2024 gelei tot die meeste bankrotskappe ooit in die Chinese gewasbeskermingsbedryf. Nou fokus sulke maatskappye op nuwe tegnologie eerder as om ou tegnologie in stand te hou. Op die ou end het jy nie meer ’n geldige bron vir die ouer produk nie, en dan het jy geen ander keuse as om dit uit te faseer nie.”

Net omdat nuwe alternatiewe produkte op die oomblik onekonomies is vir graanprodusente om te gebruik, beteken ook nie dat dit vir altyd so sal wees nie.

“Wanneer die patent op ’n produk verstryk, is dit tipies duurder, maar binne ’n baie kort tyd begin ses of sewe mededingers dalk die generiese produk vervaardig, en dan kom daar sterk afwaartse prysdruk,” sê Boshoff.

“Daar is sekere chemie waarvan die vervaardiging weens die kompleksiteit daaraan verbonde altyd duurder sal wees, maar in reële terme raak landbouchemie elke jaar goedkoper, want daar is wêreldwyd generiese druk en mededinging wat dit dryf. Soms vat dit twee of drie jaar vir die pryse om te begin daal en soms vat dit tien jaar.”

Almal kan aanpas
Rupert Anelich, konsultant in die gewasbeskermingsbedryf, sê ’n
oplossing wat terbufos vervang gaan miskien twee keer of meer toedienings per seisoen verg. “Die vervangingsproses gaan dalk teweegbring dat produsente hul praktyke moet verander om spesifieke peste te beheer. Produsente is soepel en pas aan by veranderinge, en ek is oortuig met goeie leiding soos beskikbaar vanaf die verskaffers sal oplos­sings ontgin word.” Nuwe benaderings tot gewasbeskerming toon ook groot belofte, soos om afhanklikheid van tradisionele chemie te verminder deur plante te versterk met biostimulante.

“(Insekplae en plantsiektes) gaan gewoonlik gepaard met ’n strestoestand. Dit hoef nie ’n groot stressor te wees nie, maar dit gee daardie gogga of siekte ’n vastrapplek. Die meeste biostimulante kos nie ’n fortuin nie, en veral as jy kyk na siektes in die mark waar terbufos gebruik word, is daar ’n kans dat skade weens die pes verminder kan word as jy die plante vinniger aan die groei kan kry en hulle wortelstelsels baie beter laat ontwikkel. Jy gaan weliswaar nie binne twee of drie jaar die hele bedryf oortuig om praktyke te verander nie, maar die feit bly staan: Daar ís oplossings en ander maniere van doen wat kan werk.”

Begin nóú al voorberei
Anelich waarsku dat die onttrekking van staatmakerprodukte kan lei tot ’n toename in ongeregistreerde gebruik van alternatiewe produkte omdat dit plaaslik so lank vat om nuwe produkte te registreer.

“Produsente moet waak teen kleiner spelers in die mark wat hier­die as ’n geleentheid mag sien om onbeproefde oplossings aan hulle te bied. Hulle is geneig om te verdwyn as daar later probleme opduik. Die groter verspreiders en verskaffers is in staat om advies en oplos­sings binne die wet aan te bied. Maak staat op hulle en vermy onnodige risiko’s.”

Dr Daneel sê dit is moontlik vir produsente om die grasietydperk tot en met 2035 te gebruik om hul boerderye voor te berei vir die verlies aan sulke produkte.

“Dit is so dat winsgewendheid geraak gaan word, maar op die ou end gaan jy nie eintlik ’n keuse hê nie. Op ’n dag gaan daardie produk nie meer gemaak word nie, en het jy jou opsie om te begin aanpas verspeel.”

Sy sê die beginsels van geïntegreerde plaagbeheer (IPM) en bewaringslandbou bied ’n verskeidenheid benaderings waardeur produsente hul grondgesondheid kan verbeter tot op die punt wat hul afhanklikheid van ouergenerasie- landbouchemiese produkte drasties afneem.

“As jou grondgesondheid goed is, is jou plantgesondheid goed en is peste minder van ’n probleem.”

Anelich wys daarop dat die meeste van die gevestigde verskaffers (groothandelaars) van gewasbeskermingsprodukte ook ’n sterk klem op IPM begin plaas. Hy raai produsente aan om buiten hul eie agente ook dié verskaffers se landboukundiges te raadpleeg oor moontlike oplossings vir hul unieke omstandighede.