Benut die gaping: Wanneer volhoubaarheid en winsgewendheid bots

Alzena Gomes, kommunikasie- en skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 16 April 2026

71

Toe die Graan SA Kongres op 11 en 12 Maart 2026 op NAMPO Park plaasvind, was dit duidelik dat vanjaar se byeenkoms oor veel meer as ’n gewone bedryfsvergadering gaan. Met 615 afgevaardigdes in die saal – onder wie 325 graanprodusente en 290 verteenwoordigers van die breër landbouwaardeketting – het die gesprek vinnig gefokus op die spanning wat tans deur die hele graanbedryf loop: die groeiende kloof tussen wat dit kos om te produseer en wat produsente uiteindelik uit die mark terugkry.

Met die tema “Benut die gaping: volhoubaarheid die kern; winsgewendheid die belangrikste” het Kongres 2026 ’n eerlike en soms ongemaklike, maar noodsaaklike gesprek oopgebreek oor die werklike druk waaronder produsente boer – en oor wat dit vir die toekoms van plaaslike voedselproduksie beteken.

Wat oor die twee dae sterk na vore gekom het, was dat winsgewendheid nie ’n bysaak is nie maar die basis waarop volhoubaarheid rus. Insetkoste bly hoog, graanpryse is onder druk, beleidsonsekerheid maak vooruitbeplanning moeiliker en internasionale onstuimigheid spoel toenemend oor tot op plaasvlak. Tog het swaarmoedigheid nie die oorhand gekry nie. Inteendeel, dit het die produsent onmiskenbaar in die middelpunt geplaas as die een wat, ten spyte van toenemende druk, steeds aanpas, innoveer en aanhou produseer. Die boodskap was duidelik: Suid-Afrika se voedselsekerheid begin nie op winkelrakke of in beleidstukke nie, maar op winsgewende, werkende plase. Wanneer die ekonomiese werklikheid op plaasvlak wankel, raak die hele voedselstelsel kwesbaar.

Willem de Chavonnes Vrugt (AgriSA-president) en Danie Minnaar (Graan SA-visevoorsitter) in ligte luim voor die afskop van Kongres 2026.

Kongres 2026 was meer as net ’n byeenkoms van die bedryf; dit was ’n ruimte waar die werklikhede van plaasvlak, beleid en markte bymekaargekom het. Hier het produsente, kundiges en besluitnemers nie bloot probleme uitgewys nie, maar ook kennis gedeel,
perspektief gebring en saam gedink oor hoe die gaping tussen volhoubaarheid en winsgewendheid kleiner gemaak kan word.

Die gees was deurgaans ernstig, eerlik en doelgerig, maar terselfdertyd ook konstruktief en toekomsgerig. Hoewel die uitdagings waarmee produsente te kampe het duidelik op die tafel was, het die gesprekke nie by kommer bly vassteek nie. Die program is só saamgestel dat strategiese leiding, beleidsinsette, internasionale perspektiewe en praktiese produsentervaringe mekaar kon aanvul. Van die hoofsprekers en paneelgesprekke op die eerste dag tot by die kommoditeit-spesifieke wegbreeksessies op die tweede dag, is ’n ritme gevolg waarin groter bedryfskwessies én plaasvlakrealiteite doelbewus met mekaar verbind is. Dit het aan afgevaardigdes nie net ’n breër begrip van die uitdagings gebied nie, maar ook die geleentheid om die gesprek af te trek na die praktyk van elke dag se boerdery.

’n Jaar onder druk, maar nie sonder rigting nie
Richard Krige, voorsitter van Graan SA, se verslag vroeg op die eerste dag was ’n terugblik op ’n jaar waarin die graanbedryf op verskeie fronte gelyktydig onder druk gekom het. Eerder as om bloot op administratiewe sake te fokus, het die verslag die afgelope jaar in breër bedryfsverband geplaas: ’n tydperk gekenmerk deur lae kommoditeitspryse, stygende insetkoste, klimaatswisselvalligheid en onsekerheid wat al hoe sterker vanaf internasionale markte tot op plaasvlak deurwerk. Die sentrale boodskap was duidelik: Produsente hou aan produseer, maar die omgewing waarin hulle dit moet doen, raak toenemend meer kompleks en finansieel meer veeleisend.

Richard Krige lig die belangrikste gebeure van die afgelope jaar uit tydens die lewering van sy Voorsittersverslag.

Die rol van Graan SA in fokus
Krige het sterk klem gelê op Graan SA se plek binne dié werklikheid. Die organisasie is voorgestel as ’n liggaam wat nie los van produsente funksioneer nie, maar juis uit hulle betrokkenheid, insette en mandaat sy relevansie put. Lede, Raadslede, produsente en personeel is beskryf as die dryfkrag agter die organisasie en die bedryf, stewig gegrond in die praktyk van georganiseerde landbou. Hy het ook beklemtoon dat Graan SA se rol in die groter landbou- en samelewingskonteks nie onderskat moet word nie, juis omdat die organisasie op ’n punt staan waar voorspraak, ondersteuning en stra­tegiese leiding al hoe belangriker word.

Teen hierdie agtergrond het hy terugverwys na die groei van die organisasie se ledebasis. Die uitbreiding van kommersiële en opkomende lidmaatskap is as ’n strategiese prioriteit beklemtoon, nie net ter wille van getalle nie maar omdat ’n meer verteenwoordigende en verenigde organisasie sterker kan optree namens produsente. Krige het ook laat blyk dat toekomstige relevansie nie vanselfsprekend is nie: Dit moet doel­bewus gebou word deur programme, platforms en vennootskappe wat op die behoeftes van produsente ingestel bly. In dié verband is verwys na beleggings in plantbeskerming, produksiepraktyke, genetika, marktoegang, digitale vermoëns en datagedrewe insigte as deel van Graan SA se voortgesette rol as bedryfsleier.

Jeremia Mathebula (Graan SA-visevoorsitter) het die verwelkoming behartig.

Volharding in moeilike omstandighede
’n Belangrike draad deur die verslag was die erkenning van produsente se volharding oor die afgelope jaar. Krige het die graanbedryf beskryf as een wat, ten spyte van aansienlike druk, produksiemomentum behou en steeds sy verantwoordelikheid teenoor voedselse­kerheid vir Suid-Afrika nakom. Dit was nie ’n geromantiseerde blik op die bedryf nie, maar eerder ’n nugtere erkenning van hoe moeilik dit vir produsen­te geword het om onder toenemende koste- en markdruk winsgewend te bly. Tog is beklemtoon dat produsente hulle strategieë en praktyke aanpas om die omstandighede te bestuur en om aan te hou produseer te midde van gehalte-uitdagings, prysdruk en uiterste weerstoestande.

Daarmee saam is die breër ekonomiese werklikheid duidelik uitgespel. Die druk op winsgewendheid is nie tot een kommoditeit of streek beperk nie. Veral die kombinasie van swak pryssiklusse en hoë insetkoste het produsente se posisie verder verswak, terwyl globale onsekerheid en plaaslike markversteurings die situasie bemoeilik. Die koringbedryf is as ’n voorbeeld uitgelig van ’n industrie wat reeds vir ’n ge­ruime tyd onder ernstige druk verkeer, maar die boodskap was dat dieselfde spanning nou ook toenemend in ander produksiegebiede ervaar word.

Konstruktiewe terugvoering is verkry met behulp van elektroniese stemaksies wat ingespan is om kongresgangers se insette en opinies te toets.

Van gesprek na uitkoms
Krige het beklemtoon dat goeie gesprekke met die regering en ander vennote uiteindelik in tasbare uitkomste vir produsente omskep moet word. Hoewel daar erkenning was vir verbeterde verhoudings en groter openheid binne sekere beleidskringe, het hy dit duidelik gemaak dat produsente nie net goeie bedoelings nodig het nie, maar werkbare oplossings. In hierdie verband is daar verwys na die behoefte aan groter markdeursigtigheid, doeltreffender tariefmeganismes, beter toegang tot nuwe tegnologie en sterker skakeling deur die hele waardeketting. Die hersiening van Wet Nr. 36 van 1947 en voortgesette druk op die stelsel om meer responsief teenoor produsente se behoeftes te wees, is ook as belangrike prioriteite uitgelig.

Koring het weer prominent na vore gekom. Alhoewel daar vordering gemaak is om meer deursigtigheid in die mark te verkry, is die kernvraagstukke rakende die tariefstelsel steeds nie na wense opgelos nie. Dit het die groter punt onderstreep dat beleidstraagheid, in ’n bedryf waar produsente daagliks vinnige en hoërisiko­besluite moet neem, self ’n koste word. Die behoefte aan groter spoed, duidelikheid en uitvoerbaarheid in beleidsprosesse is dus beklemtoon.

Jaco Breytenbach (uittredende voorsitter van die Produksie/Insetwerkgroep asook die Sasol Landboutrust) het terugvoering gegee oor die impak wat die trust binne die graanbedryf gehad het.

Eenheid as voorwaarde vir volhoubaarheid
Krige het veral klem gelê op die belang van eenheid in landbou, en benadruk dat verdeelde stemme en uiteenlopende boodskappe die impak van georganiseerde landbou verswak. Graan SA se benade­ring is om samewerking met ander organi­sasies, kommoditeitsgroepe en vennote in die waardeketting te verdiep sodat die bedryf met groter eensgesindheid oor kernbelange kan praat. Spesifiek eiendomsreg en toegang tot produksiekrediet is as nie-onderhandelbare grondbeginsels beskryf – nie net vir produsente nie, maar vir die stabiliteit van die breër ekonomie.

Doeltreffendheid bo intensiteit
Kevin Kalb, ’n vyfdegeslagprodusent van Dubois, Indiana in die VSA, het in sy hoofrede die kongrestema op ’n praktiese en uitdagende manier benader.

Sy kernboodskap was duidelik: Die gaping tussen volhoubaarheid en winsgewendheid kan nie oorbrug word deur bloot méér insette toe te dien nie. Dit vereis beter bestuur, groter doeltreffendheid en ’n herbesinning van gevestigde praktyke.

Hy het daarop gewys dat produsente wêreldwyd onder soortgelyke druk verkeer, met stygende insetkoste en swak kommo­diteitspryse wat marges knel. In hierdie konteks het hy produsente aangemoedig om krities te kyk na hoe hulle hulpbronne gebruik. Volgens Kalb is die tradisionele benadering om opbrengste te “koop” deur hoër bemestingsvlakke nie net duur nie, maar dikwels ondoeltreffend.

’n Groot deel van sy fokus het op grondgesondheid en biologie geval. Hy het verduidelik dat hoër opbrengste nie noodwendig deur meer stikstof, fosfaat of kalium bereik word nie, maar deur ’n funksionerende grondstelsel waar mikroörganismes en wortelontwikkeling optimaal benut word. Deur praktyke soos presisietoediening, bandplasing van kunsmis en die gebruik van biologiese stimulante, het sy eie boerdery oor tyd daarin geslaag om insetvlakke te verminder terwyl opbrengste steeds verbeter het.

Kalb het ook sterk klem gelê op meetbaarheid en bestuur. Produsente moet hul eie “gaping” verstaan – die verhouding tussen koste en opbrengs – en dit doelbewus bestuur deur data, proewe en aanpassings op plaasvlak. Hy het produsente aangemoedig om kleiner veranderinge te toets en oor tyd te verfyn, eerder as om drastiese hoërisikobesluite te neem.

Sy boodskap het uiteindelik teruggekeer na die kern van die kongrestema: Volhoubaarheid is nie ’n teoretiese konsep nie, maar die resultaat van winsgewende, goed bestuurde boerderye. Volgens hom lê die grootste geleentheid nie daarin om meer te doen nie, maar om dit wat reeds gedoen word, slimmer en meer doeltreffend te doen – plaas vir plaas.

Beleid, koste en voorspelbaarheid in fokus
Die Minister van Landbou, John Steenhuisen, se toespraak het die werklikheid waarmee graanprodusente daagliks werk, duidelik er­ken: ’n bedryf wat die land se voedselsekerheid dra, maar toene­mend onder druk verkeer. Hy het die belang van graanproduksie binne die breër ekonomie beklemtoon en dit duidelik gestel dat voedselproduksie nie van plaaswinsgewendheid geskei kan word nie.

’n Kernfokus van sy toespraak was die groeiende gaping tussen produksiekoste en produsente se opbrengste. Volgens die minister is hierdie gaping nie die gevolg van een enkele faktor nie, maar van ’n sameloop van uitdagings: stygende insetkoste, klimaatsveranderlikheid, infrastruktuurprobleme en wêreldmarkonsekerheid. Veral die impak van hoë insetkoste is uitgelig, met kunsmis en brandstof wat ’n beduidende deel van produsente se kostestruktuur uitmaak en direk deur globale prysskommelings en wisselkoersbewegings beïnvloed word.

Hy het ook erken dat baie produsente tans ’n “duur oes in ’n goedkoop mark” realiseer. Dis ’n situasie waar hoë insetkoste nie deur markpryse verhaal word nie, wat marges ernstig onder druk plaas. Hierdie dinamika is veral relevant in ’n goeie produksiejaar waar plaaslike pryse na uitvoerpariteit beweeg en produsente min beheer het oor inkomstevlakke.

Johanna Tlotleng van Streek 28 het haar bekommernis uitgespreek oor die styging van die minimum loon en hoe dit ontwikkelende produsente raak.

Wat produsente van die regering verwag
’n Tema wat in die minister se toespraak sowel as die daaropvolgende vraag-en-antwoord-sessie duidelik na vore gekom het, is die volgende: Produsente vra nie vir beskerming teen markte nie, maar vir ’n werkbare en voorspelbare beleidsomgewing. Die minister het dit bevestig deur te sê dat die rol van die regering nie is om produksie te bestuur nie, maar om struikelblokke te verwyder en sekerheid te skep.

Praktiese kwessies wat vir produsente deurslaggewend is, het ook sterk na vore gekom. Dit sluit in die funksionering van die ko­ringtariefstelsel, waar administratiewe vertragings direkte finansiële risiko’s skep, asook infrastruktuuruitdagings – veral swak paaie en die afname in spoorvervoer – wat logistieke koste verhoog en marges verder knel. Die minister het aangedui dat daar reeds samewerking tussen die regering en die bedryf is om kritieke landboulogistieke roetes te identifiseer en te verbeter.

Daar is ook verwys na die behoefte aan beter markdeursigtigheid en ’n strukturele ondersoek binne die koringwaardeketting, asook die potensiaal om die plaaslike vraag na graan te versterk deur onder meer biobrandstofontwikkeling en verdere agroverwerking.

Kongres 2026 is deur 615 afgevaardigdes bygewoon, waaronder 325 graanprodusente en 290 sleutelbelanghebbendes binne die landbousektor.

’n Duidelike boodskap
Die gesprekke het uiteindelik op een punt neergekom: Produsente kan risiko bestuur, maar nie onvoorspelbaarheid nie. Vir die graanbedryf lê die sleutel nie net in beter seisoene of hoër pryse nie, maar in ’n stelsel waar beleid konsekwent toegepas word, infrastruktuur funksioneer en besluite betyds geneem word. In so ’n omgewing, het die minister beklemtoon, sal produsente voortgaan om te doen wat hulle reeds bewys het hulle kan: aanpas, innoveer en volhoubaar produseer.

Van opbrengs na wins: paneelbespreking takel die skuif in denke
Die paneelbespreking, gefasiliteer deur dr Dirk Strydom, besturende direkteur: Nampo (Pty) Ltd, het die kongrestema verder prakties ontleed en gefokus op een sentrale vraag: Hoe oorbrug produsen­te die gaping tussen koste en opbrengs in ’n tyd van toenemende druk? Wat duidelik na vore gekom het, is dat die gesprek in landbou besig is om te skuif; weg van maksimum opbrengs teen alle koste na optimale winsgewendheid per hektaar.

Produsent Jaco Minnaar het vanuit sy DIFM-projekervaring be­klemtoon dat data en plaasvlakanalise deurslaggewend is om hierdie skuif te maak. Hy het gewys dat optimale besluite nie oral dieselfde oor ’n plaas of selfs ’n land geneem kan word nie. Verskillende sones binne dieselfde land reageer verskillend op bemesting en plantestand, en dieselfde opbrengs kan met verskillende insetvlakke bereik word.

Die kernles was dat produsente hul praktyke moet verfyn tot op mikrovlak om so die punt te vind waar elke rand die beste opbrengs lewer.

Begin by die basiese beginsels
Kalb het hierdie benadering ondersteun deur te beklemtoon dat produsente nie die huidige siklus van hoë koste en lae pryse kan “uitveg” met meer insette nie. Sy raad was eenvoudig: Fokus op dit wat beheerbaar is. Dit sluit in grond-pH, doeltreffende gebruik van kunsmis en die bestuur van plantgesondheid. Hy het produsente aangemoedig om kleiner, beheerde proewe op hul eie plase te doen eerder as drastiese wydverspreide veranderinge.

’n Belangrike boodskap wat deur die gesprek geloop het, was dat oorbemesting nie net ondoeltreffend is nie, maar dikwels opbrengs en wins benadeel. Die paneel het beklemtoon dat produsente moontlik meer insette gebruik as wat werklik nodig is om optimale resultate te behaal.

’n Stelselbenadering tot boerdery
Prof Pieter Swanepoel van die Universiteit van Stellenbosch het die gesprek verbreed deur te fokus op die hele produksie­-sis­teem. Hy het verduidelik dat volhoubare en wins­gewende boerdery nie deur een enkele praktyk bereik kan word nie, maar deur ’n geïntegreerde benadering wat grondgesondheid, gewasdiversifikasie en bestuurspraktyke insluit. Beginsels van bewaringslandbou en regeneratiewe praktyke is uitgelig, maar met die belangrike voorbehoud dat geen stelsel as ’n “een-grootte-pas-almal”-oplossing beskou moet word nie.

Volgens hom moet produsente hul omgewings verstaan en praktyke aanpas by hul spesifieke toestande. Grondgesondheid – veral die opbou van organiese materiaal en biologiese aktiwiteit – is as ’n langtermynbelegging beklemtoon wat direk bydra tot stabiliteit en doeltreffendheid.

Regulering en die groter speelveld
Dr Tobias Doyer, HUB van Graan SA, het die fokus verskuif na die breër omge­wing waarin produsente funksioneer. Hy het aangedui dat regule­ring ’n kritieke rol speel in die bedryf, maar dat dit dikwels stadig beweeg en nie altyd tred hou met die tempo van verandering in landbou nie. Kwessies soos toegang tot nuwe tegnologie, finansiële regulasies en die behoefte aan beter beleidsbelyning is uitgelig as faktore wat produsente se vermoë om aan te pas, direk beïnvloed.

Hy het ook beklemtoon dat produsente nie net hul eie plase moet bestuur nie, maar ook binne ’n komplekse stelsel van markte, finansiering en beleid moet funksioneer. Georganiseerde landbou speel ’n sleutelrol om hierdie omgewing te verbeter.

Nico Vermaak (Graan SA se maatskappysekretaris) kondig die uitslag van die verkiesing van Raadslede aan.

Bestuur deur die siklus
Die paneel het afgesluit met praktiese raad oor hoe produsente die huidige siklus kan navigeer. Die boodskap was duidelik: Hierdie is nie die eerste moeilike siklus nie, en dit sal nie die laaste wees nie. Produsente moet terugkeer na die basiese beginsels, by ander produsente leer, hul eie data gebruik en versigtig eksperimenteer met nuwe praktyke. Die fokus moet bly op wat beheer kan word, naamlik koste, bestuur en besluitneming op plaasvlak. In ’n onvoorspelbare omgewing is dit juis hierdie faktore wat die verskil maak tussen oorlewing en volhoubare winsgewendheid.

Uiteindelik het die paneelbespre­king dieselfde boodskap versterk wat deur Kongres 2026 geloop het: Produsente kan nie wag vir eksterne faktore om te verander voordat hulle aanpas nie. Alhoewel pryse, beleid en globale markte buite hul beheer bly, lê daar steeds beduidende ruimte binne die plaashek om besluite te verfyn, koste te bestuur en doeltreffendheid te verbeter. Die pad vorentoe gaan nie oor groter insette of vinnige oplossings nie, maar oor ingeligte, doelgerigte bestuur en die moed om gevestigde praktyke te herevalueer. In ’n omgewing waar druk toeneem, bly dit juis hierdie vermoë om aan te pas en slimmer te boer wat die verskil sal maak tussen bloot oorleef en werklik volhoubaar voortbou.

Globale risiko’s druk insetkoste op
Kokkie Kooyman, direkteur en portefeul­jebestuurder by Denker Capital, het ’n breër ekonomiese perspektief gebring en die impak van globale geopolitieke spanning op die landbou uitgelig. Hy het verduidelik dat konflik in die Midde-Ooste waarskynlik tot volgehoue wisselvalligheid in oliepryse sal lei, met direkte gevolge vir brandstof- en vervoerkoste. Vir graanprodusente beteken dit verhoogde insetkoste en verdere druk op reeds knap marges.

Volgens Kooyman is die grootste risiko nie net hoër pryse nie, maar die onvoorspelbaarheid van markbewegings, wat beplanning en besluitneming bemoeilik. Hy het gewaarsku dat die impak van stygende energie- en logistieke koste deur die hele waardeketting sal spoel en uiteindelik voedselinflasie kan aanwakker.

Sy raad aan produsente was om proaktief op te tree: Bou finansiële veerkragtigheid, bestuur kontantvloei versigtig en begin vroegtydig met beplanning vir moontlike kostestygings. In ’n omgewing waar baie faktore buite produsente se beheer lê, bly voorbereiding en risikobestuur volgens hom die belangrikste instrumente om ’n onsekere tyd te navigeer.

’n Strategie gefokus op groei, mededingendheid en die toekoms
As uitvoerende hoof het dr Doyer in sy uiteensetting van Graan SA se missie, visie en strategiese voorneme ’n duidelike rigting vir die organisasie en die bedryf gestel: om produsente se winsgewendheid en volhoubaarheid te versterk deur tegnologie, markontwikkeling en sterker voorspraak. Hy het beklemtoon dat die bedryf toenemend in ’n globale mededingende omgewing funksioneer, waar toegang tot die beste wetenskap, genetika, insette en data noodsaaklik is om produktiwiteit te verhoog en koste te bestuur.

’n Kernboodskap was dat groei nie meer net by produksie lê nie, maar ook by marktoegang. Die fokus verskuif toe­nemend na die ontsluiting van nuwe markte, beter logistiek en die beweging van graan deur die waardeketting – of dit nou deur uitvoere of verdere verwerking is. Terselfdertyd bly beleids- en regulatoriese kwessies, soos toegang tot tegnologie en die beskerming van produsente se be­lange, ’n kritieke deel van Graan SA se werk.

Hy het ook sterk klem gelê op die bou van ’n inklusiewe en toekomsgerigte landbousektor – een wat jong produsente, opkomende boere en die breër landelike ekonomie insluit. Die langtermynfokus is duidelik: om vandag reeds te belê in die stelsels, mense en praktyke wat môre se volhoubare en winsgewende graanbedryf sal verseker.

Van deelname na gerigte aksie
Kongresgangers se aktiewe deelname het ’n sentrale rol gespeel in die verloop van Kongres 2026, met gestruktureerde geleenthede vir insette, gesprek en terugvoer deurgaans in die program ingebou. Die gebruik van interaktiewe sessies en oop besprekings het waardevolle insigte vanaf produsente na vore gebring en verseker dat die werklikhede op plaasvlak direk deel gevorm het van die breër bedryfsgesprek.

’n Sleutelkomponent van hierdie betrokkenheid was die kommoditeit-spesifieke wegbreeksessies op die tweede dag. Afgevaardigdes het in werkgroepe verdeel om gefokus te besin oor uitdagings en geleenthede binne hul onderskeie bedrywe, insluitend mielies, wintergraan (koring, gars en kanola), sonneblom en sorghum, sojabone en grondbone. Hierdie sessies het ruimte geskep vir meer tegniese gesprekke, die uitruil van praktiese ervaring en die formulering van konkrete voorstelle wat later in die gesamentlike sessie teruggekoppel is.

Die waarde van hierdie werkgroepe het juis daarin gelê dat dit die groter kongresboodskappe teruggebring het na die realiteite van spesifieke produksie-omgewings. Produsente het nie net hul uitda­gings gedeel nie, maar ook oplossings en aanpassings bespreek wat reeds op plaasvlak toegepas word, van kostebestuur en insetoptimalisering tot marktoegang en produksiestrategieë.

Waar vorige kongresse sterk gefokus het op die identi­fisering van uitdagings en die bou van veerkragtigheid, het Kongres 2026 ’n duidelike skuif na gerigte aksie en praktiese besluitneming getoon. Die klem was nie meer net op oorle­wing of selfs aanpassing nie, maar op hoe produsente die gaping tussen volhoubaarheid en winsgewendheid doelbewus kan bestuur. Hierdie ingesteldheid – van deelname tot implemente­ring – het die geleentheid afgesluit met ’n gevoel van gedeelde verantwoordelikheid, maar ook van realistiese moontlikhede vir die pad vorentoe.

Die pad vorentoe: om die gaping te benut
Die 2026 Graan SA Kongres het ’n duidelike boodskap gelaat: Die uitdagings in die graanbedryf is werklik, maar dit is nie onoorkombaar nie. In ’n omgewing waar koste styg, pryse onder druk bly en onsekerheid toeneem, lê die pad vorentoe nie in afwagting nie, maar in doelgerigte optrede – op plaasvlak, in die waardeketting en binne die beleidsomgewing. Die gesprekke oor die twee dae het bevestig dat produsente nie net veerkragtig is nie, maar ook bereid is om aan te pas, te innoveer en hul besluite te verfyn om volhoubaar en winsgewend te bly boer.

Graan SA spreek sy opregte waardering uit teenoor sy lede, vennote, rolspelers en borge wie se betrokkenheid hierdie ’n betekenisvolle en impakvolle byeenkoms gemaak het. Die organi­sasie bly verbind daartoe om die insette en prioriteite wat na vore gekom het, doelgerig aan te pak deur sterker voorspraak, die be­vordering van praktiese oplossings en die verdere ontwikkeling van ’n mededingende en inklusiewe graanbedryf.

Vir produsente is die boodskap eenvoudig maar kragtig: Volhoubaarheid en winsgewendheid kan nie van mekaar geskei word nie. Die vermoë om die gaping tussen dié twee doelbewus te bestuur en te benut, sal bepaal hoe die bedryf die volgende siklus binnegaan. Met die regte inligting, samewerking en fokus op dit wat werklik saak maak, bly daar nie net hoop vir die toekoms nie maar ook ’n duidelike pad vorentoe.

Na ’n dag propvol aanbiedings en besprekings was daar tyd om gesellig te verkeer.