Beste Grootneef
In een van die oudste verhale wat opgeteken is, lees ek van die man wat op reis gegaan het. Voor sy vertrek het hy sy werknemers byeengeroep en aan hulle van sy besittings toevertrou. Die eerste werker het vyf talente ontvang, die volgende een twee en die laaste een in die ry het een talent ontvang. Die eienaar het daarna dadelik op sy reis vertrek. Niemand het geweet wanneer hy gaan terugkeer nie.
Ons lees verder dat die een werknemer wat vyf talente ontvang het daarmee gewoeker het en nog vyf talente ingewin het. Die tweede het ook sy bes gedoen en met die twee talente wat ontvang is, ’n verdere twee verdien. Die laaste werker het egter min aptyt vir enige risiko gehad en het bloot die enkele talent wat aan hom toevertrou is in die grond gaan begrawe.
Na ’n lang tyd het die eienaar van sy reis teruggekeer om rekenskap van elk aan wie talente toevertrou is, te eis. Elkeen is ’n kans gebied om verslag te lewer oor wat met die talente gedoen is. Die eerste twee werkers kon spogverslae indien – hulle kon daarin slaag om die talente aan hul toevertrou te verdubbel. Hulle het ’n uitsonderlike aanprysing vir hul rentmeesterskap ontvang: “Mooi so, oor weinig was jy getrou, in veel sal jy aangestel word. Gaan in vreugde!”

So ook het die laaste werker sy beurt ontvang om rekenskap te gee oor hoe hy die talent wat aan hom toevertrou is, hanteer het. In sy verslag het hy verklaar dat omdat hy bang was, hy die talent in die grond begrawe het en vir die tyd gegun, niks daarmee gedoen het nie.
Die eienaar was woedend omdat die man absoluut niks gedoen het met wat aan hom toevertrou is nie. Die verwyt was dat as die talent ten minste aan geldskieters gegee is, rente daarop verdien kon word. Die eienaar se opdrag was ferm en beslissend – dat die enkele talent van die persoon weggeneem moes word, en dit aan die ander een wat reeds tien talente ontvang het, gegee word. En dan die skrikwekkende opdrag om die werker wat sy talent in die grond weggesteek het, in die buitenste duisternis te werp.
Met die aanhoor van die aangrypende verhaal het ek aanvanklik as kind gedink dat talente verwys daarna om goed te sing of te dans. Vir nie een van hierdie twee het ek eintlik ’n talent ontvang nie – met die namaak van Elvis die Pelvis of Michael Jackson se moonwalk blaf die honde vir my.
Eers later het die verhaal se volle betekenis na vore gekom met die luister van ’n radioprediker se boodskap terwyl ek op ’n ver reis was.
In die Romeinse tyd was ’n talent ’n eenheid waarmee geweeg is – om ’n transaksie te beklink, is goud of silwer in talente afgeweeg. Die gewig van ’n talent sou in dese dae ongeveer 35 kg wees. Dus, ’n stewige eenheid afgemeet in talente, wat vanaf Bybelse tye tot nou in enige taal rykdom uitgespel het. Vyf en dertig kilogram goud is nie te versmaai nie. Om te dink dat die eienaar waarvan ons lees, vyf talente aan een persoon toevertrou het om daarmee te woeker. Dit beteken in vandag se taal dat 175 kg se goud toegedeel is, wat die werker na ’n tyd omgeskakel het na 350 kg goud. In vandag se waarde ’n syfer met soveel nulle dat dit skaars op hierdie bladsy sal pas.
Die uitsonderlike verhaal kan saamgelees word met twee ander – dat sout moet sout wees en dat ’n lamp nie onder ’n maatemmer geplaas moet word nie.
Talente kan egter nie net in terme van geld of goud vasgevang word nie. Aan elkeen is talente toevertrou, met iets uniek waarmee ieder en elk tydens sy lewensreis kan woeker. Sommige mense met meer, sommige met minder. Die vraag is wat gedoen word met die talente wat aan jou toevertrou is.
’n Tweede verhaal om te deel, is die van Michelangelo, wat in 1501 begin het om met hamer en beitel lewe uit ’n enkele blok marmer te kap. Die beeld wat geskep is, was so aangrypend dat mense 500 jaar later steeds toustaan om dit te aanskou, met ongeveer 1 000 besoekers per dag. Michelangelo se Dawid-beeld staan meer as 5 m hoog en weeg ongeveer 6 ton. Dawid, kalm en gefokus voor sy geveg met Goliat.
Die ironie is dat die spesifieke blok marmer deur ander beeldhouers van die tyd verwerp is as nie goed genoeg nie. En dit is dalk die grootste talent – nie silwer of goud nie, maar die talent om ander se waarde te ontsluit, soos Michelangelo met ’n koue blok marmer kon doen.
Deur ’n stille luisteraar te wees, mense met raad en daad by te staan en soms ’n skouer te gee waarop geleun kan word. Om wanneer nodig ook ’n dienaar te wees, sonder voorbehoud. Dít is die talent waaraan mense onthou word – dat wanneer dit saak gemaak het, ongeag die mening van ander dat iemand nie goed genoeg is nie, tog aan te hou totdat daardie persoon sý talente kan uitleef. Wanneer jy daarin slaag, sal jy beloon word met die wete dat jy in vreugde kan uitgaan.
Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.














