AANPASBAARHEID noodsaaklik as jy wil bly boer

Gepubliseer: 12 Desember 2025

1254

Die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie skep ’n geleentheid waar produsente met mekaar kan gesels oor hul praktyke. Danie Bester van Deepwater Trading en voormalige dubbelgoud-wenner in dié kompetisie, meen dit is moontlik om te bepaal of jy op die regte pad is deur jouself teen ander produsente se praktyke en prestasies te meet.

Reeds sedert die ontstaan van die opbrengskompetisie gebruik hy dié geleentheid om sy praktyke teen dié van ander produsente op te weeg.

“Die kompetisie help ons om te kyk hoe klein verstellings ’n verskil in opbrengs kan beteken. Natuurlik moet die spesifieke seisoen en omstandighede op elke plaas ook in ag geneem word.”

Hy glo aanpasbaarheid is ’n eienskap waaroor elke produsent moet beskik. “Ek probeer elke seisoen by omstandighede aanpas. As jy dit nie doen nie, kan jy gou uitboer. As ’n mens nie van nature aanpasbaar is nie, moet ’n mens dit aanleer,” beklemtoon hy.

Volgens hom kan die afgelope seisoen se sukses aan proaktiewe optrede toegeskryf word. “Ek het tydig bemes volgens die inligting wat ek die afgelope seisoene uit my proewe gekry het. Ek kon my mylpale bereik deur op fyn detail te fokus. Dit is ook nodig om seker te maak jy doen die basiese dinge reg soos om elke bussie en boutjie op ’n planter na te gaan. Dit is daardie klein dingetjies wat probleme kan veroorsaak as dit nie reggestel word nie.”

Danie Bester van die plaas Rietbult naby Balfour neem al vir ses jaar aan die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie deel.

Hy bepaal reeds voor planttyd watter land hy vir die kompetisie gaan inskryf. “Ek wil weet hoe ek die opbrengs bereik het en ek wil seker maak dat ek dit elke jaar kan herhaal of daarop verbeter.”

Bester het in 2004 op die plaas Rietbult in die Balfour-omgewing begin boer waar hy sojabone en geelmielies onder droëlandtoestande in ’n minimumbewerkingstelsel produseer. Vandag, na 21 jaar op die plaas, is hy steeds daarop ingestel om jaarliks te verbeter.

In vanjaar se afdeling vir mielies wat in die oostelike Hoëveld geproduseer word, het Bester die eerste en tweede plekke beklee met die Pioneer-baster P1197PW. Hy het die wenblok waarop hy 20,05 t/ha gestroop het self ingeskryf, terwyl die blok wat in die tweede posisie was en waarop hy 19,01 t/ha gestroop het, deur die Pioneer-verteenwoordiger ingeskryf is. Bester het nie net gewen nie, maar hy het ook ’n nuwe kompetisierekord opgestel. Beide die blokke wat hy ingeskryf het se opbrengste was ver bo die vorige kompetisierekord van 17,59 t/ha. Hy plant hierdie variëteit al die afgelope vyf jaar en het vanjaar 140 ha daarvan verbou.

Bester het vanjaar ook die tweede posisie beklee in die afdeling vir sojaboonproduksie in die oostelike Hoëveld met ’n opbrengs van 7,06 t/ha met die Agricol Don Mario-kultivar DM 5351 RSF. Dié opbrengs was nog steeds sowat 800 kg/ton meer as die vorige opbrengsrekord wat opgestel is vir die verbouing van sojabone in dié area.

Bester het die eerste en tweede plekke vir mielies wat in die oostelike Hoëveld geproduseer word beklee met opbrengste van 20,05 t/ha en 19,01 t/ha met die Pioneer-baster P1197PW.

“Ons volg regeneratiewe landboupraktyke. Die hele boerdery pas soos ’n legkaart in mekaar met die doelwit om die biologie in die grond reg te kry en so herlewing te bewerkstellig.”

Wat die verdeling van die gewasse betref, het hy nie ’n vaste patroon nie maar mik om 60% mielies en 40% sojabone te plant. Hy plant elke tweede jaar ’n deel sonneblom om ’n gedeelte van die sojaboonhektare te vervang. Hy het nie oorlêlande nie, maar plant dekgewasse tussen seisoene as die tyd en seisoen dit toelaat. Dekgewasse speel ’n groot rol in sy boerderypraktyke omdat dit lewende wortels in die grond beteken en daarom is dit vir hom belangriker as wisselbou.

Na strooptyd bewei die beeste die oesreste, maar hy maak seker dat daar genoeg materiaal op die lande gelaat word om steeds die grondoppervlak te bedek en te beskerm teen die natuurelemente.

Die mielies word na sojabone in ’n minimumbewerkingstelsel geplant teen ’n variërende plantestand, maar met ’n gemiddeld van 61 340 plante/ha met ’n opkomspersentasie van 99%.

Hy het die mielies met ’n Case 2150 EarlyRiser geplant en is oortuig daarvan dat die planter ’n groot bydrae gelewer het tot sy sukses. Die kunsmis is toegedien en beheer met Agleader se Directcommand en hy sê die lugkussings op die planter help met die ekstra afwaartse druk. Die planter is verder toegerus met Precision Planting se vSet® en vDrives® op RTK (Real-Time Kinematic) GPS-korreksies.

Hy het met ’n Case 7140 Axialflow met ’n twaalfry-Geringhoff-tafel gestroop. Die stroper is verder toegerus met ’n opbrengsmonitor van Agleader wat ook werk met RTK GPS-korreksies.

Wat die sojabone betref, het hy 175 000 plante/ha in die grond gesit en ’n finale plantestand van 155 000 plante/ha gerealiseer. Hy plant die sojabone in ’n minimumbewerkingstelsel in 76 cm-rye omdat hy oortuig is dat dit vir hom ’n mikroklimaat in die lande skep tot voordeel van die gewas se opbrengspotensiaal.

Volgens hom was die 2024/2025-seisoen ietwat deurmekaar. “Ons het uit ’n baie droë jaar gekom, maar kon aan die begin van die seisoen die gewasse betyds in die grond kry. Dit was egter droog tot 16 Desember waarna ons ’n uiters nat tydperk beleef het tot einde Januarie. Daarna was dit weer aan die droë kant.”

Hy meen dit bevestig die waarde om vog in die grond te bewaar en op plantgesondheid te fokus.

Die gemiddelde reënval vir die seisoen was 759 mm, waarvan 502 mm deur die groeiseisoen geval het. Bester bepaal elke jaar sy opbrengs volgens die beskikbare vog.

Gesonde saailinge wat eweredig opkom is van kardinale belang aan die begin van die seisoen. Dit word bewerkstellig deur op grondgesondheid en goeie wortelontwikkeling te fokus, meen Bester.

Proefdata is vir hom uiters belangrik: Hy glo hoe meer sinvolle data hy kan versamel, hoe beter prentjie kry hy van die werklikheid. “Ek vergelyk nuwe kultivars met bestaande kultivars wat ek reeds plant. Ek kyk ook na wat die uitwerking van stand op opbrengs is. Verder vergelyk ek verskillende bestuurstegnieke, implemente en bewerkings met mekaar op klein skaal. Verskillende maatskappye se chemiese produkte en voedingstowwe en elk se uitwerking op spesifieke kultivars word ook gemeet. As ek sien dat iets in die proewe werk of belowend lyk, sal ek dit met aanpassings op groter skaal implementeer.”

Hy hou daarvan om vroeg in die seisoen te plant. “Ek wag vir die optimale grondtemperatuur voordat ek plant. Elke kultivar reageer anders.”

Bester benader sy boerdery wetenskaplik en plaas baie klem op presisieboerdery en grondgesondheid. Vorige jare se inligting is nuttig in die beplanning vir die komende seisoen. So verbeter hy produksie. Om winsgewend en volhoubaar te produseer, is kennis en inligting noodsaaklik vir beplanning.

“Ek pas presisieboerdery toe en hanteer elke hektaar op sy eie. Dele in die land met ’n hoër opbrengspotensiaal kry addisionele aandag. Bestuursones vorm die basis van presisieboerdery omdat dit ’n aanduiding gee van die verskillende variasies. As die inligting saam met die stroper se opbrengsdata gebruik word, is dit moontlik om vas te stel hoe ’n mens elke stuk grond optimaal kan benut.”

Hy is oortuig daarvan dat 80% van ’n gewas se opbrengs deur die toestand van die grond bepaal word. “Produktiwiteit is vasgelê in die grond. Hoewel ’n variëteit ’n sekere opbrengspotensiaal het, word opbrengs ook bepaal deur vog en die beskikbaarheid en opneem van voedingstowwe. Dit hang nou saam met die grondpraktyke wat gevolg word. Slegs wanneer daar biologiese aktiwiteit in die grond is wat voedingstowwe beskikbaar stel, kan die plante dit opneem. Die oorblywende 20% van die opbrengspotensiaal word deur die kultivar, implemente en plantpresisie bepaal,” verduidelik hy.

Grond- en blaarmonsters word met gereelde tussenposes deur die jaar geneem. So kan hy die beskikbare vlakke van voedingstowwe bepaal. Weer eens gebruik hy sy stroperdata om die opbrengs wat hy op ’n bepaalde land behaal het met die resultate van die blaar- en grondmonsters te vergelyk.

Deur die monsters met mekaar en met vorige seisoene se stroperdata te vergelyk, kan hy bepaal of swak wortelontwikkeling, stres, tekorte in die grond of verdigtingslae die oorsaak was van swakker prestasie en dan regstellings doen. Die inligting help verder om bewerkingsfoute te identifiseer en gevolglik kan implemente reg gekalibreer word. “As die probleem geïdentifiseer is, kan regstellende stappe gedoen word,” beklemtoon hy.

Hy gebruik die inligting wat hy ontvang na blaarontledings om te bepaal wat die volgende bestuurstap gaan wees. “Die inligting en resultate van die ontledings bepaal in ’n groot mate die varieerbare plantestand en ander chemiese toedienings.”

Bester beklemtoon dat vogbestuur nou verwant is aan grondgesondheid en daarom moet beskikbare waterbronne doeltreffend en optimaal bestuur word. Gesonde grond met genoeg organiese materiaal en die regte verhouding tussen die mikro-elemente dra daartoe by dat die plante die sonlig beter kan benut en deur fotosintese in opbrengs kan omsit.

Onkruidbeheer vorm ’n belangrike deel van sy produksiesiklus en hy glo tydige bespuitings is noodsaaklik. “As jy te laat spuit gaan jy die res van die seisoen sukkel.” Voordat hy sojabone plant doen hy ’n algehele bespuiting en volg dit op na opkoms. “Die veiligste produk vir my om op sojabone te gebruik, is glifosaat.”

Die mielieblok waarmee hy die eerste plek behaal het in vanjaar se kompetisie, spog met gesonde blare aan die mielieplante. Gesonde plante kan strestoestande baie beter hanteer en dra by tot die finale inweeg by die silo.

Hy sê voorts dat sy bemesting die afgelope seisoen baie minder was omdat die grondbiologie so aktief was. “Dit het bykans al my bemesting vir my gedoen.”

Bester hou daarvan om gedagtes en planne met ander produ-sente uit te ruil. Hy gaan jaarliks op ’n besoek na die VSA om ook daar met produsente te gesels. Hy beskou Kevin Kalb, bekende produsent van die VSA, as die droëlandmieliekoning van die wêreld. “Sy hele plaas se gemiddeld is goed en sy kennis is verstommend. Die kennis wat ek deur hom en mense soos dr Fred Below bekom het, is van onskatbare waarde.”

Hy voeg by dat dit belangrik is om noukeurig rekord van alles wat jy doen te hou sodat jy elke jaar die data met vorige jare s’n kan vergelyk. “Wanneer jy een jaar met ’n ander vergelyk, kompeteer jy as’t ware net met jouself.” Hy voeg by dat dit belangrik is om kennis onder mekaar te deel om almal te help om volhoubaar te boer.

Bester waarsku voornemende en jong produsente daarteen om hul ore aan enigiemand uit te leen. “Moet ook nie in die opbrengsslaggat val nie. Hoewel opbrengs belangrik is, moet ’n mens altyd op winsgewendheid ook fokus.”

Hy is dankbaar vir die resultate wat hy behaal. “Dit is genade van Bo wat sukses bewerkstellig.” Hy voel sterk daaroor dat ’n mens jou suksesse moet aanteken en dit met ander moet deel.

Sulke goue mieliekoppe laat enige mielieprodusent se hart van trots swel. Die koppe is goed bestuif – dit het bygedra tot die uitstekende opbrengs van 20,05 t/ha.