Wilmar Internasionaal, met sy hoofkantoor in Singapoer, se voetspoor is reeds sedert 2000 in Afrika en die maatskappy het vandag aanlegte in 16 Afrika-lande. Hul nuwe persaanleg in Randfontein verseker dat hulle ook in Suid-Afrika deel vorm van die landbouwaardeketting.
Die maatskappy is in 1991 gestig en is vandag Asië se voorste landboubesigheid. As deel van die Fortune 500 is Wilmar een van die grootste maatskappye wat op die Singapoer-beurs gelys is. Met meer as 500 fabrieke in 33 lande op vyf kontinente is sowat 93 000 werknemers deel van hul visie om ’n leidende rol in landboubesigheid wêreldwyd te speel.
Wilmar se sakebedrywighede sluit die verbouing van palmolie, persing van oliesade, raffinering van eetbare olie, die maal en suiwering van suiker, die vervaardiging van verbruikersprodukte, spesiale vette, oleochemikalieë, biodiesel en kunsmis asook die verwerking van meel en rys, in.
Internasionale impak
As ’n toonaangewende rolspeler in die pers van oliesade het Wilmar ’n uitgebreide teenwoordigheid in verskillende wêrelddele, soos China, Indië, Viëtnam, Maleisië, Rusland, Tanzanië, Oekraïne, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe. ’n Wye verskeidenheid oliesade, waaronder sojabone, raapsaad, grondbone, sonneblomsaad, sesamsaad en katoensaad word gepers en verwerk vir proteïenmeel en eetbare olies. Die proteïenmeel word hoofsaaklik aan die veevoerbedryf verkoop, terwyl die olies grootliks aan hul eie verbruikersonderneming verkoop word.
Die kern van Wilmar se strategie is ’n geïntegreerde landboubesigheidsmodel wat die hele landbouwaardeketting omvat – van verbouing, verwerking en handel tot die vervaardiging van ’n wye verskeidenheid landbouprodukte. Wilmar besit een van die wêreld se grootste oliesaadpersaanlegte, die grootste raffinadery vir eetbare olie, die grootste suikerraffinadery en hulle is die grootste produsent van verbruikersverpakte olie ter wêreld.
Wilmar in Suid-Afrika
Wilmar Suid-Afrika (SA) is sedert 2016 deel van Wilmar Internasionaal en met hul belegging in die Randfontein-persaanleg wil Wilmar sy betrokkenheid by die primêre landboubedryf in Suid-Afrika bevorder deur oliesaadprodusente te ondersteun. Met ’n gevestigde infrastruktuur en bygestaan deur derdepartyverskaffers en logistieke vennote, is Wilmar in staat om oliesade doeltreffend en eties aan te koop. Hulle streef daarna om nou en in die toekoms ’n konstante, betroubare afset vir oliesade te bied tot voordeel van alle primêre oliesadeprodusente.
By die Randfontein-aanleg vind die volgende plaas:
- Pers van oliesade (sojabone en sonneblom)
- Raffinering van eetbare olie (soja-, sonneblom- en palmolie)
- Fraksionering van palmolie
- Bottelering
- Verpakking van industriële vette en bakmargarien
- Invoer en verpakking van rys
Produkte wat gelewer word
- Soja- en sonneblomoliekoek
- Sojaboon- en sonneblomdoppies
- Geraffineerde, gebottelde sonneblomolie (Excella)
- Geraffineerde, gebottelde sojaboonolie (Pan)
- Palmolie, grootmaat en gebottel (Pan Palm)
- Margarien (Wilbake)
- Rys (Excella)
- Mayonnaise (Excella)
Kapasiteit
Die nuut opgeknapte en vergrote aanleg is in 2019 in gebruik geneem en kan 360 000 ton oliesade per jaar (1 000 ton per dag) verwerk. Wilmar se geïntegreerde verskaffingsmodel bied doeltreffende logistieke oplossings en bedryfsbestuur.
Kontak Wilmar Suid-Afrika se Randfontein-kantoor by 011 278 0300 of besoek www.wilmar-international.com.