Daar is geen twyfel oor die ekonomiese bydrae wat landbou ten opsigte van voedselsekerheid en werkskepping in Suid-Afrika lewer nie. Tog word die landbousektor voortdurend deur uitdagings in die gesig gestaar.
Onlangs het die El Niño-weerverskynsel, met uiters hoë temperature en lae reënval in Februarie en Maart, ’n groot impak gehad op gewasse, veral in die Vrystaat. Buiten die gevolglik swakker oeste het koste, inflasie en rentekoerse die hoogte ingeskiet en kommoditeitspryse kon nie altyd tred hou nie. Produsente met ’n veekomponent ondervind ook uitdagings soos bek-en-klouseer en ’n afname in verbruikersaanvraag wat die bedryf negatief beïnvloed.
Dit laat produsente met groot onsekerheid oor hul landbouvooruitsigte, veral met die bestaande druk van hoë skuld. Bedryfskapitaalreserwes is uitgeput, en in die meeste gevalle is eksterne finansiële bystand nodig. Vooruitskattings dui verder daarop dat ekonomiese groeikoerse in die afsienbare toekoms steeds onder druk gaan wees. Korttermynoplossings is dus nie die antwoord nie.
Wat staan produsente te doen in onsekere tye?
Dit is belangrik dat produsente hulle huidige posisie realisties evalueer.
In gevalle waar die finansiële las die boerdery se terugbetalingsvermoë oorskry, kan kapitaal uit niefinansieringsbronne bekom word, soos om onnodige of luukse bates te verkoop. ’n Ander opsie sou wees om ’n kapitaalvennoot te betrek, wat help om hoë rentekoerse te verlaag. In uiterste gevalle kan dit egter ’n herstrukturering van die besigheid noodsaak.
Wanneer dit by finansiering kom, is behoorlike finansiële administrasie en rekordhouding uiters belangrik om doeltreffende kostebeheer toe te pas. Noukeurige beplanning en realistiese projeksies van inkomste en uitgawes is noodsaaklik om voorbereid te wees. Moontlike uitdagings kan dan ook vroegtydig identifiseer word.
Banke bied verskeie opsies om produsente in onsekere tye by te staan, soos verlengde betalingsplanne vir termynskuld en batefinansiering, oorbrugging van bedryfskapitaaltekorte en moontlike moratoriums met uitgestelde kapitaalbetalings waar jy slegs rente betaal. Dit moet egter proaktief gedoen word omrede opsies beperk is sodra skuld agterstallig geraak het.
Primêre produsente is meestal prysnemers en dra al die risiko. Verskansing is wel moontlik, maar dit bied dikwels beperkte beskerming. Produsente moet dus die volhoubaarheid en winsgrense van die besigheid analiseer en alternatiewe oorweeg en ondersoek. Betrokkenheid in die waardeketting en die integrasie van beperkte hulpbronne kan groter sekerheid en winsmarges bring.
Die ander opsie is samewerkingsooreenkomste om ’n laer risikoprofiel te verseker. Hierdie oorwegings impliseer groot strategiese skuiwe wat in ’n weldeurdagte en omvattende besigheidsplan omskryf moet word. Goed geformuleerde en duidelike doelwitte is noodsaaklik vir enige sakeplan. Dit bied leiding in daaglikse operasionele besluitneming en finansiële beplanning.
Al hierdie opsies moet egter binne die finansieringsraamwerk verstaan word.
Die Nasionale Kredietwet
Die Nasionale Kredietwet speel waarskynlik die grootste rol wanneer landboukrediet verleen word, aangesien die meeste primêre landboubesighede in die produsent se individuele hoedanigheid bedryf word. Die wet is van toepassing op alle individue, en in sommige gevalle ook trusts en regsentiteite.
Dit stel streng vereistes aan finansiers ten opsigte van aansoekers se betaalvermoë. Nienakoming van die vereistes kan tot wesenlike verliese vir banke lei. Daarom reken banke op historiese inligting en vooruitbeskouings. Aansoekers moet dus seker maak dat hulle inligting akkuraat en realisties is.
Banke in Suid-Afrika word verder deur twee belangrike raamwerke gereguleer: die Bankwet van 1990, wat maatskappye wat deposito’s van die publiek aanvaar en hou reguleer, asook Basel III (internasionale regulasies) wat op kapitaaltoereikendheid en die likiditeit van banke fokus. Hierdie raamwerke skep die finansieringsomgewing waarbinne banke moet funksioneer.
Entiteite
Volhoubaarheid en die kontinuïteit van boerderye oor generasies heen is van kardinale belang. Swak beplanning of verkeerde regstrukture binne die besigheid kan dit in die wiele ry.
Besluite moet altyd binne die groter raamwerk van boedel- en kapitaalwinsbelasting geneem word. Met behoorlike finansiële beplanning kan wesenlike belastingverpligtinge vermy word sonder om kernbates te verkoop wat die voortbestaan van die boerdery in gedrang kan bring.
Dit is belangrik om advies van geakkrediteerde finansiële beplanners en ouditeure
in te win.
Ten slotte
Een finansieringsoplossing gaan nie noodwendig vir alle besighede werk nie. Omstandighede, bates, bestuursvermoë en die potensiaal van besighede verskil. ’n Gesonde beginsel is om liewer vroeër as later met jou finansieringsvennoot te gesels om seker te maak jou sake is orde. Die onsekere tye wat ons tans beleef, is dalk nié so onseker nie. Solank besighede aanpasbaar is, is volhoubaarheid en ’n nalatenskap moontlik.