Graan SA se werksessie met oud-Raadslede wat in April op NAMPO Park aangebied is, het nie net strategiese rigting gegee vir die pad vorentoe nie, maar was ook ’n kragtige herinnering aan die ryk geskiedenis waarop die organisasie vandag voortbou.
Tydens die geleentheid het voormalige voorsitters Cerneels Claassen, Japie Grobler en Derek Mathews – voorlopers wat met wysheid en toewyding diep spore in landbou getrap het – gesels oor hulle persepsie van die strategiese pad van die organisasie en die waarde wat aan lede gebied word. Wat hierdie sessie besonders gemaak het, was die eerlike terugvoer en waardevolle aanbevelings van elke oud-Raadslid wat die werksessie bygewoon het.

In ’n verklaring het Graan SA gesê: “Hulle insigte herinner ons daaraan dat ons vandag op ’n stewige grondslag bou, en dat die uitdagings van vandag hanteerbaar is juis omdat daar soveel opgeboude kennis en ervaring agter ons staan. Die gees van die dag was vol warmte, kameraadskap en hernieude toewyding. Daar is opregte waardering uitgespreek vir die pad wat Graan SA vandag loop, en bemoediging vir almal wat tans in die tuig is om die wa te trek.”
’n Mooi terugblik
Claassen het hulde gebring aan die stigting van spesialiteitsorganisasies in die graanbedryf – van SAMPI in 1966, deur die stryd met SAMSO, tot die stigting van NAMPO in 1980, en uiteindelik die vorming van Graan SA. “Ek is bevoorreg om van die begin af daarvan deel te kon wees.”
Hy het met emosie gepraat oor die pioniers wat hul merk gelaat het: Hennie Delport, Fanie Ferreira, Hennie de Jager, Crawford von Abo en Boetie Viljoen. “Sonder hulle sou hierdie organisasie nie bestaan het nie,” het hy benadruk.
Verder het hy sy eie twaalf jaar (1984 tot 1996) op die Hoofbestuur, waarvan sewe as voorsitter, onthou – die langste termyn in die geskiedenis van die organisasie. Hy het die unieke broederskap van die destydse Dagbestuur wat in die sewe jaar nooit verander het nie uitgelig: “Van ons vyf Dagbestuurslede is dit net ek en Japie Grobler wat nog lewe, maar ek wil tog graag die name noem van Jan Schabort, Pieter Meyer en Bully Botma.”

Grobler het op sy beurt sy waardering uitgespreek vir die erkenning aan oud-Bestuurslede, en hy het almal herinner dat lojaliteit aan die organisasie diep gewortel bly.
Derek Mathews het sy persoonlike reis met die organisasie gedeel. “My pad met Graan SA het begin toe ek ses jaar oud was,” het hy vertel. “My pa was ’n stigterslid van ’n plaaslike SAMPI-tak en ek kan die stryd onthou om dit van die grond af te kry.” Hy het met deernis vertel hoe sy pa van die Oesdag – wat daardie dae nog op ’n plaas in Ottosdal aangebied is – teruggekeer het met ’n kloppende hoofpyn.
Hy het onthou hoe hy elke skou saam met sy pa, wat ’n uitstaller was, bygewoon het, en hoe die eerste Oesdag op die NAMPO Park-terrein ’n plek van kaal sandkolle en ’n hardebord-toilet was. “Daardie eerste jaar was my pa die laaste uitstaller om op te pak en te ry,” het Mathews vertel. Hy het die belangrikheid beklemtoon van die moed en eienaarskap wat dit in daardie dae geverg het om ’n organisasie te stig en te bou. “Daardie boere het besef hulle moet self hul toekoms vorm en het ’n fondament gelê waarop ons vandag kan voortbou,” het hy gesê.

Die pad vorentoe
In sy raad aan die huidige bestuur het Grobler ’n ernstige beroep gedoen: “Julle mag nooit ons en ons kinders faal nie. Uit julle eie krag sal julle baie vermag, maar deur
julself, jul organisasie en jul lede aan Christus se leiding te onderwerp, sal julle die bomenslike ook kan bemeester.”
Hy het beklemtoon dat die pad vorentoe nie slegs gaan oor bestuur of strategie nie, maar oor roeping – die roeping om lede ingelig en bemagtig te hou terwyl hulle gelei word. Boonop het hy gewaarsku teen ’n organisasie wat ouer word sonder vernuwing: “Die gemiddelde ouderdom van jul lede mag nooit te hoog word nie,” het hy gesê. “Julle het die mandaat maar ook die opdrag om die volle spektrum van jonger produsente daar buite te bearbei en deel te maak van hierdie trotse organisasie.”
Mathews se boodskap aan vandag se lede was duidelik: “Elke keer as julle met uitdagings gekonfronteer word, moet julle moed skep, want ons is al daardeur en ons het altyd oorleef. Ons praat nie politiek of godsdiens nie – net graansake. As ons gefokus bly op die ekonomiese oorlewing van graanprodusente, sal dit goed gaan.”
Aan die nuutverkose voorsitter, Richard Krige, en sy span het Mathews die volgende raad gegee: “Luister mooi na die stem van die boer deur die verkose Raad,” en aan die HUB, dr Tobias Doyer: “Maak seker jou span bly fiks vir die taak, toegewy, passievol en gemotiveerd. En dit is hulle reeds. Ons kan sien dat hulle van hul werk hou en dit het ’n groot impak op die organisasie.”
Claassen het ook sterk klem gelê op die toekoms. “Een van julle grootste take is om die toekoms te lees en die organisasie daarvolgens te posisioneer,” het hy aan die huidige bestuur gesê. “Maar jy kan nie weet waarheen jy op pad is as jy nie weet waar jy vandaan kom nie.”
Hy het sterk gepleit vir eerlike kommunikasie, goeie verhoudinge met owerhede, en die voortdurende bemarking van graan se waarde. “As jy dit nie sê nie, is dit soos om vir ’n meisie in die donker te knik – net jy weet daarvan.”
Ter afsluiting het hy gesê: “Pas hierdie organisasie op. Hy is duur gekoop. Bewaar hom soos ’n kleinood.”
Die funksie was ’n belangrike herinnering dat, hoewel nuwe uitdagings wag, dit die waardes en wysheid van die verlede is wat Graan SA sal help om sterk en saam vorentoe te beweeg. Die boodskap was duidelik: Graanprodusente stap nie alleen nie, hulle dra die hoop en insig van generasies saam met hulle.
’n Uittreksel uit Die graan- en oliesadebedryf van Suid-Afrika, ’n reis deur tyd waarin Graan SA se geskiedenis saamgevat is, is ook met trots gedeel. Klik op die skakel om dit te lees.