Graan SA dryf innovasie en volhoubaarheid

Gepubliseer: 3 Maart 2025

118
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

Elke Maart het ons die voorreg om Graan SA se Kongres op NAMPO Park aan te bied. Hierdie belang­rike gebeurtenis op ons kalender is ’n geleentheid vir lede en waardekettingvennote om ons vordering te bespreek, asook die uitdagings en stra­tegiese prioriteite wat Graan SA se werk vorm.

As HUB lig ek graag uit hoe ons as organisasie aanhou ontwikkel en positiewe verandering dryf om die winsgewendheid en volhoubaarheid van Suid-Afrika se graanprodusente te verseker.

Graan SA het nog altyd beleid beïnvloed, maar het gegroei tot ’n dinamiese onderneming wat maatskaplike voorspraak maak. Soos ander maatskaplike ondernemings, bied ons dienste aan om mense­kapitaal te ontwikkel, inligting te verskaf en voldoening te ondersteun, en ons aktiwi­teite strek oor die ekonomiese, bedryfs- en tegnologiese sfere. Ons span, bestaande uit bykans 70 professionele persone, skakel met belanghebbendes, verbruikers, gemeenskappe en beleidmakers om volhoubare graanboerdery te bevorder.

Volhoubare graanproduksie lei weer tot ekonomiese groei, werkskepping en omgewingsrentmeesterskap deur bewa­ringspraktyke. Dit voed die bevolking en ondersteun die lewensbestaan van plattelandse gemeenskappe, wat ’n meer veerkragtige Suid-Afrika bevorder. Graan SA se strategie berus op vyf sleutelpilare. Ons optimaliseer plaas-wins­gewendheid deur hulpbrondoeltreffendheid en opbrengste te verbeter en deur koste te verminder. Deur kostedoeltreffende plantgesondheidsoplossings te bied, bemagtig ons produsente om ingeligte produksiebesluite te neem.

Die bevordering van produktiwiteit begin met die verbetering van insetdoeltreffendheid. Ons bied toegang tot gevorderde landboutegnologieë en -data. Deur navor­sing verbeter ons gewasvariëteite en evalueer ons kultivars; ons ontwikkel ook gewasbe­skermingstrategieë wat in ooreenstemming is met bewaringsdoelwitte. Deur tegnologie te gebruik, help ons produsente om prestasie te optimaliseer en mededingend te bly.

Ons is daartoe verbind om markte te ontwikkel en te diversifiseer. Deur vrye­markbeginsels aan te moedig, bevorder ons mededinging en prysdeursigtigheid. Ons verskaf huidige data met betrekking tot die mark en maak seker dat plaaslike en internasionale bedrywighede glad verloop. Die versekering van biosekuriteit, gerugsteun deur plaag- en siektemonite­ring, handhaaf markintegriteit. Diagnostiese klinieke bied insig, wat produsente help om doeltreffend in markbehoeftes te voorsien.

Graan SA is verbind tot ’n getransformeerde, inklusiewe voedselstelsel. Ons skep geleenthede vir gemeenskappe en ondersteun die kommersialisering van opkomende produsente. Ons verskaf doelgerigte armoedeverligting en bystand aan hulpbronarm produsente, wat gemeenskaps­ontwikkeling bevorder. Deur die oordrag van tegnologie belê ons in mensekapitaal om ’n vaardige arbeidsmag te bou.

Boerdery vir die toekoms bevorder volhoubaarheid en skep ’n omgewings-, maatskaplike en bestuursnalatenskap (ESG). Ons bou aan vertroue en omgewingsrentmees­terskap om seker te maak ons maat­skaplike inspraak word aanvaar. ’n Pasgemaakte ESG-padkaart stuur volhoubare praktyke, terwyl ons ons beywer vir klimaatsbeleid wat ESG-doelwitte ondersteun. Ons bevor­der volhoubare produksie en navor­sing om klimaatsverandering te bekamp en grond- en plantgesondheid te verbeter.

Graan SA fokus daarop om wetenskaplike vooruitgang in die graanbedryf te bevorder deur navorsingsinnovasie en -kapasiteits­ontwikkeling, insluitende aanpassing by klimaatsverandering, gewasverbetering, plantgesondheid, biosekuriteit en data-analise.

Ons moedig produsente – opkomend tot kommersieel – aan om van tegnologie gebruik te maak en bied opleiding, mentorskap, studiegroepe en platforms soos NAMPO en NAMPO Tech. SA Graan/Grain (Graan SA se maandelikse tydskrif) bly ’n betroubare hulpbron wat ingeligte insigte en praktiese advies bied.

Voorspraak, vennootskappe en kom­munikasie met ons lede en die bedryf is die kern van ons missie. Deur samewerking met die regering, die burgerlike samelewing en die landbouwaardeketting vorm ons beleid wat die graanbedryf laat vooruitgaan.

Ons bied omvattende ondersteuning rakende produksie, pryse, volhoubaarheid en marktoegang onder graaninligting, ekonomie en lede-ondersteuning, wat verseker dat ons produsente die nodige instrumente en insigte het.

Laastens bewerkstellig instaatstellingsdienste en organisatoriese ontwikkeling inklusiewe lidmaatskap, ’n gesonde werks­omgewing, finansiële stabiliteit, akkuraatheid van prosesse asook bestuursuitnemendheid om so die veerkragtigheid van die organisasie te verseker.

Graan SA fokus op deurslaggewende innovasiebane om langtermynmededingendheid en veerkragtigheid in die graanbedryf te verseker. Mensekapitaalontwikkeling deur middel van opleiding en die bou van vermoë is ’n prioriteit om ’n bekwame arbeidsmag te skep vir landbou-innovasie. Ons kweek die talent wat nodig is vir tegnologiese en operasionele vooruitgang in landbou.

Deur te belê in wetenskapkapasiteit en regulatoriese stelsels, hou ons Suid-Afrika mededingend as dit kom by genetiese ontwikkeling en teeltegnologieë. Ons datastrategie verbeter beleidsanalise, vereenvoudig regulasies en versterk besluitneming, wat doel­treffendheid in die graanbedryf verhoog.

Graan SA is daartoe verbind om ’n voor­spoedige toekoms vir graanprodusente in Suid-Afrika te bou, en so by te dra tot die land se sosio-ekonomiese groei. Ons belegging in mensekapitaal, regulatoriese vermoë en datagefokusde beleid sal ons lede mededingend, veerkragtig en volhoubaar hou vir toekomstige generasies.

Dankie vir julle deurlopende ondersteuning en toewyding tot ons gedeelde visie. Saam sal ons voortgaan om ons te beywer vir uitnemendheid in die graanbedryf en te verseker dat Suid-Afrika ’n dinamiese, voedselseker land bly.