Beste Grootneef
Die oggendluggie stoot koel deur die voordeur tot by die tafel in die voorhuis. Die grysheid van die oggend word geel soos amber – net voor die son die vlaktes groet. Die piet-my-vrou sit en roep, met sy maat wat vleikant toe antwoord. En dan stoot die son oor die oosterkim vir nog ’n goue dag in die Vrystaat. Die oggend se dou vonkel in die gras. Die veld en die diere van die veld sug genoeglik.
Ná die Augustus-stormwinde se sand en stof het die reën oor die vlaktes kom dans. Met blitse en donderweer voor die reënwolke uit. En dan – reën op die sinkdak en geute wat drup. ’n Harmonie van klank wanneer die nuwe seisoen se reën lewe op die dorre vlaktes ontsluit. Die veld gee dan terug in eenvoud, maar ook in honderdvoud om winterveld na ’n somerlandskap te verander.
Terwyl die oggendson die nag se skadu’s wegvee vir ’n nuwe dag, dink ek aan ’n aand lank, lank gelede in die tuin van Getsemane. ’n Afdeling Romeinse soldate en dienaars van die hoëpriester het swaar gewapen opgedaag om die slapende dissipels te verras. Die Johannes-evangelie beskryf hoe fakkels en lampe die donker aand verlig het. Judas het sy dertig stukke silwer verdien deur Jesus met ’n kus in die dowwe lamplig uit te wys.
Petrus, immer impulsief, het ’n swaard by hom gehad, dit getrek en probeer verdedig. Hy het die dienaar van die hoëpriester se regteroor afgekap.
Daar was maar elf dissipels teen die oormag. Die Romeinse eenheid sou waarskynlik na Petrus se aksie tot aanval oorgegaan het, maar tóé gebeur die wonderwerk. Jesus wat homself vrywillig oorgee en daardeur die gespanne situasie ontlont. Maar dis nie al nie: Hy raak die gewonde kneg van die hoëpriester aan en genees hom volkome. Sy naam was Malchus, kneg van die hoëpriester, Kajafas.
Die Romeinse wag is daarna terug na die hoëpriester se paleis om hul Gevangene oor te lewer. Petrus en een ander dissipel het op ’n afstand gevolg. Dit was laat in die nag, maar voor die haan drie keer sou kraai. Daar word nie verder in die Bybel oor Malchus geskryf nie.

Soms wonder ek hoe Malchus se lewe na die nag in Getsemane verloop het. Toe hy die volgende oggend wakker word, het sy hand onwillekeurig na sy regteroor gereik? Het hy probeer om Kajafas se besluite te beïnvloed? Het hy vir sy gesin vertel van die intense pyn van sy oor wat deur ’n swaard afgekap is, maar met volkome genesing daarna? Het hy ’n lewe van dankbaarheid geleef met die wete dat hy nie deur ’n gewone Mens aangeraak is nie? Het Malchus verstaan dat genade onbeskryflik groot in Getsemane aan hom toegedeel is?
Die piet-my-vrou se geroep lok my na buite. Die stoep kyk oor die Vrystaat-vlaktes. Die genoeglikheid van die wonder van die natuur na genadereën laat my stil raak. Nog ’n jaar spoed ten einde.
Daar was soveel Malchus-oomblikke. Die geur van vroulief se beskuit in die oond. ’n Vuurtjie se geknetter. Die helder blink van die son op swart beeste wat rant se kant toe wei. ’n Nuwe kalfie wat skugter agter sy ma uitloer om ’n nuwe wêreld te verken. Die gemurmel van fonteinwater oor klippe wat dam toe syfer. Die gezoem van bye wat nektar soek. Perskebloeisels. Die blou somerlug met wit wolke wat oor die opstal dryf. ’n Korhaan se hees geroep. Aandblomme wat saam met die aandlug wieg.
Ou Neef, raak bewustelik stil. Hoor, sien en beleef die wonder van genadegawes. Want soos die gras is die mens – gou gaan nog ’n Kersseisoen verby met tyd wat die uurglas laat kantel. Gaan vandag in vreugde en gedenk jou 2025-Malchus-oomblikke.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.













