Goud op die land

Gepubliseer: 11 November 2024

239

Beste Grootneef

Op die elementekaart is nommer 79 daaraan toegeken. Die chemiese term daarvoor is Au. Die Latynse term is aurum en wanneer dit direk vertaal word na Engels, is die letterlike vertolking shining dawn. Ou Neef, dit is die kleur van eerste lig in die ooste net voor die son sy kop uit­steek. Wanneer die patryse mekaar vroegoggend begin roep en die fyn takkies op gisteraand se hardekool begin smeul, kyk ooste toe! Jy sal beloon word met die skakerings van goud wat die nuwe dag aankondig.

Die ding van goud is dat dit nie sy glorie of glans verloor nie. Dit is die enigste metaal wat nie kan roes nie. ’n Kort videogreep van ’n verlore kruik wat in die Britse platteland gevind is, toon met die breekslag daarvan inhoud wat glinster. Goue munte uit die Romeinse era, met die glans van eerste lig asof dit gister versteek is.

Om te dink dat die kosbare skat waarskynlik sorgvuldig deur ’n Romeinse soldaat versteek is om later saam te neem huis toe. Wat van die naamlose eienaar geword het, kan ons maar net raai – eeue later het die goud in die kruik egter geen glans of waarde verloor nie.

Die eerste aantekening van goud wat ontgin en deur mense gebruik is, was ongeveer
3 000 v.C. in Egipte. Dit was egter net beskore vir die farao’s en priesters van die tyd. Dit het gou ’n statussimbool geword. In ongeveer 1 500 v.C. het Egipte goud verhandel en in ruiltransaksies begin gebruik. Almal wou ’n stukkie goud hê. Ongeveer 640 v.C. is die eerste goue munte in die koninkryk van Lydia gemaak – tans deel van Turkye. En so het goud van toeka tot nou deel van die mensdom se ekonomie geraak.

Ons lees ook van die wyse manne uit die Ooste wat met goud, wierook en mirre eer betoon het aan ’n besondere Kind wat in Betlehem gebore is.

In die Middeleeue het alchemiste in Europa en China hard gewerk om goud van lood te probeer maak. Beide metale is tog sag en swaar van aard. Vir baie jare is geswoeg om die droom na te jaag – rykdom sou oornag volg as lood na goud omgeskakel kon word. Nodeloos om te sê, dit was net nie moontlik nie. Net goud kan goud wees.

In die Suidland het die goudkoors ook hoog geloop. Wie eerste goud ontdek het, bly ’n debat. Welbekend is dat Pelgrimsrus in 1873 vir ’n stormloop gesorg het. Dan lees ’n mens ook van die twee broers uit Wallis wat in 1852 goud naby die destydse Paardekraal gevind het. ’n Klompie jare later in 1884 het Jan Gerrit Bantjes egter die groot rif op die plaas Vogelstruisfontein by die Witwatersrand ontdek. Daarna was daar geen keer nie, met hordes uitlanders wat toegesak het op Kimberley vir blink klippies en op die Rand vir die goue glinstering wat tussen die rotse verskuil was. Ons geldeenheid, die rand, verwys hoeka na die rykdom van goud wat aan die Witwatersrand ontdek is.

Die moderne Olimpiese Spele het weer in 1896 ’n aanvang geneem. Wenners is tóé beloon met medaljes van soliede goud. Inflasie het egter selfs die vinnigstes ingehaal – en van 1912 af is goudallooi gebruik om wenners te vereer. Atlete kan maar byt aan hul medaljes, daar gaan nie ’n merkie soos in egte goud gelaat word nie … In 2024 leef die Olimpiese mantra van citius (vinniger), altius (hoër) en fortius (sterker) steeds voort, met atlete wat vanjaar weer uitnemende prestasies behaal het.

Terug by ons boere in die Suidland. Die strawwe kompetisie internasionaal en harde klimaat plaaslik vereis van ons boere om vinniger, hoër en sterker as die res van die wêreld se produsente te wees. Soos net goud goud kan wees, kan net ’n boer ’n boer wees. Niemand kan van agter ’n lessenaar boer nie. Jy moet op die land wees, die grond ruik en na die wind luister as dit deur die mielieblare streel. Boere moet ook soos atlete die nuutste tegnologie najaag om seker te maak die tonne per hektaar is meer as bloot ’n gelykbreek.

Soos in die Bybelse tye, toe Josef se broers tydens die sewe maer jare se hongersnood koring in Egipte gaan koop het, so is stapelvoedsel, nes goud, vandag steeds die edelste van kommoditeite. Goud kan jy nie eet nie, vra maar vir Midas.

Boere is reg vir die wedloop van ’n nuwe plantseisoen. Sterkte manne! Mag die reën op die regte tyd val. Ons nasie het die kos wat julle uit die aarde losboer so nodig. Dit is goud werd.
Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.