Februarie se held: Venessa Oldewage
Venessa Oldewage is nie ’n vrou wat op moedverloor se vlakte bly sit wanneer die een misoes na die ander tref nie. Die boervrou in haar staan nie net reg om ’n handjie by te sit met die boerdery nie, sy maak op hulle plaas buite Leeudoringstad in Noordwes ook planne om sover moontlik volhoubaar selfonderhoudend te wees. Dit doen sy deur wat die plaas hulle bied tot die volle potensiaal te ontgin en te benut sodat sy al hoe minder in die winkels hoef te koop.


Talita Verwey het besluit om hierdie kreatiewe boervrou vir die My Hero-reeks te nomineer. “Niks kry haar onder nie. Sy probeer net weer as iets nie werk nie en doen dan net nóg navorsing. Haar verhouding met haar Skepper en die manier hoe sy leef is vir my ’n groot inspirasie. Venessa stel regtig ’n wonderlike voorbeeld vir haar kinders.”
Venessa het ’n besluit geneem om die korporatiewe wêreld vaarwel toe te roep om voltyds by haar gesin op die plaas te wees en hulle drie kinders naby God en die aarde groot te maak. Sy ondersoek al die moontlikhede van hulle boerdery om die nismarkte wat daaruit voortvloei te ontwikkel en uiteindelik te bemark. Te midde van teëspoed en die een misoes na die ander het Venessa en haar man, Christie, eendag in die mielielande gaan bid. Hulle hoor toe duidelik die Here se stem in Jesaja 43:18 waar die woorde “nuwe begin” weer en weer tot hulle gespreek het.
Sy het aanvanklik met braaikuikens begin en toe ’n idee gekry om hulle ganse se dons te begin pluk. Nadat die sewe melkbokke op die plaas gelam het, het sy met bokmelkkaas begin eksperimenteer. Aanvanklik het sy net ’n koppie melk ’n dag gekry en haar pogings het gefaal, maar sy het haar resep bly aanpas totdat dit gewerk het. Nog een van haar uiteindelike suksesvolle pogings waarop sy veral trots is, is die bokmelkseep wat sy maak, wat ’n heel ander proses as boerseep is.
Venessa lê groente in, maak suurdeeg en wil graag in die toekoms haar eie meel begin maal, haar eie olie pars, botter en kaas van koeimelk maak en moontlikhede met pekanneute ondersoek sodra hulle bome genoeg dra. Hierdie boervrou maak nie net ’n plan nie – sy hou aan tót hy werk!