02/08/2024
Gedurende die vroeë 2000’s was Suid-Afrika in staat om self te voorsien in die meerderheid van ons plaaslike koringvraag, soos gesien in Grafiek 1. Hierdie selfvoorsiening het egter beduidend afgeneem oor die afgelope dekade – met invoere wat gevolglik aansienlik toegeneem het.
Daar is verskeie redes hiervoor, maar een van die grootste bydraers is die afname in plaaslike mededingendheid as gevolg van koringinvoere uit hoogs gesubsidieerde lande. Die vraag word gereeld gevra: Wat beteken dit vir Suid-Afrika se produsente?
Dit beteken in wese dat buitelandse produsente se produksie as gevolg van subsidie-ondersteuning meer finansieel haalbaar kan wees as Suid-Afrikaanse produsente s’n en ook risiko’s meer doeltreffend kan absorbeer. Daar was dus ’n behoefte om die plaaslike koringbedryf te beskerm, maar – meer belangrik – ’n behoefte om ’n blaaskans te bied om in navorsing en ontwikkeling te belê om die bedryf te laat herleef. ’n Invoertarief op koring is gevolglik in plek gestel om in dié behoeftes te voorsien.
Wat is die koringtarief tans?
Vir die koringtarief om in die Staatskoerant gepubliseer te word, moet ’n klompie dinge in plek val. Die internasionale koringprys moet met ’n drieweek- bewegende gemiddeld onder die amptelike verwysingsprys van $279/ton verhandel om die aankondigingsproses aan die gang te sit.
Die invoertarief op koring word bereken deur ’n veranderlike formule wat verseker dat bewegings in markte in ag geneem word. Die veranderlike formule neem onder meer ’n verwysingsprys, ’n vervormingsfaktor en vervoerkoste in ag:
- Verwysingsprys: Hierdie komponent bestaan uit ’n vyfjaargemiddeld van die internasionale koringprys. Die US No. 2 HRW-prys word as verwysing gebruik. Die Amerikaanse koringprys dien as verwysing omdat dit ’n vergelykbare kwaliteit teenoor Suid-Afrikaanse koring bied.
- Vervormingsfaktor (distortion factor): Dit is die subsidie-effek op die internasionale markte. Elke land het ’n produsente-ondersteuningskatting (PSE) wat deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) bereken word. Die PSE-persentasie word dan bereken in terme van ’n geweegde gemiddeld volgens die lande waaruit Suid-Afrika die afgelope vyf jaar ingevoer het. Die faktor neem slegs die lande in ag waarvandaan ons invoer en is gebaseer op statistiek van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS).
- Vervoerkoste: Dit is ’n normale aftrekking van vervoerkoste om ’n plaaslik gelande prys te bepaal.
Aan die begin van April 2024 het die daling in internasionale koringpryse daartoe gelei dat die drieweek- bewegende wêreldverwysingsprys (US No. 2 HRW) onder die oorspronklike verwysingsprys ($279/ton) verhandel het. Dit het tot gevolg gehad dat ’n invoertarief van R176,29/ton in plek gestel moes word.
Daar word gereeld gevra of die aankondiging van ’n invoertarief daartoe sal lei dat plaaslike koringpryse styg. Wanneer ’n tarief ingestel word, is die enigste uitwerking dat invoere dan slegs teen die $279/ton-vlak kan plaasvind. Dit beteken dat goedkoper koring teen die verwysingsprys ingevoer moet word.
Die proses om ’n koringtarief in die Staatskoerant te publiseer kan beskryf word as administratief uitgerek en dit skep onsekerhede in die mark. Wanneer ’n tarief inskop, moet dit deur verskeie regeringsdepartemente goedgekeur word. Hierdie proses neem ’n gemiddeld van 44 dae – of ’n tarief nou opwaarts of afwaarts aangepas word. Die instelling van die R176,29/ton-tarief het ongeveer 78 dae geduur. Die volgende tarief van R421,95/ton wat reeds op 2 Julie ingeskop het, was met die skryf van hierdie artikel nog in die proses om aangekondig te word.
Produsente kan hulself op hoogte hou van koringinvoertariefbewegings deur op die skakel te kliek https://www.sagis.org.za/import_tariffs.html.
Wat om in die toekoms te verwag?
Met die sloer van die aankondigingsproses word daar onsekerheid in die mark geskep (wanneer ’n tarief ingeskop het, maar nog nie aangekondig is nie). Graan SA, tesame met ander bedryfsrolspelers, het ’n voorstel aan die Internasionale Handelsadministrasiekommissie (ITAC) gemaak om die aankondigingsmetodiek te hersien.
Daar is versoek dat die implementering en aankondiging van die tarief verander word om soortgelyk te wees aan die maandelikse aankondiging van die brandstofpryse deur die Sentrale Energiefonds (SEF).Die SEF is die aangestelde, onpartydige liggaam wat verantwoordelik is vir die berekening van die maandelikse brandstofprys. Die SEF lê hul berekende prys aan die relevante strukture voor om maandeliks in die Staatskoerant gepubliseer te word. Die brandstofprys word dan in die Staatskoerant geplaas om op die eerste Woensdag van elke maand van krag te wees. So ’n metodiek sal tot gevolg hê dat die mark kan beplan rondom die aankondiging van die invoertarief.
Hierdie aansoek by ITAC was tweevoudig: Daar is ook aansoek gedoen om die basisverwysingsprys te hersien. Volgens verslagnommer 538 van 2016 het ITAC aanbeveel dat die basisverwysingsprys elke derde jaar hersien moet word. Hierdie hersiening neem veranderings in internasionale koringpryse, die vervormingsfaktor, invoere vir Suid-Afrika, ’n reële wisselkoers sowel as vervoerkoste in ag. Met internasionale koringpryse wat die afgelope vyf jaar groot opwaartse en afwaartse skuiwe getoon het, beskou Graan SA dit as noodsaaklik om die basisverwysingsprys te hersien om sodoende so naby as moontlik aan die realiteite van die mark te kom. Grafiek 2 gee ’n grafiese voorstelling van internasionale koringprysbewegings sedert 2019.
Die aansoek, wat aanpassings aan beide die basisverwysingsprys en aankondigingsmetodiek voorstel, is in Junie 2024 aan ITAC oorhandig en terugvoer word afgewag.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.