Risiko van saadtekorte verg langtermynoplossing

Gepubliseer: 3 September 2024

120
Mariëtta Cronjé,
SA Graan/Grain-medewerker

’n Tekort aan kanolasaad vir die 2024/­2025-produksieseisoen, het weer eens die kollig laat val op die risiko om uitsluitlik op die beskikbaarheid van ingevoerde konvensionele saad vanuit Australië staat te maak,” sê Corné Louw, hoof van Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA.

Volgens Louw het die tekorte ontstaan omdat Australië beide konvensionele en geneties gemani­puleerde (GM) kanolasaad produseer. Dit het gelei tot ’n risiko van kruiskontaminasie van konvensionele saad wat vir die uitvoer na Suid-Afrika bedoel was. Slegs konvensionele kanolasaad is geregistreer om plaaslik aangeplant te word, dus het Suid-Afrika geen toleransie vir enige GMO-teenwoordigheid nie. Toetse wat in Australië uitgevoer is op die saad wat vir Suid-Afrika bestem was, het ’n lae vlak van minder as 0,1% GMO-teenwoordigheid getoon. Gevolglik kon die meeste van die saad wat vir Suid-Afrika bedoel was, nie uitgevoer word nie.

Corné Louw, hoof van Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA.

“Vroeg in Januarie, toe Graan SA van die kruis­kontaminasie verneem het, het ons dadelik met die Departement van Landbou oorleg gepleeg om ’n moontlike oplossing vir die probleem te vind. Die aangeleentheid is ook met die Registrateur van Geneties Gemodifiseerde Organismes opgeneem. Verskeie verslae en wetenskaplike studies van internasionale saadmaatskappye is ingedien, wat getoon het dat die risiko van die teenwoordigheid van laevlak-GMO-materiaal in die Australiese saad gering is,” sê Louw.

“Daar is ook uitgewys dat die wêreldnorm vir die teenwoordigheid van tot 0,9% GMO-materiaal in konvensionele kanolasaad as nie-GMO beskou word. Die departement was egter van mening dat daar slegs aan die hand van ’n plaaslike impakstudie ’n ingeligte en verantwoordelike besluit geneem kan word.

“Die gevolg was dat van die produsente gebruik moes maak van terughousaad wat die risiko inhou van ’n wesenlik laer en gevolglik minder winsgewende opbrengs. Produsente wat geen toegang tot saad gehad het nie, se kontinuïteit met hulle wisselboupraktyke is ook hierdeur beïnvloed, wat die plant van ’n alternatiewe gewas bemoeilik het,” sê Louw.

Hoewel Graan SA hierdie risiko al ’n geruime tyd binne die bedryf probeer oplos, is min sukses tot dusver behaal weens verskeie faktore waaronder die volgende:

  • In die verlede is gepoog om die seisoenale risiko rakende voldoende saadvoorraad in Suid-Afrika te verminder deur ook saad in Kanada te probeer vermeerder. Die proses was egter nie suksesvol nie as gevolg van probleme wat ondervind is met kruiskontaminasie en die feit dat kultivars vir die Suid-Afrikaanse mark in Kanada vermeerder moet word wat nie noodwendig daar aard nie.
  • Australië, aan die ander kant, handhaaf ooreenstemmende seisoene met Suid-Afrika vanweë sy posisie in die Suidelike Halfrond en hul planttyd volg kort op Suid-Afrika s’n. Gevolglik is die meeste van die konvensionele saadkultivars wat effektief in Australië gebruik word, ook geskik vir plaaslike produksie.
  • Dit het herhaaldelik gebeur dat saad teruggehou is om eers in die behoeftes van die Australiese mark, wat die afgelope dekade aansienlik uitgebrei het, te voorsien. Gevolglik kon die hoeveelheid saad wat dan vir uitvoer na Suid-Afrika beskikbaar was, nie altyd voorsien in die behoefte van die Suid-Afrikaanse mark nie. Produsente moes ook weens dieselfde rede dikwels tevrede wees met ‘n alternatiewe kultivar, tot nadeel van ’n potensieel hoër opbrengs. Die tydsduur wat dit dan geneem het om hierdie saad vanuit Australië te verskeep, veral met die Australiese seisoen wat effe later as ons s’n is, het ook daartoe gelei dat dit te laat vir planttyd in Suid-Afrika opgedaag het.
  • Australië se uitgebreide kanolasaadteelprogramme staan in kontras met die beperkte hulpbronne wat plaaslik in Suid-Afrika beskikbaar is. Saadmaatskappye was tot dusver huiwerig om saad in Suid-Afrika te vermeerder omdat hulle die mark as te klein beskou het. Die goeie nuus is dat die meeste maatskappye nou begin het om plaaslike vermeerderings te beproef.

Die plaaslike produksie van kanola het oor die afgelope paar dekades merkbaar uitgebrei (Grafiek 1). In 1998/1999 is 17 000 ha kanola geplant. Vir die 2024/2025-plantseisoen is die voorlopige area wat aangeplant is 146 200 ha, wat ’n toename van 760% aandui.

Vir die periode 1998/1999 tot 2023/2024 word gesien dat die land se totale vraag per jaar na kanola toegeneem het van 16 200 ton na 208 480 ton. Dit is ’n toename van meer as 1 000% oor ’n tydperk van 26 jaar.

Grafiek 1: Kanola: oppervlakte geplant, produksie en opbrengs.
Bron: Graan SA, 2024

Toekomstige opsies
Die kanolabedryf het egter nou drie opsies om die langtermynrisiko van ’n tekort aan saad te hanteer:

  • Die vinnigste opsie is dat die bedryf – met beter motivering en wetenskaplike bewyse – die Departement van Landbou weer eens kan versoek om die Wet op Gewysigde Organismes te verander ten einde saad met laevlak-GMO-teenwoordigheid vanaf Australië in die toekoms toe te laat.
  • Alternatiewelik kan ’n formele aansoek by die Registrateur van Geneties Gemodifiseerde Organismes ingedien word om die produksie van ingevoerde GMO-kanolasaad in Suid-Afrika goed te keur. Om toestemming in hierdie verband te verkry kan egter tot vyf jaar neem as gevolg van die vereiste impakstudie op die omgewing en menslike verbruik wat sodanige aansoek moet vergesel.
  • Die laaste opsie is vir saadmaatskappye om plaaslike vermeerdering van nie-GMO-kanolasaad gunstig te oorweeg. Daar is inderdaad al begin met sodanige produksie. Maatskappye wat verantwoordelik is vir saadvermeerdering in Australië is plaaslik goed verteenwoordig, wat so ’n onderneming vergemaklik.

“Graan SA bepleit al vir etlike jare die laasgenoemde roete van plaaslike saadvermeerdering as ’n oplossing. Dit word ook op lang termyn as die goedkoper opsie beskou. Graan SA sal gevolglik voortgaan om deur volgehoue oorlegpleging met die relevante rolspe­lers sy lede se saak in dié verband te bevorder ten einde ’n bevredigende en langtermynoplossing te vind,” sê Louw.

“Vir die huidige kan produsente egter moed skep. Tydens die onlangse besoek deur die afvaardiging van Graan SA-lede aan Australië waarvan ek deel was, is samesprekings in diepte met rolspelers binne hul saadbedryf gevoer vir moontlike oplossings oor die probleme wat Suid-Afrika in die verlede met die verskaffing van ingevoerde kanolasaad ervaar het.

“Daar was nog altyd ’n goeie verhouding tussen Australië en Suid-Afrika in hierdie verband en tydens die besoek is dit herbe­vestig. Toekomstige saadvoorrade na Suid-Afrika behoort aansienlik minder probleme en vertragings te ervaar danksy hierdie onlangse interaksie. Ons moet egter steeds alle opsies bly ondersoek om toekomstige risiko’s van ’n tekort aan kanolasaad in Suid-Afrika aan te pak,” sê Louw.

Kanolawerkgroep
“Die tekorte en probleme met die tydige verskaffing van kanola­saad die afgelope paar seisoene was frustrerend gewees. Dit het ’n direkte impak op die winsgewendheid van die kanolavertakking gehad,” sê Franco le Roux, ondervoorsitter van Graan SA se Kanolawerkgroep.

“Alhoewel dit vir produsente voel of hulle in ’n doodloopstraat is, bly dit belangrik om ten volle op hoogte te wees van die poten­siaal en eienskappe van verskillende kultivars. Indien produsente nie opsie een of twee kan kry nie en iets anders aangebied word, moet hulle ingeligte besluite kan neem om die beste van ’n slegte saak te maak. Verder moet ’n produsent sy saad vroegtydig bestel en ge­reeld in kontak wees met die instansie waar die bestelling geplaas is. Sodoende kan hy vinnige besluite neem, sou dit blyk dat daar probleme is met die voorsiening van sy saad.

“Ek is egter optimisties dat verskaffers vorentoe die probleme met kruiskontaminasie gaan uitskakel. Alhoewel ons afhanklik van Australiese produksie is, het die besoek aan Australië in 2023 die denkwyse in die vermeerderingsproses daar begin verander. Ongelukkig neem dit twee jaar of langer om produksieareas te skuif ten einde risiko’s van besmetting te verminder,” sê Le Roux.

Volgens Koos Blankenberg, voorsitter van Graan SA se Kanolawerkgroep, sal die risiko van ’n kanolasaadtekort in Suid-Afrika slegs opgelos wees as daar plaaslik ’n voldoende hoeveelheid kanola­saad geproduseer word.

“Met die aansienlike uitbreiding van die Australiese kanola­produksiemark sal die risiko van ’n saadtekort vir uitvoere na Suid-Afrika altyd in die pyplyn bly. Dit is dus ’n riem onder die hart dat plaaslike saadmaatskappye met die produsering van kanolasaad begin het. Ons as werkgroep sal saam met die Graan SA-personeel die bevordering van sodanige plaaslike saadproduksie bly dryf ten einde in die toekoms die afhanklikheid van ingevoerde kanolasaad so ver as moontlik te beperk,” sê Blankenberg.