SOK pak weer landboukwessies aan

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 8 Mei 2025

111

Die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) het op 19 Maart ’n inligtingsdag by Laerskool Humansvlakte buite Bothaville gehou waar die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou onder meer bespreek is.

Verskeie swaargewigsprekers het by die geleent­heid opgetree, waaronder prof Ferdi Meyer (be­sturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid [BFAP]), Jaco Minnaar (voorsitter van AgriSA) en prof Johnnie van den Berg (programbestuurder: Geïntegreerde Plaagbestuur by die Noordwes-Universiteit).

Produsente woon jaarliks die SOK-dag by om belangrike inligting rakende landbou en navorsing in te win.

In sy toespraak het Minnaar verwys na die Onteieningswet wat president Cyril Ramaphosa in Januarie vanjaar onderteken het. Hy het beklemtoon dat AgriSA hierdie wetgewing verwerp en dat hulle dit tot in die hoogste hof sal beveg.

Minnaar het produsente gemaan om die massas aanlyn inligting hieromtrent met omsigtigheid te benader. “Daar is baie ge­raas op sosiale media – kyk wie is werklik jou verteenwoordiger wat jou belange beskerm en bevorder.”

Plaagbeheer
Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, het by die geleentheid agtergrond oor nuwe regulasies betreffende die uitfasering van karsinogeniese middels gegee. Hy sal Graan SA-lede behulpsaam wees met die kursusse en vereistes om as plaagbeheerbeamptes (PCO’s) te registreer om sodoende hierdie middels te mag toedien.

Jaco Minnaar, voorsitter van AgriSA, het produsente gemaan om nie te veel ag te slaan op inligting oor grondonteiening wat versprei word op sosiale media nie en hulle verseker dat AgriSA heelwat werk hieroor agter die skerms doen.
Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, het verduidelik wat die nuutste regulasies betreffende plaag­beheer behels.

Sandgrond
“Om graan doeltreffend en volhoubaar op die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat te produseer is dit van tyd tot tyd nodig om bestaande akkerboukundige riglyne te bevestig of aan te pas – veral waar tegnologie soos kultivars en chemiese middels gereeld vernuwe of verander. Hiervoor is navorsing nodig en dit is wat die SOK doen,” het dr André Nel, wat die SOK se navorsing insamel en verwerk, gesê.

Die SOK is in 2010 deur produsente uit die Noordwes-Vrystaat gestig – Danie Minnaar, Lourens van der Linde, WH van Zyl en wyle Carel Koch – in reaksie op die afname in onafhanklike landbounavorsing in hul streek se unieke sandgronde.

Met ondersteuning van die Mielietrust het die SOK die voortou geneem om volgehoue navorsing te doen oor grondbestuur en volhoubare graanproduksie in dié semidroë gebied.

Die sandgronde van die streek is bekend vir hul lae klei-inhoud, hoë waterinfiltrasie en tydelike watertafels, wat produksie uitdagend maar ook lonend maak indien dit korrek bestuur word.

Navorsing deur die SOK fokus op sleutelkwessies soos grondverdigting, wind­erosie, waterbenutting, bemesting en ge­wasrotasie – alles met die doel om opbrengs, grondgesondheid en volhoubaarheid te verbeter.

Thabo van Zyl, medewerker van die SOK en organiseerder van die dag.
Prof Ferdi Meyer, besturende direkteur van BFAP, het gesê die formele landbousektor dra sowat 14% by tot die plaaslike ekonomie – veel meer as wat gewoonlik gemeen word.

Die komitee het veral gewys op die voordele van bewaringslandbou, soos skeurploegbewerking (rip-op-ry) en wissel­bou met gewasse soos sojabone en voersorghum.

Oor die jare het hul proewe duidelik getoon dat skeurploegbewerking die verdigtingsprobleem suksesvol aanpak, wortelontwikkeling verbeter en dus tot hoër mielie-opbrengste lei.

Wisselboupraktyke, veral mielies na sojabone, het ook betekenisvolle opbrengsvoordele getoon. In droë jare het vermin­derde bewerking soms beter presteer, waarskynlik omdat dit grondwater oordra na die volgende seisoen.

Die SOK se werk help produsente nie net om winsgewend en volhoubaar te boer nie, maar het ook ’n model geword hoe produsente self navorsing kan dryf wanneer staatskapasiteit ontbreek. Deur samewer­king met landboukundiges, insetverskaffers en universiteite maak hulle waardevolle bydraes tot volhoubare landboupraktyke op Suid-Afrika se sandgronde.