PG van Zyl van PGL Boerdery in Schweizer-Reneke in die Noordwes-provinsie het die rekordboeke herskryf met ’n mielie-opbrengs van 14,25 t/ha in die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie se afdeling vir mielies wat in dié provinsie onder droëland verbou word.
PGL Boerdery het die vorige rekord met sowat 500 kg/ha oorskry. Die Van Zyls neem sedert die ontstaan van die kompetisie in sy huidige vorm aan Groei vir Goud deel. In 2020 het hulle ’n mielie-opbrengs van 13,79 t/ha gestroop en dit het ook ’n plek op die rostrum behaal.
Hy neem deel omdat dit hom motiveer om hulle boerderypraktyke en opbrengste met die van ander boerderye te vergelyk. “Om jouself met ander boere in dieselfde bedryf te vergelyk dien as aan-sporing om standaarde hoog te hou en om op ons eie opbrengste te verbeter,” sê hy.
Van Zyl het eers vir sewe jaar alleen geboer en in 2015 by sy pa, Pieter, aangesluit. Hy is nou die derde geslag op die plaas. As vennote werk hy en sy pa nou saam. Hy bestuur die meeste van die dag-tot-dag-bedrywighede en besit sowat 30% van die lande en toerusting, terwyl die pa-en-seun-span gesamentlik die beplanning en bemarking hanteer.

Die wenkultivar is op die plaas Kleindoorns geplant. Met strooptyd het die Bayer-verteenwoordiger hom oorreed om die spesifieke blok van DKC75-65BR in te skryf. Dit was die sewende jaar wat hulle die baster aangeplant het en in die 2024/2025-seisoen het hulle 4 000 ha daarvan geplant. Die wenblok het geen spesiale behandeling ontvang nie. “Ons het dieselfde bewerkingsmetodes gevolg en die gewas bestuur soos ons die res van ons lande bestuur het,” verduidelik Van Zyl.
PGL Boerdery verbou witmielies en sojabone op ongeveer 12 300 ha droëland, met ’n addisionele 6 200 ha wat vir weiding aangewend word. Witmielies, die Van Zyls se hoofgewas, word jaarliks op 60 tot 70% van die lande geplant, terwyl die grond se chemie in balans gehou word deur wisselbou met sojabone. In die 2024/2025-plantseisoen het hulle 8 400 ha mielies geplant.
Ongeveer 85% van hulle mielie-aanplantings is DEKALB-basters (van Bayer) en op die res van die hektare word Pioneer asook ander nuwe basters geplant wat hulle toets na aanleiding van goeie prestasie in proewe. “Ons eie proewe word versprei oor verskeie plantblokke om resultate met verskeie grondtipes en plantdatums te vergelyk,” verduidelik Van Zyl.

Wanneer hulle nuwe basters met bestaande produkte vergelyk, kyk hulle na opbrengs, die kwaliteit van die graan en bestendigheid oor ’n paar seisoene. Op van die huurlande waar die grond se chemiese balans al reggestel is, word die mielies ook met sojabone afgewissel. Wanneer die ondergrondse vog nie genoegsaam is nie of die graanprys te laag is, verkies die Van Zyls om eerder van hulle lande te laat rus.
Hulle het ook ’n kommersiële beeskudde wat op speenkalfproduksie fokus. Die beeste benut die oesreste na stroop en dit help om voerkoste in toom te hou. Die Van Zyls bedryf verder ook wild op Uurpan Lodge. Elke vertakking word apart hanteer en bestuur.
Van Zyl meen hulle is gelukkig om oor die algemeen goeie grond te hê, maar sê dit het toewyding geverg om deur die jare die swakker gronde op te bou tot waar dit vandag is. Hul plase se grondtipes is Avalon, Hutton, Tukulu, Bainsvlei en Bloemdal. Die land waarop die rekordoes afgehaal is, bestaan hoofsaaklik uit Avalon-grond. Hulle volg ’n minimumbewerkingstelsel en doen slegs ’n diep skeurtandbewerking (rip) in die lande tussen die vorige jaar se rye. Die rippers het vooroopmakers, toemakers en rollers wat hulle in staat stel om ’n skoon saadbed te vorm, met stronke weerskante van die ry.
In 2000 het hy begin met grondontledings. Sedertdien word 25% van die lande jaarliks gekarteer. Hulle gebruik dié inligting saam met die stroperkaarte om kalk variërend toe te dien volgens die behoefte van elke land.
Presisieboerdery
Hulle volg al presisieboerderypraktyke vir sowat 25 jaar. Van Zyl meen dit was ’n positiewe stap. Volgens hom kan ’n mens vandag nie meer boer sonder om kalk en kunsmis variërend volgens die land se behoefte toe te dien nie. “Die regstel van spesifieke probleemkolle in lande en die stuurstelsel van die implemente is alles dinge waarsonder die graanprodusent nie meer kan boer nie.
“Ons chemiese aanbevelings word aangepas en is gebaseer op ons langtermynkennis van ons grond. Ons kyk na beskikbare grondvog, stroperopbrengskaarte se data oor vyf jaar, grondtipes en weervoorspellings wat ons kombineer met insig uit ons ervaring om ons bemesting vir die volgende seisoen te beplan.”
Bemesting word gedoen op grond van die gewas se behoeftes, maar die voedingsonttrekking van die vorige jaar se oes word ook in ag geneem. Witmielielande wat die volgende jaar met sojabone geplant gaan word, kry ekstra fosfaat om die grond se behoefte aan te vul. Hulle bemestingsbeleid bepaal dat 25% van die lande elke jaar met kalk behandel word.
Voorplanters plaas kunsmis op ’n diepte van 250 mm om dit by die nat wortels te kry en ’n goeie saadbed te vorm, waarin selfs met min reën suksesvol geplant kan word. Wat bemesting betref het hulle voor plant ’n mengsel van NPK 3:1:2 toegedien. Met plant is weer NPK 21:8:3 toegedien. Na plant is ’n mengsel van NPK 1:0:0(40) uitgestrooi. Biologiese produkte word net op sojabone toegedien vir inentings en wortelontwikkeling.
Chemiese beheer
Hulle hou die lande chemies skoon en spuit direk ná strooptyd die onkruid met hoogloopspuite om vog te bewaar. Met ’n Turbo Max-skottelimplement word vermorste saad lig ingesny om opslaggraan en onkruid gelyk op te kry.
Chemiese beheer word voor plant, voor opkoms en voor die agtblaarstadium gedoen om lande skoon te hou, met spore wat oopgelaat word om die bewerkingsproses te vergemaklik. Met plant dien hulle ’n mengsel van Sorgomil, Callisto, Dual Gold, Armour,
Karate, AMS en Sprayfilm toe. Die tweede bespuiting het bestaan uit Callisto, Sorgomil, Metagan, Aroxy, Difenocanzole, Roundup en ’n misstof. Plae word beheer deur middel van chemiese middels en Bt-gene in die basters.
Wat die seisoen se reënval betref, was hulle gelukkig om goeie neerslag te ontvang tydens planttyd. Daarna het hulle egter vir ongeveer sewe weke geen reën ontvang nie. Later in die seisoen was die neerslag weer goed. Die totale reënval vir die seisoen was 588 mm.
Die wenblok is op 6 November 2024 geplant. Hulle normale planttyd is gewoonlik vanaf 20 November. “Ons het verlede jaar vroeër begin plant, maar op die ou einde het ons langer geplant as gevolg van die reën wat weggebly het.”
Hulle hou ook hul oog op grondtemperature wanneer daar geplant word. Die gewasse word almal in rywydtes van 91,4 cm geplant. Hulle gebruik Horsch-planters en hou van die Duitse tegnologie wat dié planters bied. Die wenblok is teen ’n plantestand van 29 000 plante/ha geplant, met die gemiddelde plantestand 27 500 plante/ha. “Ons pas ons plantestand aan na gelang van die tipe grond,” sê Van Zyl. Die mielies is gedurende die eerste week in Julie gestroop en daarvoor het hulle ’n Case 8250 Axle Flow-model gebruik.
Deel van die data wat hulle insamel om saam met ander inligting in opvolgende seisoene te gebruik, is om uit te werk wat hulle opbrengs per beskikbare vog is.
Opbrengs is vir hulle belangrik, maar Van Zyl verduidelik dit so: “Wanneer ons opbrengs teenoor winsgewendheid balanseer, kyk ons nie net na maksimum opbrengs nie, maar eerder na die mees winsgewende opbrengs per hektaar waar koste, risiko en grondgesondheid in ag geneem word. Produksiekoste per hektaar is belangrik.”
Hy meen grondontledings moet gedoen word om vas te stel wat die grond se potensiaal en behoefte is sodat bepaal kan word wat die toediening van aanvullings moet wees. “Dit is nie net ’n roetinetaak nie. Grondontledings moet gebruik word om die variërende toediening van kunsmis en kalk te bestuur. Net so met presisieboerderypraktyke. ’n Mens moenie goed net ‘sommer’ of ‘ingeval’ doen nie. Die korrekte rywydte, plantdiepte en plantestand moet as gevolg van ’n spesifieke rede gedoen word.” Opsommenderwys sê hy dat hulle na die beste marge per hektaar streef en nie bloot die hoogste opbrengs nie.
Hulle benadering ten opsigte van insetkoste sluit ook hierby aan. “Dit is belangrik om te beding vir goeie pryse en ook om verskillende produkte soos byvoorbeeld chemiese middels wat dieselfde aktiewe bestanddeel bevat, met mekaar te vergelyk.”
Volgens Van Zyl was dit ’n uitdaging om binne die reënvalpatroon van die afgelope seisoen die vog in die lande te bestuur. “Die mielieprys bly ook altyd ’n uitdaging.”

Wanneer hy inligting soek, klop hy by agente en maatskappyverteenwoordigers aan, maar woon ook boeredae by en doen navorsing op die internet. Hy werk nou saam met medeprodusente in sy omgewing wat dieselfde grond, reënval en omstandighede as hulle het. Van Zyl sê sy boerderyfilosofie is om saam met die natuur te werk. “’n Mens moet nie teen die natuur probeer boer nie. Ek wil die korrekte en beste boerderypraktyke en produksiemiddele kies wat die beste vir ons grond en reënvalstreek is.” Diversifikasie is ook vir hom belangrik.
Vandat hy op die plaas gekom het, het hulle die rywydtes verander en met minder maar groter trekkers begin boer. “Die tegnologie is net soveel beter en ’n waardevolle toevoeging tot die boerdery.”
Van Zyl beskou sy pa as sy mentor. “My pa is altyd nederig en hy behandel ander mense met respek. Sy planne raak ook nooit op nie!” Hy beskou homself nog nie as ’n mentor nie, maar is bereid om sy advies en hulp aan te bied wanneer daarna gevra word. “Sou iemand vra, sou my raad wees dat hulle moet luister na wat ander sê, maar dat dit belangrik is om jou eie proewe te doen voordat besluite geneem word. Dan is dit belangrik om op hoogte van die nuutste tegnologie te bly. Laastens is my raad om altyd die Liewe Vader te vra vir sy hulp.”
Iets wat hy graag sou wou sien, is dat inligting van nuwe produkte, spesiale aanbiedinge van maatskappye en kommunikasie van kundige en tegniese mense met genoegsame ondervinding verbeter en hulle meer gereeld bereik. “Dit sou verder waardevol wees as die oesskatting meer akkuraat en vroeër kon wees. Akkurate weervoorspellings sal ook ’n aanwins wees.”

















